Ouma Lettie se melktert

FOTO Michael le Grange

genoeg vir 6-8

  • 200 g-pakkie klapperkoekies (Tennisbeskuitjies)
  • 385 g-blik kondensmelk
  • 700 ml kookwater
  • 10 ml vanieljegeursel
  • fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 20 ml botter
  • 50 ml mielieblom
  • 60 ml koue water
  • ’n knippie sout
  • 2 eiers, geskei
  • kaneelsuiker vir oorstrooi

Pak koekies onderin ’n bak van sowat 20 x 15 cm wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Plaas kondensmelk, kookwater, vanieljegeursel, suurlemoenskil en botter in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt. Meng intussen mielieblom, koue water en sout met ’n draadklitser tot ’n gladde pasta vorm. Voeg eiergele by en klits weer. Verwyder warm kondensmelkmengsel van hitte en klits mielieblommengsel by. Plaas terug op hitte en hou aan met klits oor ho hitte tot mengsel verdik soos witsous, sowat 5-8 minute. Hou dop dat dit nie aanbrand nie. Klits eierwitte in ’n skoon bak tot sagte punte vorm. Verwyder kondensmelkmengsel van hitte en vou eierwitte vinnig daarby in. Giet mengsel in bak met koekies. Sprinkel ’n ruim hoeveelheid kaneelsuiker oor. Plaas in yskas vir minstens 4 uur of oornag. Sny in skywe en sit voor.