Ek is mal oor sagopoeding. Die fluweeltekstuur in jou mond en die sagte meringue-wolk maak my net gelukkig. Die konfyt bo-op is ’n moet.

Sagopoeding

FOTO Michael le Grange

genoeg vir 6-8

  • 250 ml sago
  • 1 liter melk
  • 1 stuk pypkaneel
  • 30 ml botter
  • 4 eiers, geskei
  • 100 g (125 ml) strooisuiker
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 3 ml sout
  • 125 ml appelkooskonfyt
  • 2 ekstra eierwitte

Week sago sowat 3 uur lank in melk. Verhit oond tot 180 °C. Sit geweekte sago, melk en kaneel in ’n middelslagpot en kook tot sago deurskynend raak; pasop vir aanbrand: hou die hitte laag en roer gereeld. Roer botter by sagomengsel en verwyder van hitte. Klits eiergele, helfte van strooisuiker, vanieljegeursel en sout saam en roer by sagomengsel. Skep in ’n oondvaste bak en stip met appelkooskonfyt. Klits al ses eierwitte in ’n skoon bak tot stywe punte vorm. Voeg res van strooisuiker geleidelik by terwyl jy aanhou klits tot blink en styf. Skep of spuit meringue bo-op sagomengsel en bak in warm oond vir 20-25 minute of tot die meringue mooi goudbruin is. Sit warm voor met vanieljevla.