genoeg vir 1 tert

KORS

  • 200 g vanieljekoekies, fyngekap
  • 100 g botter, gesmelt

SUURLEMOENSMEER

  • 250 ml vars suurlemoensap
  • 4 eiers
  • 2 eiergele
  • 60 g (50 ml) suiker
  • knippie sout
  • 350 g koue botter

SWITSERSE MERINGUE

  • 4 eierwitte
  • 70 g (90 ml) suiker
  • 1 ml sout

KORS

Meng koekies en botter saam. Voer tertpan uit met die krummelmengsel en druk stewig vas.

SUURLEMOENSMEER

Maak ’n dubbelkoker met ’n klein kastrol en glasbak wat maklik op die kastrol se rand pas. Gooi sowat ’n kwart van die kastrol vol water en plaas oor matige hitte. Plaas suurlemoensap, eiers, eiergele, suiker en sout in glasbak en begin dadelik klits met ’n draadklitser. Klits aanhoudend totdat mengsel gaar en dik word, sowat 8-10 minute. Sodra die mengsel gaar is, verwyder van hitte en gooi in ’n koue bak. Sny koue botter in stukkies en gooi een vir een by mengsel. Verwerk mengsel deurentyd met staafmenger tot al die botter bygevoeg is. Giet suurlemoensmeer in tertkors en smeer gelyk. Plaas vir 1 uur in yskas om te stol.

MERINGUE

Plaas eierwitte, suiker en sout in bak van staanmenger. Plaas oor kastrol met pruttende water – die bak moenie aan die water raak nie. Klits mengsel aanhoudend met ’n ballonklitser terwyl bak op kastrol rus. Verhit tot mengsel warm is (dit moet jou vinger brand) en die suiker opgelos het. Plaas bak in staanmenger en klits by hoë spoed tot stywe, blink punte vorm. Skep ’n groot meringue-wolk bo-op die suurlemoenvulsel of spuit rosette met ’n spuitsak. Brand goudbruin met kombuisblaasvlam. Sit voor. WENK Rasper suurlemoenskil oor die meringue nadat jy dit met die blaasvlam gebrand het. Dit gee ekstra geur.