Ek het vir Christien 5 vinnige vrae per e-pos gevra.

Christien Neser. Foto: Hanneri de Wet

Hoe het dit gebeur dat jy jeugboeke begin skryf het?

Ek het per ongeluk begin skryf, hoewel ek al van kleintyd af stories vertel. As ’n baie bang kind wou ek saans by my jonger sussie in haar bed slaap. Die prys vir daardie voorreg was ’n storie. Sy het die karakters gekies en ek het stories opgemaak. Amper soos Scheherazade wat 1001 nagte lank stories vertel het. Terwyl ek in 2003 by die Universiteit van Johannesburg met my MA in linguistiek besig was, het ek by die Departement Afrikaans ’n advertensie gesien vir ’n jeugverhaalkursus, aangebied deur Marthinus Basson. Dit het perfek ingepas by die uur wat ek oopgehad het vóór my Woensdagaandklas. Dit was die begin. In 2007 het ek, genooi deur ’n vriendin, die Lente-Skryfskool van die NWU en ATKV op Potch gaan bywoon. Tot ons ontnugtering (ons het natuurlik nie die papierwerk mooi gelees nie) is dit toe ’n romanse-skryfskool. Nie een van ons twee wou liefdesverhale skryf nie. Toe ons huiswerk kry om die openingstoneel van ’n liefdesverhaal te skryf, toe kies ek tieners as karakters. Ek was doodbang om volwasse karakters te kies wat dalk tussen die lakens kon beland, synde maar ’n bietjie koekerig. Daardie opdrag was toe die openingstoneel van Kondensmelk (2009), wat deur Lapa uitgegee is.

Hoe begin ’n storie vir jou, met ’n karakter of ’n gebeurtenis?

Die karakter en die storie kom gewoonlik so saam-saam by my aan. Maar ek reken my stories word deur sterk karakters gedra. Vir my is dit belangrik om my karakters te leer ken. Ek moet weet hoe elke karakter dink, praat, loop, lyk. Dit help as ek iemand wat ek reeds ken, as my prototipe te gebruik.

Ek probeer vir ’n jong leser skryf, maar ek weet dat ouer mense dit ook lees. My hartsbegeerte is om die soort boek te skryf wat ek self op hoërskool sou wou lees. Die ergste kritiek sou wees as ’n kind vir my sê die boek is vervelig. So ja, ek probeer met my leser se emosie werk.

Wat was die vonk vir Absoluut Einstein (Tafelberg, R180), jou jongste jeugroman?

As spraakterapeut het ek met ’n fassinerende klein seuntjie gewerk wat op 6 met outisme gediagnoseer is. Vandag noem hy homself ’n Aspie, omdat hy meer van die Asperger-diagnose hou. Ek het sy ouers gevra of ek sy karakter kon “steel”, ’n ander naam gee en as fiktiewe karakter binne ’n fiktiewe gesin plaas om ’n storie te vertel met outisme as tema. So is die karakter Micha gebore. Met hul toestemming het ek Amper Einstein (2013) geskryf. En toe hierdie seuntjie ’n tiener word, hoërskool toe gaan en ons paaie weer kruis, het ek besef dat die tyd ryp is vir ’n opvolg. My hart wou breek oor die stories wat hy my vertel het. Met sy toestemming, en met sy ouers se goedkeuring, het ons Micha toe ook hoërskool toe laat gaan. Dit is hoe Absoluut Einstein (2020) gebeur het.

Wat was die moeilikste van die verhaal?

Ek wou ’n verteller kry wat nie Micha is nie. Ek het eers die storie uit sy oogpunt geskryf, maar gevoel ek matig my aan om te probeer dink soos wat hy dink. Dis ook moeilik om Micha as ’n volronde mens uit te beeld sonder om van hom ’n karikatuur te maak. Hopelik help die humor daarmee. Dis om tieners met ’n lekker storie te laat verstaan dat ’n persoon met outisme anders is, maar nie minder nie. Die slagspreuk van die Vereniging vir Outisme is juis: Different, not less. 

Hoeveel navorsing moes jy doen om die verhaal geloofwaardig te hou?

As mens die waarheid vertel, hoef jy niks te onthou nie. En ek het baie naby aan die waarheid gebly. Ook die kwadrupleeg in die verhaal is gebaseer op ’n jongmens in ons vriendekring. Dis uit eie ervaring geskryf, maar ja, ek lees voortdurend op oor outisme, oor terapie, oor navorsing, oor nuwe denkwyses daaroor.