Hierdie resep kom uit die dae toe ek as sjef by The Vineyard Hotel in Kaapstad gewerk het. Die koek het ons gebak vir byna alles van troues tot teepartytjies.

Wortel-en-klapperkoek

genoeg vir een 18 cm-koek

  • 400 g (500 ml) suiker
  • 4 eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 375 ml kanola-olie
  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 10 ml koeksoda
  • 10 ml fyn kaneel
  • 3 ml sout
  • 750 ml gerasperde wortel
  • 65 g (200 ml) fyn klapper
  • 100 g-sakkie pekanneute, gekap
  • 410 g-blik fyn pynappel, gedreineer

VERSIERSEL

  • 125 g (135 ml) sagte botter
  • 250 g-houer roomkaas
  • 500 g-pak versiersuiker
  • 5 ml vanieljegeursel
  • ekstra gekapte pekanneute vir oorsprinkel.

Verhit oond tot 180 grade. Voer twee 18 cm-broodpanne met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Klits suiker, eiers, vanielje en olie saam. Sif meel, bakpoeier, koeksoda, kaneel en sout saam en meng by eiermengsel in. Voeg wortel, klapper, neute en pynappel by. Meng saam. Verdeel beslag tussen panne. Bak vir 45-60 minute of tot toetspen skoon uitkom. Laat vir 5 minute afkoel in pan. Keer uit op afkoelrakkie en laat afkoel tot koud. Versier só Klits botter en roomkaas saam tot lig en romerig. Voeg versiersuiker en vanielje by en klits tot gladde mengsel. Sny elke koek in twee lae met riffelmes. Plaas eerste koeklaag op dienbord en smeer . van versiersel oor. Herhaal met res van koeklae en eindig met versiersel. Sprinkel ekstra neute bo-op en sit voor.