Hoekom Kazakhstan?

Goeie vraag. Toe my man, Martiens, in Januarie 2019 die werksaanbod gekry het, het ons nie eens geweet waar Kazakhstan is nie. Hoe meer ek opgelees het, hoe minder wou ek kom. Die temperatuur wissel tussen 46 0C en -460C. In Öskemen (Kazakh) of Ust’- Kamenogorsk (Russies), die stad waar ons sou gaan woon, was dit -38 0C toe ons gekyk het. Manlief was opgewonde, ek prakties. Ons moes kom toets of ons in temperature twee keer laer as dié van ’n vrieskas kan oorleef. Die kwik het einde Januarie tot -38 0C gedaal en ons het nie in yspilare verander nie. Ons kinders het die groen lig gegee, die wit sprokieswêreld het my gelok en ons het die Wes-Rand gegroet. Ons het in Junie 2020 na Almaty, die vorige hoofstad, verhuis. Die huidige hoofstad is Nur-Sultan (voorheen Astana). Almaty is 1000km suid van ons vorige tuiste, ’n eeu jonger, modern en net so skoon soos die 300jaar oue Öskemen. Dit is die grootste stad in Kazakhstan en die kulturele bakermat.

By die Alakolmeer naby Almaty, een van vele in die land. FOTO Verskaf

Werk jy ook daar?

Ek is ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat en fokus op die gebruik van tegnologie om onderrig en leer te bevorder. Ek tree ook as eweknie-evalueerder vir nasionale en internasionale vaktydskrifte op. Dus kon ek maklik oppak en saamgaan. Ek blog ook op christavanstaden.com en het so deel geword van ’n groep bloggers, “Die Goue Vroue”, wat saam vervolgverhale skryf.

Hoeveel nasionaliteite is daar?

Die bevolking bestaan hoofsaaklik uit Kazakhs (67,5%) en Russe (19,8%) met twee amptelike tale, Kazakh en Russies. Engels is ’n vreemde verskynsel. Ons praat sommer Afrikaans, wat nogal baie raakpunte met Russies het. Inkopies was aanvanklik ’n nagmerrie met die vreemde etikette, maar ons is nou al gekonfyt. In Öskemen was uiteet ’n jaar later steeds uitdagend. Ons maak op ons vertaal-apps staat om seker te maak dat ons nie perdevleis inkry nie. Baie van die restaurante in Almaty het Engelse spyskaarte, dus voel ons bederf.

Sonsondergang oor die Charyn-canyon. FOTO Getty Images / Gallo Images

Vertel oor die wilde perde.

Tot onlangs is geglo dat die Przewalski’s in Kazakhstan die enigste wilde perde is wat in die natuur oorleef het. Hierdie perde is in 1969 as uitgesterf verklaar, maar daar is sowat 2000 oor. Nuwe navorsing toon egter dat die Przewalski’s afstammelinge is van die makgemaakte Botais wat 5 500 jaar gelede as voedsel en ryperde in die noordelike dele gedien het. Tans word aanvaar dat die Przewalski’s Botais is wat ontsnap het om in die natuur te gaan oorleef.

Kom appels oorspronklik van Kazakhstan?

Navorsing toon dat alle appels op aarde teruggespeur kan word na die wilde appelbome wat in die Alatauberge rondom Almaty groei. Almaty se Russiese naam (Alma-Ata) beteken “vader van appels” en die Kazakh-naam (Almaty) beteken “appelagtig”. Albei verwys dus na die appels in die berge om Almaty. Appels, soos ons dit ken, is egter verlangse afstammelinge hiervan omdat variëteite gekweek word om aan spesifieke smaakvereistes te voldoen. Kazakhstan kan maar as die land van appels bekend staan. Ek het nog nooit sulke lekker Granny Smiths, Golden Delicious- of rooi appels geëet nie.

Waaraan kan jy nie gewoond raak nie?

