Die brood kry sy swart kleur van geaktiveerde steenkoolpoeier.

Swart brood met knoffelbotter

KOS
FOTO Michael le Grange

genoeg vir 6

Gismengsel

  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 250 ml louwarm water
  • 10 g-sakkie kitsgis
  • 45 ml geaktiveerde steenkool- poeier, opsioneel (kyk by apteke of gesondheidswinkels)

Brood

  • 500 g (875 ml) koekmeel
  • 200 ml louwarm water
  • 10 g sout
  • 45 ml heuning

Botter

  • 230 g (250 ml) sagte botter
  • 1 bol swart knoffel, huisies uitgehaal (of 2 huisies gewone knoffel, baie fyn gekap)

Gismengsel. Plaas al die bestanddele saam in groot mengbak en meng tot glad. Maak bak toe met kleefplastiek en laat oornag in yskas rus – dié proses is wat al die geur aan die brood gaan gee. Bak nou die brood. Plaas gismengsel in elektriese menger se bak. Voeg broodbestanddele by en meng met K-spaan tot sagte deeg vorm. Hou aan met meng vir sowat 8 minute – die deeg is baie sag, maar hoe langer dit staan, hoe meer vorm kry dit. Plaas deeg in groot bak wat met olie gesmeer is. Laat rys op warm plek vir sowat 60 minute tot dubbel die volume. Knie af en laat rys weer. Wanneer brood halfpad gerys het, verhit oond tot 220°C en plaas ’n groot gietysterpot met ’n deksel in die oond sodat die pot warm raak saam met die oond. Vorm deeg in groot bal. Verwyder warm pot uit oond en spuit met kleefwerende kossproei. Plaas deegbal in pot en sit deksel op. Plaas in oond en bak 20-25 minute of tot brood deurgaar en bros is. Laat afkoel. Botter. Meng alles vir die botter saam en sit voor saam met die brood.