Ons het gaan kers opsteek by lekkeslaap.co.za om te hoor wat hul beste kampwenke is.

1.Indien jy langs water kamp waar die kwik saans nogal laag kan daal, vat ’n paar koerante saam en sit dit onder jou opblaasmatras of slaapsak om jou teen die koue te isoleer.

2. Kampkos hoef nie net uit blikke te kom nie, jy kan heerlike varsgemaakte geregte óók geniet. Vir diegene wat graag slaai maak, draai jou slaaikop in foelie toe, dan bly dit langer vars in die koelboks.

3. Indien jou vuuraanstekers op is, gooi kookolie oor koerantpapier om die vlamme te stook.

4. Maak vuurhoutjies waterdig deur die voorpunte in naellak of kerswas te doop.

5. Gooi ’n kombers wat as ’n mat kan dien in jou tent, dit sal nie net ekstra gemak oor boomwortels bied nie, maar ook die skoonmaak voor jul vertrek soveel makliker en vinniger maak. Skud dit bloot uit en siedaar!

FOTO Unsplash

6. Ontdek die wonder van droë sjampoe. Jy vryf bloot hierdie min-moeite-poeiersjampoe in jou hare, los dit vir ’n paar minute en kam jou hare uit. Die poeier absorbeer olie sodat jou hare weer mooi skoon lyk.

7. As jy nie muskietweerder het nie, vryf die binnekant van lemoenskille oor jou lyf om die peste weg te hou.

8. Kabelbinders en kleefband kan enige ding regmaak, enige ding! Indien jy nie die hele kleefbandrol wil saamneem nie, draai so ’n paar meter om jou vuuraansteker.

9. Draai waterbottels in foelie toe om dit langer kouer te hou.

10. As jy wil verseker dat jou tentpenne en -toue nie saans ’n onskuldige verbyganger pootjie nie, plaas oopgesnyde tennisballe oor die bokant van die tentpenne. Vir die toue, draai ’n stuk foelie daarom, so halfpad tussen die tent en die pen. Die foelie sal in die lig van ’n flits weerkaats.