Die ‘babelas’-jaffel

FOTO Michael le Grange

genoeg vir 8

  • 30 ml olyfolie
  • 250 g spek, gekap
  • 410 g-blik sousbone (baked beans)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 8 eiers
  • 16 snye witbrood
  • 80 ml sagte botter
  • 16 salieblare

Verhit olie in middelslagpot. Voeg spek by en roerbraai vir 5 minute of tot dit begin verbruin. Voeg sousbone by en verlaag hitte. Laat kook tot bone warm is terwyl jy elke nou en dan roer. Geur met sout en peper. Bring pot met water tot kookpunt. Plaas eiers in water en kook 5 minute vir sagte eiers. Skil doppe af. Smeer een kant van elke sny brood met botter en plaas ’n salieblaar op die botterkant van elk. Plaas een sny met gesmeerde kant na onder in ’n jaffelpan. Skep ’n lepel vol van die sousbonemengsel bo-op. Plaas ’n eier in middel. Plaas tweede sny brood bo-op met botterkant na buite. Maak pan toe en sny brood wat oorsteek af. Braai oor lae hitte vir sowat 2-3 minute per kant of tot goudbruin. Haal uit pan en maak nog jaffels met res van brood en vulsel. Sit warm voor.