Daar is deesdae ekstra wip in Mareli Visser se grys Tintin-kuifie. Haar energievlakke ken geen perke nie. Man, sy is vyfuur soggens in die gimnasium. En 30 kg ligter. Mense op straat kyk, kyk weer ... en besluit nee, sy lýk maar net bekend. So vaagweg na Mareli, boorling van Douglas in die Noor-Kaap. Die wenner van kykNET se eerste Koekedoor-reeks en bobaasbakker van die Via-bakprogram Die Koektannie.
Koek se soet vreugdes is waarvoor sy bekend is, maar self sit sy nie meer haar mond daaraan nie. Sy besing eerder die voordele van die ketogeniese (keto-) eetplan: ’n Hoëvet-dieet met bloedmin koolhidrate (minder as 20 g), dus suiker en stysel.
Mareli se keerpunt het ’n jaar terug gebeur. “Op 6 Februarie verlede jaar het ons teruggekom van ’n vakansie in Amerika, ook ’n week lange vaart op ’n skip. Ek het die skaal op 101,2 kg vasgetrap, swaarder as toe ek swanger was met Mila, 12, en Cilliers, 16. Ek hét vantevore gewig probeer verloor. Dié keer was my kop egter reg. Jy moet ’n wilsbesluit neem, daarsonder kan geen pil of poeier jou help nie.”