GENOEG VIR 1 KOEK VAN 25 CM KORS

• 100 g (310 ml) klapper

• 1 x 385 g-blik kondensmelk

VULSEL

• 30 ml gelatien

• 125 ml koue water

• 4 eiers, geskei

• 250 g strooisuiker

• 500 g roomkaas

• 250 ml room

• sap en gerasperde skil van 6 lemmetjies

• 6 lemmetjies se segmente

• 125 g klapperskaafsels, gerooster in warm pan tot bruin

1. Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n losboomkoekpan met kleefwerende kossproei en plaas op bakplaat. Meng klapper en 50 g van kondensmelk. Voer bodem van ronde pan uit met klappermengsel en druk stewig vas met lepel se agterkant. Bak 30 minute tot goudbruin. Laat afkoel.

2. Sprinkel gelatien oor water en laat staan tot sponsagtig. Plaas eiergele en helfte van strooisuiker in ’n glasbak wat stewig op ’n pot met kookwater pas – die bodem van die bak moenie aan die water raak nie. Klits met handklitser tot lig en skuimerig – sowat 5 minute. Haal af van hitte en voeg gelatien by, asook oorblywende kondensmelk. Klits verder oor warm water om te verseker dat die gelatien in die mengsel gesmelt het. Laat afkoel.

3. Klits roomkaas tot glad met elektriese handklitser. Vou eiergeelmengsel met draadklitser by roomkaas in.

4. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en gooi res van strooisuiker geleidelik by terwyl jy aanhou klits tot blink en styf. Hou meringue eenkant. Klits room styf. Voeg sap en skil van lemmetjies by roomkaasmengsel. Vou meringue en stywe room by roomkaasvulsel in. Gooi vulsel in voorbereide koekpan en plaas vir 4 uur in yskas of tot gestol. Doop koekpan ’n paar sekondes in kookwater tot die kante loskom. Verwyder pan en plaas op opdienbord. Versier koek met lemmetjiesegmente en klapperskaafsels