Linda van der Merwe van Windhoek, Namibië, het vir vlakoekies gevra. En Herman deel spesiaal sy geliefde ouma Bettie se resep:

“Ek kan onthou hoe my ouma vir ons bakke en bakke vol van dié koekies gebak het toe ek nog ’n kind was. Dit was die toppunt van luuks as jy so ’n koekie in jou soet tee kon doop.”

Ouma Bettie se vlakoekies

genoeg vir 30

  • 250 g (270 ml) sagte botter
  • 200 g (250 ml) strooisuiker
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 2 eiers
  • 300 g (535 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol
  • 60 g mielieblom
  • 100 g vlapoeier
  • 10 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 200 g witsjokolade, gesmelt
FOTO Michael le Grange

Verhit oond tot 180 °C. Klits botter, strooisuiker en vanieljegeursel saam tot lig en romerig. Voeg eiers by en klits goed. Voeg res van bestanddele, behalwe sjokolade, by en meng tot sagte deeg. Sprinkel meel op werkvlak en rol deeg in lang worsies van so 1 cm dik uit. Sny worsies in stukke van 2 cm lank en pak op bakplate wat met bakpapier uitgevoer en met kleefwerende kossproei gespuit is. Bak vir 10-12 minute of tot deeg begin verbruin. Laat afkoel. Plak koekies twee-twee aanmekaar met gesmelte sjokolade. Laat afkoel tot hard en plaas in ’n lugdigte houer.

In die nuwe SARIE KOS: 

- Tydlose yskasterte!

- Sondag se bykosse, van Franse aartapelgebak tot pampoenkoek met karamelsous.

- Die lekkerste souttert

- 10 geurige maalvleis-resepte

En vele, vele meer.