Vinnige cassoulet
Dis ’n gereg uit die suide van Frankryk. Vir die tradisionele resep het jy minstens drie dae nodig. My weergawe neem nie naastenby so lank nie, maar is steeds lekker.
6-8 porsies
30-40 ml olyfolie
8 varkworsies (Toulouse-wors)
4 gerookte, ontbeende varkrepe, in 4 cm-blokke gesny
1 ui, fyngekap
1 selderystok, in skywe gesny
1 groot wortel, in blokkies gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
3 blikke cannellini-bone, gedreineer
250 ml witwyn
250 ml groenteaftreksel
3 takkies tiemie
2 lourierblare
sout en varsgemaalde swartpeper
150 g broodkrummels
Verhit oond tot 180 ?C. Gooi olyfolie in ’n oondkastrol en verhit op stoofplaat. Braai varkworsies tot net bruin – hulle hoef nog nie gaar in die middel te wees nie. Haal uit en halveer. Hou eenkant. Braai varkreepblokkies tot bruin en bros. Haal uit en hou eenkant. Plaas ui, seldery, wortel en knoffel in dieselfde kastrol. Braai tot sag. Plaas vleis terug in kastrol en voeg tamaties, bone, wyn en aftreksel by. Voeg tiemie en lourierblare by. Geur met sout en peper. Sit deksel op en laat prut vir 20 minute. Haal van hitte af en sprinkel broodkrummels bo-oor. Sit kastrol in oond en bak vir 1 uur.
Italiaanse piekniekbrood
Dié lekkerte is amper soos brood en terrien wat een word.
genoeg vir 6
1 groot suurdeegbrood
30 ml botter
200 g ingemaakte soetrissies
200 g sagte bokmelkkaas
100 ml basiliekruidpesto
200 g spekkonfyt
200 g mengsel van koue vleise
30 g roketblare
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Sny die bokant van die brood oop en hol die binnekant uit. Smeer binnekant met botter. Pak die res van die bestanddele in lae binne die brood en plaas bokant van brood terug op gevulde brood. Geur goed met sout en peper. Plaas op ’n bakplaat en draai toe met kleefplastiek. Sit nog ’n bakplaat bo-op. Sit iets swaars daarop soos blikkies tamatie en laat vir sowat 1 uur in die yskas afkoel. Sny in kwarte en sit voor.
Chorizo-empanadas
’n Heerlike peuselhappie waarvoor min mense kan nee sê.
genoeg vir 12
225 g (400 ml) koekmeel
5 ml sout
120 g botter
45 ml yswater
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekap
400 g hoenderborsies, in growwe stukke gesny
225 g chorizo-wors, in ringe gesny
1 brandrissie, fyngekap
5 ml gerookte paprika
1 x 400 g-blik tamaties, fyngekap
sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eier, liggies geklits
Verhit oond tot 180 °C. Plaas koekmeel, sout en botter in voedselverwerker en verwerk teen hoë spoed tot die tekstuur van fyn broodkrummels. Voeg yswater by en verwerk tot alles in een bal saamkom. Laat rus in yskas terwyl jy die vulsel maak. Verhit olyfolie in ’n middelslagpan. Voeg uie en knoffel by en braai liggies tot goudbruin. Voeg hoender en chorizo by en braai tot dit begin verbruin. Voeg brandrissie, paprika, tamatie, sap en skil van suurlemoen by. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 25-30 minute of tot romerige mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Laat afkoel. Rol deeg tot sowat 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Sny sirkels van sowat 12 cm uit. Skep lepels vol van vulsel op helfte van deeg. Vou ander helfte bo-oor en druk deegrand stewig vas. Verf met geklitste eier. Plaas op bakplaat uitgevoer met bakpapier en gespuit met kleefwerende kossproei. Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin. Sit warm voor.
Soek jy 'n ander episode se resep?
Besoek Spekko Rice se webtuiste vir meer resepte.
Volg ook Spekko Rice se Facebook, Twitter en Instagram-blaaie.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET