Ek was nog nooit bang vir harde werk nie, want my ma het my geleer: As jy hard werk, word jy raakgesien. En diegene wat raakgesien word, sal altyd werk hê.

“Só, my kind, jy moet hard werk om werk te hê!” En dít was my mantra, nog altyd. Maar soms raak ek moeg, nes almal. Soms wil ek ook tou opgooi en net nie meer planne maak en nuwe dinge probeer nie. Voor ek egter daar uitkom, raak dit tyd vir kosmaak en dan rus ek maar in die kombuis. Want dis waar ek rustig raak, my emosies verander. Die kombuis is eintlik my sielkundige wat my minstens drie keer per dag sien. (Dis op ’n rustige dag, meeste van die tyd is ek heeldag in haar spreekkamer!)

Onlangs sit en drink ek ’n glas wyn saam met ’n vriend en ons filosofeer oor die lewe en wat dit vir ons beteken om werklik gelukkig te wees. So kom die vraag weer: Herman, is jy nie bang jy gaan ophou om resepte te kan uitdink nie? En: Hoe doen jy dit? Waar kom al jou planne vandaan?

Hierdie vrae herhaal hulself dikwels in geselskappe. Dan antwoord ek sonder om te huiwer, NEE, NOOIT NIE. Want solank ek kan lees, nuwe smake ervaar en met mense kan gesels oor wat hulle inspireer, sal daar altyd iets wees om te kook. Ons as mense is nie gemaak om in afsondering te lewe nie. Ons het menslike interaksie nodig. Dit is wat ons laat asemhaal, dis ons ware sielkundiges. Vir ons almal het dinge die afgelope jaar of wat verander.

En ek glo ons sal binnekort weer anders kan lewe. Maar tot dan moet ons moeite doen met die mense in ons huis. Ons moet groot kook – elke keer wat ons kans kry! Ons moet mekaar dra en emosioneel ondersteun. En wat streel ons emosies beter as ’n bord warm sop, die reuk van warm brood of die samesyn van jou en jou gesin om ’n Sondagtafel.

Dis nie nou tyd vir opgee nie, dis nou die tyd om te glo ons gaan weer eendag daardie groot feesmale kan kook en lank kan kuier sonder enige kommer of reëls. Want as ons aanhou glo, is daar geen rede vir opgee nie.

Tot later,

Herman

Skaf nou jou nuwe SARIE KOS of SARIE FOOD aan vir heerlike resepte, kosstories en inspirasie.