Ons gesels met Roberto oor sy tyd op die program. 

KOS
FOTO VIA

1. Hou jy van kosmaak?

Ek doen, selfs al is ek nie die beste nie. 

2. Wat was vir jou die lekkerste oomblik saam met Herman op die program?

Ek het dit geniet om te sien hoe Herman net heeltemal homself én in sy element was. Daar is iets omtrent dit om te sien hoe iemand hulle doel uitleef, wat ander aanmoedig om ook die beste weergawes van hulself te wees. Ek het ook geleer dat enigiets wat in die mikrogolf gemaak kan word fancy kan wees. 

3. Watter aspek van ’n buitelug-ete is vir jou die lekkerste?

Ek het regtig geniet hoe lig die kombinasie, van die ribbetjies tot die salm, was. En die keuse van die kos was ideaal vir buite. 

4. As jy een mens, lewend of dood, kan nooi vir ete, wie sal dit wees en hoekom?

Ek sal my heel eerste agent, Moonyeen Lee, nooi. Moon is onlangs oorlede. Sy het 'n groot rol gespeel en bygedra tot hoe my loopbaan uitgedraai het. As ek kon, sou ek haar vertel hoe uiters dankbaar ek is dat sy in my geglo het. Ek sou vir haar sê dat sy gemis word en dat ek dikwels wens dat ek met haar kon praat.

5. Sonder wat kan jy nie in die kombuis klaarkom nie?

Water. 

Blitsvrae met Roberto

Soet of sout? Sout

Lees of TV kyk? Lees

Biltong of droëwors? Biltong

Brood of pasta? Pasta

Kamp of in 'n hotel bly? Hotel 

Resep uit VIA-episode

Salm in papiersakkies

KOS
FOTO VIA

Dis die maklikste manier van kosmaak as jy kortpad wil vat. Pak die sakkies voor die tyd en druk dit net in die mikrogolf as jy wil eet. Sit voor met baba-aartappels.

Genoeg vir 2 mense

  • sap en gerasperde skil van suurlemoen
  • 2 preie, in skyfies gesny
  • 50 g bevrore ertjies
  • 2 salmfilette
  • 60 ml crème fraîche
  • 4 takkies salie
  • 100 ml basiliepesto
  • 30 ml botter
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 125 ml witwyn

1. Knip bakpapier in vierkante en plaas op die kombuistoonbank. Pak suurlemoenskywe en preie in die middel van elke blok papier. Plaas ertjies bo-op. Plaas vis met velkant na onder bo-op suurlemoen.

2. Meng die oorblywende bestanddele (behalwe die wyn) en skep dit op die vis. Geur goed met sout en peper. Vou die pakkies goed toe, maar los ’n gaatjie oop. Skink die wyn versigtig in en vou toe.

3. Mikrogolf vir 8-10 minute. Sit voor met baba-aartappels.

4. Kry die episode se volledige resepte op VIA se amptelike blad - klik hier