Resep: Sjokolade-klapper-en-karamelblokkies

FOTO Michael le Grange

genoeg vir 12 blokkies

  • 150 g (270 ml) koekmeel
  • 90 g (100 ml) bruinsuiker
  • 40 g (125 ml) fyn klapper
  • 125 g (135 ml) botter, gesmelt
  • 200 g donkersjokolade, gesmelt

KARAMELVULSEL

  • 115 g (85 ml) gouestroop
  • 125 g (135 ml) botter
  • 2 x 385 g-blikke kondensmelk

Verhit oond tot 180 °C. Meng koekmeel, suiker en klapper. Voeg botter by en maak stywe koekiedeeg aan. Voer bakplaat van 20 x 15 cm met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Keer deeg uit op bakplaat en druk gelyk met vingerpunte sodat hele bodem gevul is. Bak vir 10-15 minute of tot ligbruin. Haal uit oond, maar moenie oond afsit nie. Vulsel Plaas stroop, botter en kondensmelk in middelslagpot en bring tot kookpunt terwyl jy heeltyd roer. Hou aan roer totdat mengsel ligte karamelkleur kry, sowat 5-8 minute. Verwyder van hitte en gooi oor gebakte kors. Plaas terug in oond en bak verder vir 15-20 minute of tot karamel goudbruin is. Haal uit oond en laat afkoel in yskas tot yskoud. Haal uit bakplaat en gooi gesmelte sjokolade oor. Laat weer afkoel in yskas tot gestol. Sny met ’n skerp mes in blokkies. Sit voor.