In dié episode kook Herman en sy gas, die aktrise, Carla Smith, Italiaans.
Ons gesels met Carla oor pasta, haar liefde vir agurkies en Italië.
1. In hierdie episode maak jy en Herman risotto, bolognaise en ’n malvapoeding met Italiaanse geure. Is jy lief vir Italiaanse kos?
Dis my letterlike, absolute gunsteling-kos. Alles van dit is fantasties – die kaas, die meel en die olyfolie!
2. Wat was jou gunsteling-oomblik op die stel van Herman se mikro-geheime?
Die dele wat die kamera nie aan was nie, want dan kon ek my vingers in die kos gedruk het [lag]. En dit was so lekker om saam met Herman simpel te wees. Ek het hom so, so lief. Wat ’n ongelooflike mens.
3. Jou gunsteling peuselhappie...
Oe, dadels. Dis vir my baie lekker en ek is veral lief vir die Medjool-dadels. Ek kan wel nie baie soetgoed eet nie, so wanneer ek klaar iets soets geëet het, móét ek iets souts eet. Dan is ek verskriklik lief vir enigiets wat gepekel is – uie, aspersies en argukies. Jy kan my nie van ’n agurkie af weghou nie.
4. As jy ’n Italiaanse dis was, wat sou jy wees?
’n Sicilian pizza! En spesifiek die een van die restaurant, Rome in a Bite, in Stellenbosch. Dit het olywe, capers en ansjovis op. So vegetaries soos wat ek is, kan jy nie ansjovis by my verby kry nie. Oe, ek sal deurry Stellenbosch toe net vir daardie pizza.
5. Het jy al Italië besoek en as nie, sal jy graag wil?
Ek was daar toe ek baie klein was, maar ek kan niks van dit onthou nie. Nou is dit amper nommer een op my lys van plekke wat ek graag wil besoek. My sussie was daar vir ’n oorbuggingsjaar en dit was vir haar net gelato, pizza en melerige-heerlikheid. Ek wil dit ook beleef.
Pasta of brood? Pasta
Rooiwyn of gin? Rooiwyn
Aand tuis of aand uit? Dit hang af!
Lees of televisie kyk? Lees
Winter of somer? Winter as ek ’n sinkdak kan hê sodat ek na die klank van reën kan luister. Of is ek nou ’n somer-mens? O, koek. Herfs! Ek wil nie besluit nie.
Resep uit VIA-episode
Ertjie-en-hamrisotto
’n Resep vir wanneer jy wil onthaal
Genoeg vir 4-6
- 30 ml olyfolie
- 1 klein ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, gekap
- 250 g pancetta-blokkies
- 250 g arborio-rys
- 160 ml witwyn
- 700 ml groente- of hoenderaftreksel
- 125 ml room
- 280 g bevrore ertjies
- 120 g parmesaankaas, gerasper
- parmesaanskaafsels
- sout en varsgemaalde swartpeper
Plaas olie, uie, knoffel en pancetta in ’n mikrogolf tot sag en deurskynend. Voeg rys by en mikrogolf nog 2-5 minute. Gooi wyn oor en laat stadig kook, vir 2-3 minute, tot alles deur die rys geabsorbeer is. Gooi aftreksel by en mikrogolf op hoog vir 10 minute of tot die rys sag en romerig is. Voeg die room en ertjies by en mikrogolf nog 5 minute. Verwyder uit mikrogolf en vou parmesaankaas by. Geur goed met sout en swartpeper. Sit dadelik voor met parmesaanskaafsels.
Wenk: Maak parmesaanskaafsels met 'n skerp groenteskiller wat jy oor die kaas trek. Moet dit nie te lank voor die tyd maak nie, want dan sweet die kaas.
Kry die episode se volledige resepte op VIA se webtuiste - klik hier.