Vyebrood met roosbotter

FOTO Donna Lewis

genoeg vir 12 klein rolletjies

ROOSBOTTER

  • 45 ml roosstroop
  • 500 g-blok sagte botter

VYEBROOD

  • 45 ml heuning
  • 250 ml ongegeurde jogurt
  • 160 ml louwarm water
  • 10 g-sakkie kitsgis
  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • 10 g sout
  • 12 klein vars vye of 6 gehalveerde
  • groot vye (jy kan ook gedroogde vye gebruik)

BOTTER

Meng roosstroop en botter saam. Skep in ’n spuitsak met ’n 1 cm-stertuit en spuit rosette in glasies van jou keuse – elke glasie is ’n porsie. Plaas in yskas terwyl jy die brood maak.


BROOD

Plaas heuning, jogurt en water in bak van elektriese menger. Voeg res van bestanddele by en meng tot ’n stywe, kniebare deeg vorm. Knie 5-8 minute of tot die deeg glad en elasties is. Plaas deeg in ’n skoon bak wat met olie gesmeer is. Maak bak toe met kleefplastiek en laat rys 30-40 minute op ’n warm plek tot dubbel die volume. Verdeel uitgerysde deeg in 12 porsies en rol tussen handpalms in balle. Spuit ’n standaardkolwyntjiepan met 12 holtes goed met kleefwerende kossproei. Pak ’n balletjie in elke holte en druk ’n vy in die middel van elk. Bedek pan met ’n klam kombuisdoek en laat weer op ’n warm plek tot dubbel die volume rys. Verhit oond intussen tot 180 ºC. Plaas rolletjies in warm oond en bak vir 25-30 minute of tot die brood goudbruin en gaar is. Laat op ’n draadrak afkoel en sit voor met die roosbotter.