Ricky Schroeder, oud-rugbyspeler, KFM-omroeper en vloerbestuurder op die stel van Tussen Ons op kykNET & kie, is Herman se gas op vanaand se episode.

Ons gesels met Ricky oor sy liefde vir kosmaak en sy gunstelingpoeding.  

KOS
FOTO VIA

1. Is jy lief vir kook?

Ek is baie lief vir kook en my liefde het meer ontwikkel in hierdie inperkingstyd. Ek sê altyd my lewe is deesdae 'n gejaag na kleure en geure. 

2. Wat was vir jou die lekkerste oomblik op die program? Het jy iets nuuts by Herman geleer?

Ek het omtrent my tyd saam met Herman op stel geniet. Ek en hy het altyd 'n wonderlike tyd saam. Die eerste keer wat ons saam TV gemaak het, het ek in 'n voorskoot sonder 'n hemp langs hom gestaan en hom probeer help om 'n koek te versier! Tye saam met hom is altyd genotvol. En ja, ek leer altyd baie by Herman. Elke nou en dan as ek iets nuuts probeer, sal ek hom bel vir raad. Ek leer altyd iets by hom. 

3. Julle maak onder andere op die episode outydse vlaskywe. Wat is jou gunstelingpoeding?

Die vlaskywe was omtrent 'n lekker bederf gewees. Dit het my teruggevat na my kinderjare toe. Maar my gunstelingpoeding is verseker malvapoeding en oor Kerstyd die trifle. Oe, en 'n suurlemoen-yskastert is ook nie sleg nie. 

4. As jy kan kies, wat moet jou laaste maaltyd op aarde wees?

Sjoe, dis omtrent 'n vraag, maar ek dink my ma se groenboontjiebredie en ook 'n steak. 

5. Watter drie bestanddele het jy altyd in jou yskas?

Roosmaryn, koljandersaad en Worcestershire-sous. 

Blitsvrae

Tuis kook of uiteet? Tuis kook

Lees of TV kyk? TV kyk, maar ek hou ook baie van lees

Soet of sout? Sout

Slaptjips of uieringe? Slaptjips

Oggend of aand? Aand. Ek's 'n naguil

Resep uit VIA-episode: 

Slap hakskeentjies

KOS
FOTO VIA

Genoeg vir 6-8

  • 1 kg klein uitjies, skoongemaak
  • knippie sout

SOUS

  • 125 ml (½ k) witasyn
  • 80 ml (¹/³ k) water
  • 80 ml (¹/³ k) suiker
  • 2 ml sout
  • 30 ml mosterdpoeier
  • 2 groot eiers, geklits

Plaas die uitjies in ’n glasbak en bedek met kookwater. Voeg ’n knippie sout by en mikrogolf vir 25 minute op hoog. Dreineer en laat staan in ’n vergiettes tot effens afgekoel. Vir die sous, meng die asyn, water, suiker, sout en mosterdpoeier goed saam en mikrogolf vir 2 minute op hoog. Voeg die eiers by, mikrogolf 20 sekondes en klits goed. Mikrogolf nog 20 sekondes en klits weer goed. As die mengsel aan die agterkant van ’n lepel kleef of soos dun vla lyk, is dit reg. Plaas die uitjies in ’n bak en giet die sous oor. Laat afkoel en plaas in die yskas.

Kry die episode se volledige resepte op VIA se webtuiste - klik hier