3 van die beste marinades!

akkreditasie
SARIE KOS
SARIE KOS
In 2011 het SARIE KOS die land se beste marinade gesoek. Hier is die 3 wenners se wonderlike resepte.

Wen-Marinade | Resep deur Rita van der Merwe

Mosterd-en-Coca-Cola-Marinade

My resep is die basis vir ’n lams- of varkvleis-marinade. Nadat jy dit die eerste keer gemaak het, kan jy self besluit of jy volgende keer ’n bietjie meer heuning/stroop wil byvoeg vir ’n soeter smaak. Dieselfde met die brandrissie, want party mense hou van ’n bietjie meer byt. As jy bekommerd is oor die gehalte van die vleis, is dit wys omdie ribbetjies eers vir sowat 20 minute sag te kook in  soutwater. Dreineer en laat afkoel voor jy dit marineer. Goeie vleis kan jy egter net so rou  marineer.”

Genoeg vir 2 kg ribbetjies

  • 150 ml tamatiesous
  • 75 ml heuning of gouestroop
  • 75 ml blatjang
  • 50 ml bruinasyn
  • 50 ml appelkooskonfyt
  • 60 ml bruinsuiker
  • 2,5 ml paprika
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml peper
  • 15 ml worcestersous
  • 15 ml sojasous
  • 10 ml korrelmosterd
  • 1 brandrissie, ontpit en fyngekap
  • 150 ml coca-cola
  • 2 kg lams- of varkrib
  • 1 ui, in ringe gesny

Plaas alles buiten die ribbetjie en uie-ringe saam in ’n middelslag-pot oor laehitte. roer stadig tot al die bestanddele opgelos en goed gemeng is. Verwyder van hitte net voor dit kookpunt bereik en laat effens afkoel. Pak ribbetjie in ’n kasserol of plastiekbak wat omgekeer kan word. Pak uie tussenin. Gooi marinade oor en maak toe met deksel. Laat marineer vir sowat 6 uur in yskas terwyl jy vleis elke 2 uur omdraai. Braai oor warm kole of oondrooster tot goudbruin en gaar.

2de prys | Resep deur Joan Roberts

Soet-suur-rib-marinade

“Ek hou daarvan om resepte aan te pas, en dié een is my ma s’n wat ek oor die jare effens verander het. Aangesien al my vriende so mal is daaroor, het ek besluit om dit met SARIE KOS te deel.”

Genoeg vir 1 kg lams- of varkribbetjies

  • 1 kg vark- of lamsrib, ribbetjies van mekaar losgesny
  • 1 ui, grofgekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 6 peperkorrels
  • 3 lourierblare

Marinade

  • 150 ml tamatiesous
  • 75 ml blatjang
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 5 ml mosterdpoeier
  • 2 ml droë basiliekruid
  • 50 ml witasyn
  • 50 g ligbruinsuiker
  • 12,5 ml worcestersous
  • 1 ml tabasco-sous
  • 12,5 ml sojasous
  • 75 ml heuning
  • 50 ml appelkooskonfyt

Plaas ribbetjies in ’n groot pot saam met die ui, knoffel, peperkorrels en lourierblare. Bedek met water en bring tot kookpunt. laat stadig prut vir 40 – 50 minute of tot vleis sag is. Dreineer. Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele vir die marinade in ’n middelslag-pot oor lae hitte. Roer stadig vir 10 minute of tot alles opgelos is. Voer ’n oondroosterpan met tinfoelie uit. Pak ribbetjies in die pan en gooi marinade oor. Bak vir 30 – 40 minute terwyl jy die ribbetjies elke nou en dan omdraai. Bak tot goudbruin en bros.

3de prys | Resep deur Mariëtte Nel

Liplekker marinade

“Mans het nie net ’n swak plek vir die gereg nie – dis ook ’n regmaker! Wanneer my vriend vir my kwaad is, nooi ek hom vir hierdie dis en alle griewe behoort gou tot die verlede!”

Genoeg vir 1 kg ribbetjies

  • 50 ml kookolie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • 115 g-blikkie tamatiepasta
  • 50 ml asyn
  • 2 ml sout
  • 2 ml gedroogde basiliekruid
  • 1 ml suiker
  • 10 ml heuning
  • 125 ml vleisaftreksel
  • 5 ml mosterdpoeier
  • 10 ml worcestersous
  • 1 kg vark- of skaaprib
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit olie tot warm in ’n middelslag-pot. Voeg ui en knoffel by en braai vir sowat 3 – 5 minute of tot goudbruin. Voeg tamatiepasta by en sit deksel op. Laat mengsel vir sowat 3 – 5 minute smoor. Voeg asyn, sout, basiliekruid, suiker, heuning, aftreksel, mosterdpoeier en worcestersous by. Meng goed, maak toe met deksel en laat prut vir sowat 15 minute tot sous verdik. Verhit oond tot 240 °C. Geur ribbetjies met sout en peper. Plaas op oondroosterpan vetkant na bo en gooi marinade oor. Bak vir 5 minute, haal uit en draai ribbetjies om. Bedek weer met marinade. Verlaag temperatuur tot 200 °C en bak ribbetjies verder vir sowat 40 minute. Draai ribbetjies gereeld om en hou aan om dit met die marinade te bedek. Rooster tot goudbruin en gaar.

Oor die kole

Die ribbetjies kan ook op ’n rooster oor die kole gaargemaak word. Kies ribbetjies wat nie te veel vet aan het nie. Marineer vir sowat 30 minute en verf ribbetjies elke keer met die marinade wanneer hulle omgedraai word.

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees