GENOEG VIR 12 GEWONE MUFFINS OF 30 MINI-MUFFINS
• 2 rooibosteesakkies
• 100 g rosyntjies of gedroogde
dadels
• 30 g gedroogde appelkose
• 100 ml heuning
• 125 ml kanola-olie
• 2 eiers
• 100 g botterskorsie, geskil en
grof gerasper
• 100 g murgpampoentjies,
gewas en grof gerasper
• 175 g volgraan-bruismeel (sien *wenk onder)
• 5 ml bakpoeier (gebruik ekstra bakpoeier vir ’n ligter tekstuur)
• 5 ml fyn kaneel
Verhit oond tot 180 °C. Spuit twee mini-muffinpanne met kleefwerende kossproei. Plaas die rooibosteesakkies, rosyne, appelkose en heuning in ’n klein kastrol en bedek met water. Bring tot kookpunt. Draai die hitte af na medium en prut vir vyf minute of tot die appelkose sag is. Verwyder die teesakkies. Gebruik ’n staafmenger of voedselverwerker om die mengsel fyn te pols. Skep die mengsel uit in ’n mengbak. Voeg die olie en eiers by en meng goed. Vou die botterskorsie en murgpampoentjies in die mengsel. Voeg die bruismeel, bakpoeier en kaneel by en vou in. Verdeel die mengsel tussen die voorbereide muffinpanne. Bak in die warm oond vir 25–30 minute of tot gaar.
* Wenk: Volgraan-bruismeel is soms moeilik om te kry. Maak jou eie deur 175 ml volgraanmeel, 10 ml bakpoeier en 2,5 ml sout te kombineer.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET