As jy nostalgie op sy beste wil proe, sit jy hierdie voor. Jy kan ook die melk verruil vir tamatiesmoor.
genoeg vir 4-6
Sny lamsvet in klein blokkies. Plaas in ’n groot kastrol en verhit oor matige hitte tot vet begin braai. Verhoog hitte en braai 10-15 minute of tot al die vet uitgebraai het en die blokkies vet goudbruin en bros raak. Verwyder van plaat en voeg komyn by. Laat staan vir 1 minuut. Gooi warm vet deur ’n sif en hou bros blokkies eenkant. (Laat vet hard word en gooi weg.) Bring water en sout tot kookpunt in ’n skoon kastrol. Gooi mieliemeel in middel van die water en meng vinnig deur met ’n vurk – moenie bekommerd wees oor klonte nie. Maak pot onmiddellik toe met ’n deksel en laat die water byna heeltemal wegkook. Gebruik ’n vurk en roer weer deur tot growwe krummels vorm. Skakel hitte af en maak pot toe. Laat die pap 15 minute stoom. Sprinkel kaiings oor en sit voor met melk.