Hulle maak gereeld klere vir prinses Charlene van Monaco, het al vertonings in Berlyn en Moskou gehou, en aktrise Terry Pheto het ’n uitrusting in hul boetiek gekoop wat sy by die 2015-Emmy-toekennings gedra het. Natasha Jaume en Carina Louw, die twee Pretoriase ontwerpers agter ERRE (uitgespreek soos air), beskryf hul ontwerpstyl as “power dressing redefined”, en vroue oor die wêreld heen is gaande daaroor.

Prinses Charlene bly natuurlik ’n groot hoogtepunt vir dié twee vriendinne wat mekaar ontmoet het toe hulle saam by die Oakfields-kollege in Pretoria klas gegee het. “Sy was in 2018 in Suid-Afrika en sou op die voorblad van ’n vrouetydskrif wees. Die stiliste het byna honderd uitrustings bymekaar gemaak vir die fotosessie, maar sy het meestal ons klere uit die klomp gekies. Die oggend van die foto’s bel die stilis ons en sê ‘kom vinnig, sy wil julle ontmoet’,” onthou Carina. “Ons het ’n uur gehad om in Johannesburg te kom en het natuurlik alles gelos en soontoe gejaag! Toe sê sy sy wil ons na die paleis laat vlieg vir ’n konsultasie.

Sy het vir alles betaal en ons het ’n heerlike naweek in Monaco gehad. In haar klerekas in die paleis het een van ons rokke reeds in haar kas gehang – nogal tussen ’n Valentino en ’n Versace! Sedertdien maak en stuur ons ’n paar keer per jaar vir haar nuwe uitrustings.”

Dis ’n lekker pluimpie, maar om bekendes aan te trek is nie iets wat hulle najaag nie, sê Natasha.

“Inteendeel, die grootste plesier vir my is as ’n vrou by die boetiek instap, ons iets vir haar aanbeveel, al dink sy dit sal haar nie vlei nie, en hoe haar gesig dan ophelder wanneer dit haar wel pas. Om te sien hoe iemand se selfvertroue binne ’n paar minute kan verbeter wanneer sy jou ontwerp aantrek . . . dit maak jou so trots.”

Dis omdat hulle ál hul ontwerpe eers self toets dat dit so goed aan enige vrou se lyf pas. “Ons dra al ons ontwerpe eers self, want ons fi gure en voorkeure verskil baie – ek dra byvoorbeeld nét rokke en Natasha verkies weer broeke,” sê Carina. “So kan ons klere maak vir regte vroue, in alle groottes. Die aanslagis heeltemal anders as jy vir ‘regte’ figure ontwerp. Dis maklik om vir modelle te skep. Jy kan basies enigiets teken en maak en dit sal goed lyk aan hulle. Wanneer jy vir ‘regte’ figure ontwerp, moet iemand eers die uitrusting aantrek en toets en dan moet jy die ontwerp aanpas. Dit gebeur amper nooit dat ons iets teken en dit dan dadelik maak nie.”

Baie van hul beste idees kom eintlik uit “foute” tydens dié proses, voeg Natasha by. “Ons gewildste skepping, die Myri-rok, was byvoorbeeld eers net ’n eenvoudige, vloeiende lang rok. Toe Carina dit aantrek, sê sy dis te lank vir haar en ons werk toe knope aan sodat jy die lengte kan verstel. Toe ek dit dra, wou ek moue hê, en ons werk toe nog knope vas sodat jy dit met of sonder moue kan dra. Die uiteinde is ’n verstelbare rok wat vleiend is vir enige figuur van enige grootte, en op ’n klomp verskillende maniere gedra kan word.”

Hul eie klerekas bestaan ook omtrent nét uit ERRE-items, lag hulle.

“Letterlik my hele kas is ERRE,” sê Carina, en Natasha knik haar kop.

“Ek het miskien een of twee Nikesweetpakbroeke en een rok van ’n ander ontwerper. Hoekom die ontwerpe skep as ons dit nie self sal dra nie?”

Dié dat hulle tydens die inperking nuwe reekse ontwerp het wat jy tuis gemaklik kan dra. “Ons is mal oor klassieke ontwerpe uit die 1950’s, veral die haute couture van daardie era. Afrika se kulture inspireer ons ook

“Maar tydens die pandemie het mense meer tuis gebly. Selfs ons het in sweetpakke by die huis rondgeloop en toe ’n reeks T-hemde en loungewear ontwerp. Ons wil altyd ons mark se behoeftes in gedagte hou,” sê Natasha.

Nuwe idees is gelukkig iets wat natuurlik kom as jy ’n passie vir styl en ontwerp het soos dié twee. Selfs voor hulle ERRE begin het, het hul lewe daarom gewentel. “Hierdie liefde kom eintlik al van kleins af,” vertel Carina.

“Ons sit juis nou die dag en gesels oor hoe ons as kinders vir ons poppe klere gemaak het. My ma het ook gereeld klere gemaak en sou my oor vakansies inspan om te help Burda-patrone aanpas. My sussie sou weer soms ’n Vogue in my hande stop nadat sy klaar gelees het. Ek was net nog altyd lief vir mode, en Natasha ook.”

“Toe ons lektore was,” sê Natasha, “sou ons tussen klasse gesels oor ons liefde vir mode en ontwerp. Carina het ’n patroonklas aangebied en ek naaldwerk, maar ons was albei in ons vrye tyd ontwerpers – ek het trouuitrustings gemaak en Carina mansklere. Ons verskillende vaardighede het mekaar goed aangevul en ons het besluit om saam ’n onderneming te begin.”

Hulle het nog drie jaar voltyds as lektore gewerk en soms deurnag gesit om ERRE-bestellings af te handel nadat hulle die onderneming in 2013 begin het, maar die lang ure het min gepla. “Eenkeer moes ons dertig rokke oor ’n naweek klaarmaak! Maar ons is so mal daaroor, dit het nooit soos werk gevoel nie – en dit voel steeds nie so nie. Dis ’n leefstyl.”

erre-fashion.com