Ons gesels met Carel oor sy gunsteling ontbytgereg en 'n kombuis wat sinmaak. 

KOS
Die akteur, Carel Nel. FOTO VIA

1. Eet jy graag ontbyt of slaan jy dit gereeld oor?

Ek hou baie van ontbytkos maar ongelukkig is ek nie rêrig 'n oggend mens nie, so ek slaan nogal gereeld onbyt oor. Ek weet dis nie baie goed vir my nie so ek probeer nogal hard om dit te verander. 

2. Wat is jou gunsteling ontbytgereg?

Ek hou van die klassieke spek, eiers en toast. Omdat ek van die Vrystaat af kom is ek ook mal oor mieliepap met melk en suiker en as jy jouself rêrig wil bederf gooi jy so paar stukkies biltong daarby.

3. Het jy al ooit vantevore ’n eier in die mikrogolf gekook?

Ek het nog nooit self dit gedoen nie, maar toe ek en Wilhelm van der Walt studente was het hy gereeld eier in sy mikrogolf gemaak. Dit was aaklig en het vir my soos 'n stuk rubber gelyk, ek kon dit nooit eet nie en kon nie verstaan hoe hy dit by sy keel af kry nie. Ek spot hom nou nog daaroor.

4. Het jy jou tyd op die program geniet? Het jy iets nuuts by Herman geleer?

Ek is mal oor Herman. Hy is 'n wonderlike mens met 'n ongelooflike goeie hart en 'n fantastiese kok so dit was 'n great ervaring om hom in aksie te sien. Ek het nogal altyd net my mikrogolf gebruik om oorskietkos warm te maak, maar nadat ek op die program was, was ek verstom deur hoeveel meer moontlikhede daar is om op 'n baie eenvoudige, maklike manier, vinnig kos in die mikrogolf te kan maak

5. Jy kan een bekende oornooi vir ontbyt. Wie sal dit wees en hoekom?

Daniel Day-Lewis. Hy is my gunsteling-akteur so ek sal graag by hom 'n paar tips wil kry, maar dan sal ek hom ook wil oortuig om uit aftrede uit te kom om nog 'n paar flieks te maak. Dit is vir my baie hartseer dat hy nie meer wil toneelspeel nie.

6. ’n Kombuis moet altyd...

Sinmaak. Dit klink dalk vreemd, maar ons het onlangs ons kombuis oorgedoen en eweskielik maak alles sin. Die asblik is waar jy dink hy gaan wees. Die laai met messe en vurke is naby aan waar jy kosmaak, alles maak net sin. Dit is nou my gunsteling spasie in ons woonstel.

Blitsvrae met Carel

Roereier of gebakte eier? Gebakte eier

Ontbyt of aandete? Ontbyt

Gunstelingfliek? There will be Blood

Rys of pasta? Pasta

Oggend of aand? Aand

Resep uit VIA-episode

Shakshuka op my manier

KOS
FOTO VIA

My weergawe van hierdie gier het ’n Spaanse geurtjie.

Genoeg vir 4-6

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisie, gekap
  • 250 g spekblokkies
  • 225 g chorizowors, in skyfies gesny
  • 10 ml heel komyn
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 2 blikke gekapte tamatie
  • 30 ml gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 6 eiers
  • 1 hand vol vars koljander, gekap

1. Mikrogolf olie, uie, knoffel, spek en chorizo in mikrogolfbestande bak vir 2-3 minute op hoog.

2. Haal uit en voeg komyn, soetrissie, tamatie en paprika by en mikrogolf weer vir 10-15 minute – roer elke 2 minute. Geur goed met sout en peper.

3. Haal dit uit die mikrogolfoond en breek die eiers in die sous. Mikrogolf verder vir 2-3 minute vir sagte eiers. Sit voor met ’n hand vol vars koljander.

Kry die episode se volledige resepte op VIA se amptelike blad - Klik hier