Hoe lank neem dit om die lewe uit iemand te pers? Minder as 9 minute en 29 sekondes – slepend, blitsvinnig. Die wêreld wéét, want dis hoe lank eks-polisieman Derek Chauvin sy knie op George Floyd se nek gehou het. Met méning gehóú het. 

“I . . . can’t . . . breathe . . .”

Ons wéét, want dié gebeure op 25 Mei verlede jaar op ’n sypaadjie in Minneapolis, Amerika, is deur  ’n sewentienjarige meisie met haar selfoon afgeneem. Darnella Frazier het nie weggekyk nie, nie toe die kring omstanders Chauvin smeek om skiet te gee nie. Nie toe Chauvin in haar rigting gluur nie.

Haar video was die kooltjie wat ’n wêreldwye vuur teen rassisme en onreg aangesteek het. Dit sou die verskil maak in die hofsaak waarin Chauvin aan Floyd se moord skuldig bevind is. Die energie wees agter die George Floyd Justice in Policing-wetsontwerp wat deur die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers (maar nog nie die Senaat nie) aanvaar is. En boonop tot polisiehervorming in meer as 20 Amerikaanse state lei. Darnella self is nie sonder letsels nie.

“Ek het nagte lank wakker gebly en vir George Floyd ges jammer, jammer ek het nie meer gedoen nie, nie fisiek ingetree en sy lewe gered nie,” het sy in die hof getuig.

Protesoptog in Minne polis, Amerika, waar George Floyd dood is. FOTO Getty Images / Gallo Images

Een dapper daad kan ’n tsoenami van verandering veroorsaak. Só groot, ons kan honderde jare later steeds daaroor praat. Een mens, aangedryf deur die vuur in haar bors vir ’n spesifieke saak. Of een wat, sonder skroom, haar lewe vir iemand anders aflê. Die Racheltjie de Beers. Wolraad Woltemades. Dít in ’n wêreld waar die meeste van ons skynbaar ons bes doen om nie te veel golwe te veroorsaak nie.

Sien hulle deur die geskiedenis se gange beweeg. Net maar die laaste paar dekades: Malala Yousafzai word op 9 Oktober 2012 deur die Pakistanse Taliban geskiet. Haar sonde: Sy het durf opstaan vir haar en ander meisies se reg om skool te gaan.

In 2014 het Malala die jongste ontvanger nog van die Nobelprys vir vrede geword. Tenkman, die Onbekende Betoger, of die Onbekende Rebel. ’n Dag nadat die Chinese regering op 4 Junie 1989 die betogings op die Tiananmen-plein gewelddadig onderdruk het, gaan staan dié ongeïdentifiseerde man uitdagend voor die ry militêre tenks wat die plein verlaat.

Malala Yousafzai FOTO Instagram / Malala

Maar jy hoef nie ’n grootse daad te doen wat rimpels oor vastelande heen veroorsaak nie. Die 12-jarige Mokoni Chaka en Evert du Preez, plaaskinders en boesemvriende, was op 4 Januarie 2018 ooggetuies toe ’n vragmotor en ’n trein naby Kroonstad bots en die trein ontspoor. Saam met die grootmense het hulle hul gehaas om kinders en vroue deur die gebreekte treinvensters na veiligheid te help. Die gille, het hulle agterna gesê, sal hulle nooit vergeet nie.

In Varberg, Swede, is ’n merkwaardige standbeeld van ’n vrou, Danuta Danielsson. Sy het in 1985 ’n held geword toe sy ’n neo-Nazi-heerssugtige met haar handsak gemoker het terwyl hy aan ’n regse optog deelgeneem het. Wat die standbeeld uniek maak, is dat dit haar uitbeeld terwyl sy daai handsak swaai. ’n Aksieskoot!

Dit was aksie so reg uit ’n Hollywoodskiet- skop-treffer wat Leo Prinsloo in Mei vanjaar internasionaal beroemd laat word het: As die held van die YouTube-video “Failed Cash-In-Transit Heist Because Driver Has Balls Of Steel”. Die video met hom agter die stuur van die transitovoertuig op die Pretoriase N4 is in ’n japtrap miljoene kere gekyk en was ’n insetsel op televisiekanale wêreldwyd.

Nou moet jy weet: Een mens se held is dalk die ander een se skurk. En selde is die held meer onder skoot as wanneer hy die vaandel van fluitjieblaser dra – werknemers wat onetiese of onwettige bedrywighede in hul werkplek ontbloot. Daar word dikwels deur ’n negatiewe lens na hulle gekyk: Hulle word beskryf as moeilikheidmakers, dislojaal, verraaiers, verklikkers en in Suid-Afrika, impimpi’s.

