In 2016, spesiaal vir ons Maart-uitgawe, het Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, ’n paar resepte in die boek Audrey at Home deur haar seun Luca Dotti gekies en sy eie glans daarop gesit. Die Penne alla Vodka was een van hulle ... hier is Audrey se resep alla Herman-styl.

Penne alla vodka

FOTO Donna Lewis

genoeg vir 6

  • 45 ml olyfolie, plus ekstra vir braai
  • 3 rooi soetrissies
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies
  • 12 tamaties, in kwarte gesny
  • 30 ml gerookte paprika
  • 125 ml vodka
  • 3 rooi brandrissies (bird’s eye), gekap
  • 1 hand vol vars koljander, gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 500 g penne-pasta

Smeer soetrissies met olyfolie en plaas op bakplaat onder baie warm oondrooster, of gebruik ’n lang vurk en hou dit oor ’n oop gasvlam. Braai so vir 5 – 10 minute terwyl jy die soetrissies heeltyd draai. Braai tot pikswart geskroei. Plaas in bak, bedek met kleefplastiek en laat rissies vir 5 minute sweet. Krap swart skille met skerp mes af. Verhit nog olie in ’n middelslagpot. Voeg ui en knoffel by. Braai vir 5 minute of tot ui begin verbruin. Voeg gaar soetrissies, tamaties, paprika, vodka en brandrissies by. Verlaag hitte en laat prut vir 15 – 20 minute of tot tamaties sag en pap is. Voeg koljander by en geur goed met sout en peper. Maak met staafmenger fyn tot gladde mengsel. Kook penne volgens aanwysing op pak en dreineer. Voeg by warm sous. Plaas in opdienbord en sit voor met parmesaankaas en basiliekruid.

Verwerk uit Audrey at Home deur Luca Dotti (Harper-Collins, R580)