LEES OOK: Kook vir jou hond: Vermy dit en gebruik dat

genoeg vir 1 klein koek

  • 160 g (250 ml) volkoringmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 60 ml klapperolie, gesmelt
  • 1 eier
  • 60 ml rou heuning
  • 60 ml pampoenpuree
  • 60 ml onversoete appelpuree (geen suiker of versoeters bygevoeg)
  • 60 ml onversoete grondboontjiebotter (geen suiker of versoeters bygevoeg)
  • 60 ml laevetmelk
  • 5 ml vanieljegeursel 

VERSIERSEL

  • 60 ml onversoete, ongegeurde laevetjogurt
  • 60 ml onversoete grondboontjiebotter (geen suiker of versoeters bygevoeg)
  • 5 klein hondekoekies

Verhit oond tot 180 °C. Voer drie ronde losboomkoekpanne van 15 cm in deursnee uit met bakpapier en spuit deeglik met kleefwerende kossproei. Plaas al die bestanddele vir die koek in ’n groot mengbak en meng tot gladde beslag. Verdeel die mengsel tussen die drie panne en smeer gelyk (dit gaan baie dun lyk, maar onthou, dit rys in die oond en dis nie ’n veerligte sponskoek soos vir ’n mens nie). Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel. Sny lae gelyk met skerp mes. Meng jogurt en grondboontjiebotter saam vir die versiersel. Plaas eerste koeklaag op bord en smeer derde van versiersel oor. Plaas tweede laag bo-op, gevolg deur nog ’n derde versiersel. Plaas laaste koek bo-op en eindig met laaste derde versiersel. Plaas paar hondekoekies bo-op. Sny in porsies en laat Wagter sy verjaardag (saam met ’n paar van sy vriende!) vier. 

MAAK OOK:

Biltongroomys vir jou hond

Tuisgemaakte koekies vir Wagter