Nie dat die fluitjieblaser altyd gedryf word deur die edele begeerte om reg en geregtigheid te laat geskied nie. Sommige sit bloot tussen die hamer en die aambeeld. Dáár toe die korrupsie plaasgevind het, dalk selfs aktief daarby betrokke. En deur die klokke van waarheid te laat beier probeer hulle hulself van ondergang red. Mandy Wiener, skrywer van The Whistleblowers (Pan Macmillan, 2021), sê dan ook sy verwag dat mense na die strak galery van polisiedossieragtige foto’s op die boek se buiteblad gaan kyk. Gaan vra: Wat soek hy, of sy, hier?

Sy het ’n deursnit van Suid-Afrikaanse fluitjieblasers gekies, stories wat haar “gegryp” het. Maar wat die fluitjieblaser se motivering ook al, in die meeste gevalle is die uitkoms vir hom/haar vernietigend.

FOTO Instagram / Mandy Wiener

Mosilo Mothepu, voormalige Trillian-werknemer wat haarself midde-in die staatskaping bevind het, slaan op ’n intreeblad die spyker op die kop: “Ek hou nie van die term ‘fluitjieblaser’ nie. Dis onpersoonlik. Dis soos ’n skaduagtige, gesiglose, stemlose mens in ’n onderw reld, sonder familie, sielloos. Dis amper ’n spook. Maar ek skat dit is wat ’n fluitjieblaser is, want ons is meestal anoniem. Ons kry nie toekennings nie. Ons kry nie geld nie. Ons is helde. Ons is vegters. [. . .] Ek het my inkomste verloor, my lewe vir Suid-Afrika op die spel geplaas en sit met die nasleep van werkloosheid, depressie, posttraumatiese stresversteuring, angs. Noem maar op [. . .] Niemand erken of vergoed ons vir die nagevolge nie . . . ”

“Dis baie, baie eensaam,” word Patricia de Lille in die boek aangehaal, meer as twintig jaar nadat sy die wapenskandaal in 1999 oopgevlek het. “Mense dink ’n fluitjieblaser is sterk en daarom moet dit maklik wees. Dit is nie.” Tog sal sy dit weer doen.

“Dis die wonderlikste gevoel as jy reg bewys word. Dít laat amper alles verdwyn wat jy deurgegaan het.”

Helde. Want, sê Mandy, dikwels was die fluitjieblaser nie die enigste een in besit van die plofbare inligting nie. Wat maak dat een anderpad kyk en deur sy stilswye aandadig raak? En ’n ander práát, verplig voel om alles op die spel te plaas om iets verkeerd uit te wys? Word ’n fluitjieblaser deur ’n spesifieke karakterof persoonlikheidstipe gekenmerk?

In al haar onderhoude het sy nie een tipe ge dentifiseer nie, sê Mandy. Dis mense wie se agtergrond, opvoeding, wêreldsiening en lewenservaring verskil.

Soms is daar ooreenkomste, soos dat hulle deur ’n sterk enkelma grootgemaak is, ’n obsessie oor detail en om dinge volgens die reëls te doen, of ’n sterk sin van moraliteit. Maar ’n algemene, deurlopende draadjie het haar bly ontwyk. Hoekom verrig mense heldedade? Ons dink ongetwyfeld aan onsself as die soort mens wat iemand in nood te hulp sal snel. Jammer, jy gaan heel waarskynlik tussen die omstanders wees wat stilswyend toekyk. Sosiale sielkundiges noem dit die omstander-effek, en daar is talle studies wat dit illustreer.

Die Amerikaanse sosiale sielkundige Philip Zimbardo, skrywer van The Lucifer Effect: Understanding How Good People Turn Evil (Random House, 2008), kom tot die gevolgtrekking dat min mense werklik bose dinge doen. Maar nog minder mense tree heroïes op. Tussen die twee uiterstes is die meerderheid – die deursneemens wat hande gevou bly sit.

Hulle wat dikwels, deur hul stilswye, die pleeg van wandade ondersteun. Zimbardo het meer as dertig jaar “boosheid” (sy eie woord) nagevors. Sy naam is sinoniem met die berugte Stanford-tronkeksperiment in die sewentigs (PrisonExp.org): ’n Tronkomgewing is gesimuleer en deelnemers (studente) was “gevangenes” of “bewaarders”. Die eksperiment moes ná net ses dae gestaak word, want die “bewaarders” het die “gevangenes” toenemend afgeknou. Dié studie is al gebruik om menseregtevergrype van die Viëtnam-oorlog tot die Joodse volksmoord in die Tweede Wêreldoorlog en ’n verskeidenheid ander gruweldade te verklaar.

