Dalgona-koffie kry sy naam van die dalgona-heuningkoektoffie uit Suid-Korea aangesien die koffiemengsel baie soos dié lekker lyk.

Die koffie het veral gewild geword noudat mense moet self-isoleer te midde van die Covid-19-pandemie. 

SARIE het ook die dalgona-koffie-uitdaging aanvaar en ons wil hê jy moet deel in die pret. Dit is so maklik om te maak!

Ons wys jou stap vir stap hoe:

Bestanddele

Kitskoffiekorrels, suiker en warm water word gewoonlik in ’n 1:1:1-ratio gemeng:

• 2 eetlepels kitskoffie (Ons verkies wel die resep met net 2 teelepels kitskoffie)

• 2 eetlepels suiker

• 2 eetlepels warm water

• melk van jou keuse

FOTO Marzanne Schoeman


Maak só

1. Klits die kitskoffie, suiker en water saam tot dat dit punte vorm en lekker romerig is.

2. Voeg 3/4 koppie vol melk by. Die melk kan warm of koud wees. As jy besluit om dit koud te drink, voeg gerus ook ’n paar blokkies ys by.

FOTO Marzanne Schoeman

3. Skep dan een of twee lepels van die koffiemengsel bo-op die melk en siedaar, jou dalgona-koffie is gereed.

4. Neem ’n foto en TAG vir SARIE. Ons wil julle skeppings sien en hoor wat julle daarvan dink!

FOTO Marzanne Schoeman

WENK: Gebruik ’n deursigtige koppie sodat jy kan sien hoe mooi die drankie is. Jou huismense sal dink jy’s ’n barista! 

Maak dit nog meer grênd

Vir hierdie dalgona-koffie het ons warm melk gebruik. Sit die koppie met die melk en koffiemengsel vir ’n paar sekondes in die mikrogolf en haal dit uit net voor dit wil begin oorkook om dié effek te kry. Rond jou koffie af met ’n koekie, ons het ’n gemmerkoekie gebruik.

FOTO Marzanne Schoeman

Hier is nog inspirasie

Mense van reg oor die wêreld het hul skeppings op sosiale media geplaas:

Dit hoef nie net daar te stop nie. Skep ’n lepel of twee van die koffiemengsel oor jou roomys, op kolwyntjies of enigiets wat jou hart begeer.

Jy kan selfs die koffiemengsel aanpas en ’n mocha maak deur ook ’n eetlepel kakaopoeier by te voeg.

Hierdie koffie is ’n fees vir die oog! So sit terug en geniet dit.


Bron: Simple M