Rolanda Marais, bekende aktrise, is Herman se gas op die program.

KOS
Die aktrise, Rolanda Marais. FOTO VIA

Ons gesels met Rolanda oor kerrie en Indië. 

1. Kook jy graag?

Ek hou van kook en my man hou ook daarvan, so ons maak gewoonlik beurte.

2. In die episode berei jy en Herman Tikka Masala voor. Eet jy graag kerrie en wat is jou gunsteling?

Ek is mal oor enige kerrie veral as dit ’n lekker byt het. Thai-groenkerrie met groente is veral vir my baie lekker.

3. Was dit vir jou lekker om op Herman se program te wees? Het jy iets nuuts by Herman geleer?

Dit was baie lekker! Herman is baie entertaining en dis so lekker om iemand te sien wat so passievol is oor wat hy doen. En dit was lekker om sy kos te proe. Die poeding met die kondensmelk was heerlik. O, en ek het geleer om ’n ui te sny dat dit nie so uitmekaar val nie.

4. Watse bestanddele het jy altyd in jou kos- of yskas?

Ek het altyd baie speserye in my koskas. Ek hou nie van vleisaftreksel nie, so ons gebruik altyd koljander en komyn saam met sout en peper om vleis te geur. Ek het ook altyd een of ander vorm van pasta in die kas vir ’n vinnige ete, ’n blik gekapte tamaties en kekerertjies.

5. As jy ’n gereg was, wat sou jy wees en hoekom?

O, ja, nee, ek sou iets spicy gewees het soos my persoonlikheid. Heel waarskynlik ’n eenpotgereg met allerhande verskillende kleure, geure en smake. Ek is bietjie ’n mengelmoes van dinge.

6. Sou jy ooit Indië wou besoek?

Ek sal graag Indië wil besoek vir die kos en die wonderlike kleure en materiale, maar as ek kan kies sal ek liewer Praag wil besoek of die Noorderligte wil gaan kyk.

Blitsvrae met Rolanda

Tuis kook of uiteet? Tuis kook

Springmielies of neute?  Neute

Lente of herfs? Lente

Mikrogolf of oond? Oond

Kerrie of pasta? kerrie

Resep uit VIA-episode

Tikka masala

KOS
FOTO VIA

Dit bly een van my lekkerste kerrieresepte en jy maak dit in ’n kits. Die geheim is om die hoender te braai en dan terug te sit in die sous!

Genoeg vir 6

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml geroosterde masala
  • 30 ml komynsaad
  • 20 ml fyn koljander
  • 20 ml vinkelsaad
  • 6 kardemompeule
  • 1 x 400 ml-blik klappermelk
  • 1 x 400 g-blik tamatiepuree
  • 24 ontbeende hoenderdye
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
  • hand vol vars koljander, fyngekap
  • 100 g botter
  • gaar rys
  • poppadums
  • natuurlike jogurt

Plaas die olie in ’n mikrogolfbestande bak, voeg ui en knoffel by en mikrogolf op hoog vir 2 minute. Voeg speserye by en mikrogolf vir 5 minute – gooi ’n bietjie water by as dit lyk of die speserye gaan brand. Voeg klappermelk en tamatiepuree by. Verhit weer tot kookpunt en plaas die hoender in die sous. Geur goed met sout en peper. Mikrogolf vir 20-25 minute. Kry kole gereed en haal die hoender uit die sous. Braai vir 5 minute tot goudbruin. Plaas terug in die sous. Voeg botterbone en vars koljander by en roer deur. Plaas botter op kerrie en laat smelt, maar moet dit nie inmeng nie. Sit voor met rys, poppadums en natuurlike jogurt.

Kry die episode se volledige resepte op VIA se webtuiste - klik hier.