FOTO Unsplash

Voorbeelde van heldhaftigheid wat relatief goed bestudeer is, is hoeka nie-Jode wat hul lewe gewaag het om Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog van die Nazi’s te red. Dit het dikwels ’n bewustelike besluit vereis: Jy gaan jou en jou gesin se lewe in gevaar stel, weer en weer, dikwels jare lank. Maar dit kan ook ’n eenmalige besluit wees, klaarblyklik sonder veel beplanning of bepeinsing. Dis nou volgens ’n artikel in die Amerikaanse Journal of Humanistic Psychology, “The Making of a Hero: Cultivating Empathy, Altruism, and Heroic Imagination”.

In die artikel word gevra: Watter soort mens kies om haarself in gevaar te stel ter wille van iemand anders, miskien ’n vreemdeling? Wat motiveer die held om op te tree terwyl ons weet soveel ander bly passief? Helde word nie gebore nie, hulle word gemáák, is die gevolgtrekking. Hulle het minstens vier belangrike dinge gemeen: Jy het jouself al situasies voorgestel waar hulp nodig was en oorweeg hoe jy sou optree. Jy is baie empaties, nie net teenoor mense “soos jy” nie, maar ook teenoor dié buite jou laer. En jy het ’n mate van ondervinding of ’n vaardigheid wat jou selfvertroue gee om beslissend op te tree. (Jy kan nie iemand van verdrinking red as jyself nie kan swem nie.)

En dan, baie belangrik: Jy het al gereeld in die verlede mense gehelp, nie noodwendig met groot goed nie, maar klein dingetjies. Philip Zimbardo het nie sy navorsing daar gelaat nie. Ja, ons weet dis maklik om goeie, gewone ouens te verlei om slegte dinge te doen, sê hy. Daarvan is die geskiedenis vol voorbeelde. “Maar dis  óók moontlik om mense te inspireer, te leer om helde te wees, goeie dinge te doen.”

Dis presies wat hy met sy Heroic Imagination-projek wil bereik (heroicimagination.org). Ook jy´ kan ’n held wees, sê hy. Ook jy kan daardie natuurlike, menslike geneigdheid oorkom om passief terug te staan en toe te kyk tydens ’n krisis; jou deernis en medelye vir die mensdom vat en dit in heldhaftige optrede omsit.

“Dis ’n ander soort held, nie polities nie, nie militêr nie. Dis gewone mense, veral jongmense, wat daagliks dade van goedheid en welwillendheid doen. Ons leer jou hoe, gebaseer op die fundamentele beginsels van die sielkunde.”

Zimbardo glo ons het almal ’n innerlike held. Dikwels moet joune net ’n bietjie wakker geskud word. Kyk om jou, wie hulp nodig het. Steek jou hand uit en help. Klein dingetjies . . .

Daai prins wat die draak verslaan en die prinses se hart verower het, het dalk sy rol ingeoefen deur ou tannies oor die straat te help.

’n Lekker gedagte.

Só lyk ’n held

  • ONS WORD OMRING DEUR HELDE: Een uit 5 (20%) mense kwalifiseeras helde op grond van sosiale sielkundige Philip Zimbardo se definisie.Sowat 72% van mense meen hulle het al iemand gehelp in ’n gevaarlikesituasie. Sowat 16% het die fluitjie geblaas n ’n onreg. Sowat 6% het opofferings gemaak vir ’n vreemdeling of iemand wat nie familie is nie. Sowat 15% het opgestaan teen ’n onbillike gesagsfiguur.

  • VRYWILLIGE WERK MAAK SAAK: ’n Derde van die “helde” in die steekproef het gereeld vrywilligerwerk gedoen, tot 59 uur ’n week.

  • GESLAG MAAK SAAK: Meer mans as vroue het gemeld hulle het al heldhaftige dade gedoen. Dalk omdat vroue hul dade nie as heroïes beskou nie, maar as iets wat hulle vir ’n vriend of familielid moet doen, spekuleer Zimbardo.

  • RAS MAAK SAAK: Swart mense is agt keer meer geneig as wit mense om as ’n held te kwalifiseer. Dalk het hulle meer geleentheid daartoe, spekuleer Zimbardo.

  • PERSOONLIKE GESKIEDENIS MAAK SAAK: As jy ’n persoonlike trauma of ramp oorleef het, is jy drie keer meer geneig om vrywilligerwerk te doen en ook om ’n heldedaad te verrig.

’n Studie deur Zimbardo met 4 000 Amerikaners. Besoek zimbardo.socialpsychology.org