genoeg vir 1 groot koek

  • 300 g (325 ml) sagte botter
  • 620 g (1 190 ml) versiersuiker
  • 6 eiers
  • 300 g pistasieneute, fyngemaal
  • 4 kardemompeule, fyngemaal
  • 370 g (660 ml) koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 250 ml jogurt
  • 100 ml melk
  • 180 ml suurlemoensap

VERSIERSEL

  • 2 eierwitte
  • 90 ml koue water
  • 300 g (375 ml) strooisuiker
  • 250 ml klapperskaafsels

Verhit oond tot 180 °C. Voer 3 losboom-panne van 20 cm in deursnee uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Verroom botter en versiersuiker saam tot lig en romerig. Voeg eiers een-een by en klits deurentyd. Voeg res van koekbestanddele by behalwe suurlemoensap en meng tot gladde beslag vorm. Verdeel beslag tussen die 3 panne en bak 30-45 minute of tot toetspen skoon uitkom. Haal uit oond en gooi suurlemoensap oor. Laat afkoel en keer uit. Sny elke koeklaag gelyk bo en verdeel in twee lae elk. VERSIERSEL Bring pot met water tot kookpunt en plaas mengbak wat stewig pas bo-op. Klits eierwitte, water en strooisuiker 7 minute lank met elektriese klitser oor kookwater tot blink en styf. Verwyder van hitte en klits verder tot koel. Plaas ’n koeklaag op bord en smeer paar lepels versiersel oor koek. Plaas tweede laag bo-op. Herhaal tot lae op is. Smeer buitekant van die koek met oorblywende versiersel. Sprinkel klapperskaafsels oor.