In sy heel eerste woorde wat in SARIE verskyn het, het Herman Lensing hulde aan sy ma gebring. “Solank ek kan onthou, het ek saam met my ma in die kombuis, op ’n stoel, gestaan en kook.” Só het hy hom in die November 2009-uitgawe as nuwe kosredakteur van SARIE voorgestel. 

Sy kosdrome het sedert daardie eerste artikel tien jaar gelede vlerke gekry, maar sy voete het op die stoel in sy ma se Kalahari-kombuis geanker gebly. Kyk maar na enige onderhoud of artikel, sy verskeie kookboeke en TV-programme, en daar tref jy Susan Lensing aan, in verwysings na die geure van sy grootwordhuis, na hoe haar kombuis altyd vir almal oopgestaan het, in resepname soos “my ma se semelbeskuit”, “my ma se grenadella-kaaskoek” en “my ma se pampoenkoekies”.

Ja, Herman maak kos met oorgawe en liefde, gedryf deur sy ma se filosofie: “Ons kan die wêreld mooi maak, een bord op ’n slag.”

Toe kom die nuus begin vanjaar dat Susan oorlede is. Herman moes afskeid neem van sy grootste inspirasie, die persoon wat hy die middelpunt van sy bestaan genoem het.

Hoe doen ’n mens dit? Vir Herman deur weer die geure van húis te proe. Hy het sy ma gaan soek in haar resepteboeke, en elke handgeskrewe resep begin oorskryf en kook. Hoenderpastei, cremoratert, rysfrikkadelle, lemoen-en-papawerkoek ... Met elke happie en proesel van haar kos het hy haar liefde en troos gevind.

“Ek moes iets vind om te help met die genesing van die pyn. Kos is my genesing. Stories vertel is my pleister en my vriende is my medisyne. Ek het al drie gekombineer vir hierdie ‘gesondword’. Ek reken wel ek moet dit konstant toepas, want ek kan nie dink dat die pyn ooit sal verdwyn nie.”

In sy nuwe boek, Dit proe soos huis, vat hy hierdie genesingsproses saam in woord en in beeld. Die prentjiemooi boek nooi jou terug na Susan Lensing se kombuis, waar koningskos uit eenvoudige bestanddele gemaak is. Geregte wat die inleiding was tot baie stories, die resultaat van baie liefde en die oorsaak van baie verlange.

Die boek vlieg van die rakke af, want ’n mens kan nie net een koop nie. Die eerste eksemplaar is ’n leesboek vir die stories en die tweede gaan na die koffietafel vir die mooi. Die derde rus tussen meel en eiers langs die stoof, want dié resepte wil jy maak. Die bestanddele is in jou koskas, niks verg moeite of vreemde metodes nie, en die resultaat is ’n lekkerte wat getuig van liefde en troos.

En bladsy ná bladsy van ikoniese resepte, nostalgiese stories en die allermooiste foto’s en stilering loop jou gedagtes terug na jou eie ma se huis. Jy staan weer op die stoel in haar kombuis, jy sien hoe borde na die eetkamer sweef, jy is weer om die tafel saam met vriende en familie. Jy ken dié kos, dit proe soos huis.

*Dit proe soos huis is by die meeste boekwinkels te koop, maar jy kan dit ook aanlyn bestel op Takealot.

Dit proe soos huis
Dit proe soos huis