Herman Lensing bring hulde aan sy ma met sy nuwe kosprogram, Dit proe soos huis. Deur haar resepte probeer hy troos vind en herontdek die smake en geure van sy grootwordjare. Hy kook ook saam met ander bekendes wat hul onthou-stories en nostalgiese geregte deel. Hier deel ons die bobotie uit episode 3.

Dié week kuier die aktrise, regisseur en skrywer Margit Meyer-Rödenbeck by Herman Lensing op 'n plaas net buite Malmesbury. Saam maak hulle kos wat proe soos huis, soos Margit se geurige bobotie. 

Margit se bobotie SKERMGREEP uit “Dit proe soos huis”.

Margit se bobotie

  • 40 ml botter
  • 1 groot ui, gekap
  • 2-3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 30 ml matige kerriepoeier
  • 10 ml fyn borrie
  • 60 ml suurlemoensap
  • 1 kg beesmaalvleis
  • 2 snye witbrood, in ’n bietjie melk geweek
  • 1 Granny Smith-appel, geskil en gerasper
  • 1 ryp piesang, fyngedruk
  • 100 ml witwyn
  • 125 ml pitlose rosyne
  • 45 ml appelkooskonfyt
  • sout en varsgemaalde peper

Eiervla

  • 3 eiers
  • 250 ml melk

Verhit oond tot 180 °C. Verhit botter in groot oondvaste pan tot warm. Braai uie en knoffel in warm olie tot uie deurskynend is. Voeg kerriepoeier, borrie en suurlemoensap by en meng deur. Braai tot geurig. Voeg maalvleis by, meng goed en verbruin. Giet melk van brood af (hou ekstra melk vir vla), druk fyn en meng deur maalvleismengsel. Voeg appel, piesang, wyn, rosyne en appelkooskonfyt by.

Skep mengsel in oondbak sodat dit effens hoër is in die middel en eiervla aan die kante kan opdam. Klits eiers en melk saam vir vla en giet oor maalvleis. Bak 30-40 minute in verhitte oond tot vla gestol het.