Daar is min dinge waaraan ’n Suid- Afrikaanse vrou wat op ’n plaas grootgeword het, nie gewoond kan raak nie, maar ek noem tog ’n paar. Nommer een is die koue. In  Öskemen het ons ses maande lank in ’n yskoue wêreld geleef. Jy loop heeltyd bo-op ys en kan maklik gly en val. As dit kouer as -15 °C was, het ek tuis gebly omdat ek ligte vriesbrand in al tien vingerpunte opgedoen het toe ek ses foto’s in -28 °C gaan neem het. My vingers was skielik persrooi en dit was twee maande lank te seer om te tik. My Russiese vriendin het my daarna ’n tender African flower genoem, maar bygevoeg dat sy nie uitgaan as dit so koud is nie. Ek kla nie, dit is ’n pragtige w.reld. Vir my het Kazakhstan silwer in die oggendstond omdat die yskristalletjies in die sneeu skitter as die son daarop skyn. Ek gaan die sneeu mis, nie die koue nie. Nommer twee is vleiskoop. Hier kry jy nie slaghuise nie, bees-, skaap-, perd- en varkvleis word op markte verkoop. Beesvleis word met byle in twee onbekende snitte gekap. Ons koop die ronde stuk, die ander een is baie taai. Dan moet ek al die beensplinters met ’n mes afskraap om seker te maak dat ons tande nie breek nie. Daarna toets ek die sagtheid van die vleis met my Victorinox-messie. As my mes deurgly, word die vleis in blokkies gesny vir sosaties of in repe vir biltong. Die res word saam met varkvleis gemaal om ons eie wors te maak met derms en speserye van Suid-Afrika. In Almaty kan ons darem by Metro vleis koop wat soos steak lyk en in porsies gesny is. Nommer drie: Die brood op die rakke is reeds oud. Ek het gelukkig my Thermomix saamgebring, sy knie deeg in drie minute en dan bak ek my eie brood.

Die koepels van die Ortodokse Katedraal in Almaty. FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat gaan jy mis?

Die land is baie skoon. Ons kan in die middel van die nag in die middestad met ons fone in ons hande loop sonder om te vrees dat ons beroof sal word. In my kas is daar meer as 40 soorte tee, ’n druppel van wat hier beskikbaar is. En Terraflue wat korte mette van griep maak. Mense is baie wetsgehoorsaam. Daar mag geen druppel alkohol in motoriste se bloed wees nie. Voetgangers sal sonder om links of regs te kyk by voetoorgange oorstap – motors moet stop.

Kazakhstan het geen see nie?

Die land het geen oseaan nie, maar grens aan twee binnelandse seë, naamlik die Kaspiese en Aralsee. Dit is die grootste ingeslote land en die negende grootste land ter w.reld. Hier is ’n oorvloed mere en inwoners verwys na die oewers as die “beach”, pragtig blou en silwerskoon. Die taxi’s is . . . Wonderlik en goedkoop. Ons gebruik Yandex of Aparu omdat die apps vir hulle presies wys waar ons staan en wag. Intussen het ons ’n motor tweedehands gekoop, waarvoor ons ’n ruk lank moes spaar omdat motors kontant gekoop word. Die treine, busse en trems is darem ook volop, goedkoop en betroubaar.

Daar is glo baie jong mense?

Ná onafhanklikheid van Rusland het ’n ontploffing plaasgevind. Die gemiddelde ouderdom is 30,7 jaar. Skole bars uit hul nate en in Öskemen kan kinders kies of hulle soggens of smiddae skool toe gaan.

Photo taken in Almaty, Kazakhstan
Lugfoto van Almaty met die Alatau-berge op die agtergrond. FOTO Getty Images / Gallo Images

Is huisvesting duur?

Huur is relatief goedkoop in Öskemen, so R7 000 per maand. In Almaty begin pryse by R18 000 vir ’n gemeubileerde tweeslaapkamerwoonstel, water en ligte, TV, internet en verwarming ingesluit.

Kom jy terug Suid-Afrika toe?

Ja, beslis. My kinders, kleinkinders, ouers, susters, vriende en drie honde wag vir my. Ek verlang verskriklik na hulle.

* Christa en haar man het sedert haar e-pos weens die coronaviruspandemie na Suid-Afrika teruggekeer om nader aan hul familie te wees.