Jeans met fraiings

FOTO Willem Lourens

Gee jou gunsteling-broek speelse beweging met fraiings op die pype.

JY BENODIG

* Jeans

* Torringmessie

* ’n Fraiingstrook van sowat 6 meter lank (dit sal wissel na gelang van die snit en die wydte van die broekspype)

* Koppiespelde skêr

* Naaimasjien

* Gare (kleur bepaal deur dié van die jeans en fraiings)

Stappe

FOTO Marzanne Schoeman

1. Dop die jeans om, verkeerde kant na buite.

2. Torring die binnenaat van elke broekspyp los tot minstens in die middel van die bobeen.

FOTO Marzanne Schoeman

3. Dop die jeans weer om, nou regte kant na buite.

4. Vou die een pyp oop en plaas die strook fraiings onderaan sodat die toutjies 1 cm oor die oorspronklike soomlyn van die jeans hang.

5.  Steek die strook van binnenaat tot binnenaat vas met spelde.

6. Knip die strook af, met ’n naattoelating van 1 cm weerskante.

FOTO Marzanne Schoeman

7. Stik die strook fraiings vas.

FOTO Marzanne Schoeman

8. Plaas die volgende strook fraiings sowat 4 cm bo die eerste strook en herhaal stappe 5-7.

9. Herhaal die proses tot  jy dink daar is genoeg fraiings aan die jeans. Doen dieselfde met die ander broekspyp.

FOTO Marzanne Schoeman

10. Stik die binnenate weer toe.