KERRIE

  • 45 ml olyfolie
  • 800 g kort lamskenkels (lamb knuckles)
  • 2 uie, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 lourierblare
  • 30 ml masala
  • 25 ml matige kerriepoeier
  • 20 ml borrie
  • 1 cm vars gemmer, gerasper
  • 410 g-blik tamaties
  • 400 ml-blik klappermelk
  • sout en varsgemaalde swartpeper

DHAL

  • 45 ml olyfolie
  • 30 ml botter
  • 15 ml komynsaad
  • 6 droë of vars kerrieblare
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 brandrissie, fyngekap
  • 400 g-blik tamaties
  • 360 g (400 ml) droë geel lensies
  • 25 ml borrie
  • 2 gerasperde wortels
  • 2 liter water
  • 45 ml botter

KERRIE

Verhit oond tot 180 ºC. Verhit olyfolie in oondvaste middelslagpot. Voeg skenkels by en roerbraai tot goudbruin, sowat 8-10 minute. Haal vleis uit pot en hou eenkant. Roerbraai uie en knoffel in dieselfde pot vir sowat 3-5 minute of tot uie begin verbruin. Voeg al die speserye behalwe die gemmer by en braai vir nog 3-5 minute of tot geurig. Voeg gemmer by en braai 1 minuut. Voeg eers tamaties by en roer deur, dan die klappermelk. Geur goed met sout en peper. Plaas gebraaide vleis terug in sous. Maak toe met deksel, plaas in warm oond en bak vir 2-3 uur of tot vleis van bene afval. Terwyl kerrie bak, maak solank die dhal.

DHAL

Verhit middelslagpot oor hoë hitte tot warm. Voeg olie en botter by. Voeg komyn, kerrieblare, uie en brandrissie by en roerbraai 3-5 minute of tot geurig. Voeg tamaties, lensies, borrie en wortels by. Meng deur en gooi water by. Maak pot toe en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 30 minute terwyl jy elke nou en dan roer om te keer dat die lensies aanbrand. Roer botter by sodra mengsel romerig en lensies gaar is. Geur goed met sout en peper. Skep dhal in klein dienbakkies en skep gaar kerrie bo-op. Sit voor op trollie.