SARIE KOS se Lente 2020-uitgawe, nou te koop, is gevul met lekker leesstof, heerlike resepte vir 30-minuut-etes tot ’n nostalgiese teetafel! Die 146 bladsye bied eindelose inspirasie vir die feestyd wat voorlê in Afrikaans én Engels. Ja, jy lees reg SARIE FOOD is nou ook op die rakke. Maar dis nie ál nie ... Herman het ’n naweektafel spesiaal vir vier voormalige Mej. Suid-Afrikas gedek: Amy Kleinhans-Curd, Wilma van der Bijl, Cindy Nell-Roberts en Rolene Strauss.

Rolene Strauss is een van die voormalige Mej. Suid-Afrikas vir wie Herman ’n naweektafel voor gedek het. FOTO’S Michael le Grange

Ons deel spesiaal vyf resepte uit die pragtige SARIE KOS. Maar eers is Herman aan die woord - hier is sy redakteursbrief vanuit die splinternuwe uitgawe:

Herman skryf: Die Afrikaanse tafel

Die vraag, waar kom jou liefde vir kosmaak vandaan, is een wat dikwels oor my pad kom. Om dit akkuraat te beantwoord moet ek seker begin by die begin.Ek het grootgeword op Upington in die Kalahari. My vakansies het meestal gewissel tussen die see by Hartenbos, winters op die plaas in Namibië en die tuisbly-tye wanneer my ma se kombuis my uitspanplek was.

Deel van my kinderjare was tipiese Suid-Afrikaanse kos: mosbolletjies, bredies, lamsrib oor die kole, soetmosterd (soms met kondensmelk gemaak!), trifles wat net netjies lyk totdat iemand skep, en samesyn.Wat my bybly uit daardie dae, is die tye wat die Engelse familie kom kuier het.

Hulle was grênd mense watT-hemde met slagspreuke gedra het en jeans vol gate. Nou dra ek dit self, maar toe was dit vreemd! Wanneer hulle ná die kuier gegroet het, was die laaste woorde altyd dieselfde: Sjoe, maar ons het lekker geëet! Julle doen dit maar net anders. Ek kon nooit verstaan wat “anders” beteken nie. Want hoe kan jy nie ’n Sondagtafel met 10 kg braaiaartappels, 20 kg bredie, 30 kg rys en 40 kg pampoenpoffers hê nie! (Goed, ek weet ek oordryf, maar as kind het die bakke kos op my ma se tafel soos berge kos gelyk.)

Dis wanneer ons dan in die stad kom kuier het wat my pa in die kar sou skinder oor die Engelse familie wat darem maar net anders kook. Ek het saamgestem. Nou, jare later, kry ek weer met hierdie verskynsel te doen: Engelse lesers wat my kontak en sê hulle geniet SARIE KOS so baie. “The food is so warming, inviting and different to what we know, so Afrikaans.”

En meteens besef ek hoekom my Engelse familie met sulke groot glimlagte by ons huis weggery het – hulle het welkom gevoel aan ons tafel. Hulle het met hul “andersheid” deel gevoel van ’n gemeenskap waar nie ek of my nefies met woorde kon kommunikeer nie, maar ons kon met kos saam om die tafel sit en in gebroke Afrikaans en Engels saam kuier en die goeie in die lewe geniet.

Dus, om die vraag te beantwoord: My liefde vir kosmaak kom van daardie glimlagte van mense as hulle vertrek het van my grootwordhuis. Ek wil daardie glimlagte op almal se gesig sien wat oor my pad kom. Want niks is mos so lekker soos om te kan kook in Afrikaans nie.

Paar resepte uit SARIE KOS:

Skuimpies

FOTO Michael le Grange

Dit bly baie bekostigbaar en jy kan met min moeite iets baie moois aanmekaar sit! Klik hier vir resep.


Mielie-vetkoek

FOTO Michael le Grange

Warm vetkoek met stroop of appelkooskonfyt, met kaas daarby, is die beste ontbyt ter wêreld. En met dié maklike resep kan jy dit ook weeksoggende maak. Klik hier vir resep.

Seekos-paella

FOTO Michael le Grange

Die lekker ding van paella is alles word saam gaargemaak en almal help hulself sommer so uit die pan. Klik hier vir resep.

Toebroodjiekoek

FOTO Michael le Grange

Hierdie resep kom van die Skandinawiërs af. Hulle maak dit tradisioneel met rogbrood, maar hier by ons maak ons dit met gewone potbrood van die supermark. Klik hier vir resep.

25-minuut-hoenderkerrie

FOTO Willem Lourens

Die geheim is in die geurige sous. Klaargaar winkelhoender kom aan die einde by en dan is dit ’n feesmaal. Klik hier vir resep.

Koop nóú jou SARIE KOS of SARIE FOOD!