’n Besonderse bederf met oondgeroosterde perskes−hier’s Myrna Klerck van Muckleneuk, Pretoria, wenner van ons wedstryd, se resep.

“24 Desember is die dag waarop daar trifle gemaak is in my ouma se huis. En kón sy trifle maak! Ons het nooit die resep afgeskryf nie, maar altyd bygestaan as Ouma ons geliefkoosde trifle maak. As die tiekie ingegooi is, moes ons anderpad kyk. Dit was eintlik ’n hele ritueel, want sy het al die vorige dag begin om die neute en die kersies in brandewyn te week en haar eie sponskoek te bak. Vandag maak ons steeds haar basiese trifle, maar om aan te pas by huidige kos-trends is daar al baie veranderings aan die resep gemaak. Ouma Katie sal in haar graf omdraai as sy weet ons gebruik winkelsponskoek, maar nou ja! Sy het altyd haar eie ingemaakte perskes gebruik, terwyl ek van oondgeroosterde perskes hou. As jy dit nog nie probeer het nie, sal jy nie weet wat jy mis nie! Die perskes karamelliseer so effe en word sowat drie keer soeter, heerlik klewerig en gooey. Mascarponekaas het intussen ook op die map gekom en dit gee ’n heerlike tekstuur aan sowel die vla as die room. Ek verkies om self vla te maak – dit is vir my ryker en meer satynagtig as vla van vlapoeier. Vir ’n effense krakerigheid sprinkel ek net voordat ek dit voorsit en voordat die geklopte room bykom ’n paar grofgebreekte meringues oor die trifle. My ouma het altyd haar trifle versier met angelika, kersies en neute. Spinsuiker lyk baie feestelik – as jy kans sien daarvoor!”

Ouma Katie se trifle met oondgeroosterde perskes

8–10 porsies

• 150 ml rooi glanskersies, in kwarte gesny

• 100 g pekanneute, grofgebreek

• brandewyn, om te bedek

Bedek kersies en neute met brandewyn. Laat staan vir minstens 6 uur (langer is lekkerder!).

Oondgeroosterde perskes

• 4 perskes

• 50 ml strooisuiker (sien bl. 60)

Verhit oond tot 200 °C. Sny perskes deur en verwyder pitte. Rol in strooisuiker en plaas op ’n bakplaat, gesnyde kante na onder. Oondrooster vir 30 – 40 minute. (As die pansappe bruin word, voeg ’n klein bietjie water by en plaas ’n vel tinfoelie liggies oor.) Laat afkoel en verwyder skilletjies.

Eiervla

• 1 vanieljepeul of 7 ml vanieljegeursel

• 500 ml melk

• 125 ml suiker

• 4 groot of 5 klein eiergele

• 5 ml mielieblom

• 125 g mascarpone-kaas

Sny vanieljepeul in die lengte oop en stryk oop met die vinger. Verhit melk en vanieljepeul tot kookpunt. Klits suiker, eiergele en mielieblom saam in ’n aparte houer. Voeg melk by eiermengsel en klits goed. Gooi in bodeel van dubbelkoker en roer aanhoudend totdat vla genoeg verdik het om agterkant van ’n metaallepel te bedek. Haal van hitte af en roer tot effens verkoel. Voeg mascarpone-kaas by en meng goed.

1 sponskoek, in vingers gesny of in stukke gebreek

• 125 ml mediumroom- of volroom-sjerrie

• 100 ml appelkooskonfyt

Bo-laag

• 250 ml vars room 

• 15 ml versiersuiker

• 125 g mascarpone-kaas

• 3 ml vanieljegeursel

• 4 mediumgrootte meringues, grofgebreek

Voer ’n ronde glasbak (verkieslik met ’n plat bodem) uit met sponskoekvingers (of gebruik 8 klein bakkies). Sprinkel van die sjerrie oor en laat deurtrek. Smeer van die konfyt oor. Sny perskes in skyfies en plaas ’n paar bo-op (hou stukkies uit vir versiering). Volg met vla. Dreineer neute en kersies en sprinkel daarvan oor (hou party eenkant vir versiering). Herhaal lae. Bedek met kleefplastiek. Hou in yskas. Net voordat jy dit wil voorsit, klop room tot sagte punte vorm. Vou versiersuiker, mascarpone en vanielje in. Strooi meringue oor trifle en volg met room. Versier met perskes, neute en spinsuiker* (opsioneel) en sit dadelik voor.