Macaroni-en-kaasjaffels

genoeg vir 10

  • 150 g macaronipasta
  • 300 ml melk
  • 2 lourierblare
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 30 ml botter
  • 30 ml koekmeel
  • 100 g cheddarkaas, gerasper
  • 50 g parmesaankaas, gerasper
  • 15 ml gerookte paprika
  • 1 hand vol pietersielie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 20 snye brood
  • 100 ml sagte botter

Maak pasta gaar volgens aanwysings op pak, dreineer en hou eenkant. Plaas melk, lourierblare en knoffel in middelslagpot en bring tot kookpunt. Haal van hitte af en laat staan tot melk louwarm is. Smelt botter in skoon pot, voeg meel by en klits oor lae hitte tot gemeng. Gooi al die melk op een slag by en hou aan klits oor hoë hitte tot gladde, romerige witsous vorm, sowat 5-8 minute. Verwyder van hitte en roer kaas, paprika en pietersielie by. Vou gaar macaroni by. Proe en geur met sout en peper. Smeer een kant van elke sny brood met botter. Plaas een sny met gesmeerde kant na onder in ’n jaffelpan. Skep ’n lepel vol van die macaroni bo-op. Plaas tweede sny brood bo-op met botterkant na buite. Maak pan toe en sny brood wat oorsteek af. Braai oor lae hitte vir sowat 2-3 minute per kant of tot goudbruin. Haal uit pan en maak nog jaffels met res van brood en vulsel. Sit warm voor.