Tracey Lange, bekende radio-omroeper en TV-persoonlikheid is Herman Lensing, SARIE Kosredakteur, se eerste gas op sy splinternuwe televisie-reeks, Herman se mikro-geheime.
Tracey is nie iemand wat vol fiemies oor kos is nie en haar kosfilosofie spreek boekdele: Kos is daar om jou maag vol te maak en hoe makliker dit is om voor te berei hoe beter. Netso, Tracey, netso!
Ons gesels met haar oor wat sy op die program geleer het, haar gunsteling peuselhappies en wat gewoonlik op haar Sondag-spyskaart is.
1. Kook jy graag?
Glad nie!
2. In die eerste episode berei jy en Herman ’n Sondagmiddagete voor. Wat is gewoonlik op jou Sondag-spyskaart?
Letterlik net waarvoor ons lus het, gewoonlik dit wat die maklikste is. Maar ek is baie bevoorreg my man kook graag en hy hou van eksperimenteer in die kombuis.
3. Wat was vir jou die lekkerste oomblik op die program? Het jy iets nuuts geleer?
Met Herman leer mens altyd iets nuuts. Ek is eintlik baie bang vir ’n mikrogolf, want mens weet nooit hoe lank jy iets daarin moet sit nie. Herman het my gewys dis eintlik bitter maklik, om dit te gebruik.
4. Jou gunsteling peuselhappie...
Hmm, ek het nie regtig ’n gunsteling-peuselhappie nie, maar ek probeer om altyd vrugte te kies. Dis die gesonde opsie.
5. Watse drie bestanddele het jy altyd in jou yskas?
Ek kan jou nie sê nie. Ek gee nie regtig aandag aan my kombuis nie.
Soet of sout? sout
Tuis kook of uiteet? Uiteet
Pasta of brood? Pasta
Mikrogolf of oond? Mikrogolf
Springmielies of sjokolade? Albei
Resep uit VIA-episode
Tamatie-en-uieslaai
Gebruik gewone witasyn en ’n knertsie suiker. Rooi of wit uie is jou keuse!
Genoeg vir 6-8
- 500 g sonryp tuintamaties
- 250 ml witasyn
- 45 ml witsuiker
- 10 ml vinkelsaad
- 2 knoffelhuisies, gesny
- 10 ml droë chipotle-brandrissievlokkies
- 10 ml heel komynsaad
- 2 rooi of wit uie, in ringe gesny
- sout en varsgemaalde swartpeper
- hande vol vars basiliekruid
Gebruik ’n skerp mes en sny die tamaties in kwarte. Plaas die asyn, suiker en vinkelsaad in ’n mikrogolfbestande bak en mikrogolf vir 5 minute. Voeg die knoffel, brandrissievlokkies en komyn by en mikrogolf vir 2 minute. Plaas die tamatiekwarte en uie in ’n groot mengbak en giet die warm asynsous oor. Meng deur en maak die bak toe met kleefplastiek. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper, garneer met hande vol vars basiliekruid en sit voor.
Kry die res van die episode se resepte op VIA se amptelike webtuiste.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET