Wie kan nee sê vir hoenderpastei gevul met neute en soet winterspeserye soos kaneel en komyn? Boonop is daar net 7 bestanddele.

genoeg vir 6-8

1. 250 g bruin sampioene, gesny

2. 1 gaar hoender, vleis van been gevlok

3. 15 ml fyn kaneel

4. 20 ml fyn komyn

5. 100 g pekanneute, baie fyn gekap

6. 250 ml aangesuurde room (crème fraîche)

7. 5 velle filodeeg + olyfolie, sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Verhit ’n skeut olyfolie in ’n braaipan en braai sampioene tot goudbruin. Voeg hoender by en braai 5 minute. Voeg speserye, neute en room by. Geur goed met sout en peper. Roer tot romerig, verwyder van plaat en laat afkoel. Plaas ’n filovel op werkvlak en verf met olyfolie. Verdeel hoendermengsel in vyf. Skep een deel in ’n wors op die langste sy van deeg en rol stewig op. Herhaal met orige vier velle en vulsel. Pak hoenderrolle in oondbraaibak van 20 x 15 cm. Verf alles weer met olyfolie. Sny met ’n skerp mes diagonale snye dwarsdeur die rolle om ruite te vorm. Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin. Sit voor.

Vir nog heerlike resepte, kosstories en feestelikheid koop die nuwe SARIE KOS Winter.

Kry jou nuwe SARIE KOS én ’n stylvolle voorskoot!

Ja, SARIE KOS Winter is nou te kry! Dié uitgawe vier SARIE se 70ste verjaardag met 70 resepte, elk met 7 bestanddele vir elke dekade van SARIE-inspirasie. En wees op die uitkyk vir die spesiale eksemplare met een van twee stylvolle SARIE KOS-voorskote – deel van ’n beperkte oplaag met sy eie prys.

FOTO Willem Lourens