Leonie van Rensburg, eienaar van Graffiti Boeke, en die skrywer Sophia Kapp het saamgespan om Lyfskap (Lapa Uitgewers, R250), ’n bundel bestaande uit 25 uiteenlopende erotiese kortverhale, saam te stel. Leonie vertel dat erotika nie iets is waaroor ’n mens giggel nie, dis skryfwerk soos enige ander. Wat die verhale betref, is sommige lighartig en speels, maar ander bekyk lyflike vervulling uit ’n ernstige hoek.

Die skrywers wat bygedra het, het uiteenlopende agtergronde en bied hul unieke blik op erotika. Onder hulle is Maya Fowler, Joan Hambidge, Zirk van den Berg, Fanie Viljoen, Riana Scheepers, Jan Vermeulen, Irna van Zyl, Hans Pienaar, Marion Erskine, Leon van Nierop en Kerneels Breytenbach.

Sophia Kapp en Leonie van Rensburg, samestellers van die bundel, Lyfskap.
 

Ek het per e-pos met Pretoria se geliefde boeksmous, Leonie van Rensburg, oor die projek gesels.

Wat was die vonk vir die bundel?

Ná baie jare in die boek- en skryfbedryf het ons ’n belangrike ding geleer: Afrikaanse lesers is bereid om enige genre te aanvaar wat hul Engelse eweknieë aanvaar, mits dit goed geskryf is. Omdat Afrikaans ’n taamlik klein taal is, kan ’n mens nie bekostig om swak skryfwerk die wêreld in te stuur nie – boekkopers sal jou nie daarvoor vergewe nie. Maar as dit goed geskryf is, as daar werk en talent in ’n boek ingegaan het, sal hulle enige genre lees. Na ons mening is lesers gereed vir goeie erotika.

Dit is ook nodig dat hierdie genre in Afrikaans geskryf word. Dis goed vir die taal, en ’n bewys van sy reikwydte dat hy ook hierdie soort skryfwerk kan produseer. Dit was werklik ’n baie aangename verrassing om te sien met hoeveel vaardigheid en erns Afrikaanse skrywers dit aanpak, en hoe hulle dit regkry om hierdie moeilike skryfwerk elegant aan te bied.

Hoe het julle op die titel van Lyfskap besluit?

Ons het nogal lank daaroor gepraat, gewik en geweeg, en toe op Lyfskap besluit (na aanleiding van Karin Hougaard se skets met dieselfde naam) omdat dit die uiteenlopende geaardheid van die verhale weerspieël. Erotika is nie iets waaroor ’n mens giggel nie, dis skryfwerk soos enige ander. Sommige van die verhale is lighartig en speels, maar ander bekyk lyflike vervulling uit ’n ernstige hoek, en ons wou aan hierdie skrywes reg laat geskied. Dit gaan dus oor die verhouding tussen die mens en die liggaam, oor die fisieke, oor die belewing van seks en van vervulling, en oor die uitval [nagevolge] daarvan. Ons glo die titel en die voorbladkuns vat hierdie rykheid van die aanbod in die boek mooi vas.

 
Foto: Verskaf


Waarna het julle gekyk in ’n verhaal om te kon kwalifiseer vir insluiting?

Dit was nogal ’n uitdaging, want ons het baie bydraes gekry, almal van ervare skrywers. Maar dit is ’n onderontginde genre in Afrikaans, en ons het nie ’n resep of stel voorskrifte gehad waarmee ons kon werk nie. Uiteindelik het ons gewoon deur al die bydraes gelees en op grond van die gehalte van die skryfwerk stories gekies. Die verhale wat uiteindelik ingesluit is, was gewoon dié waarin die skrywer uitstekend met die tema en die woord gewerk het.

Het jy en Sophia meestal saamgestem of het julle uiteenlopende opinies oor die verhale?

Ons het onafhanklik gewerk toe ons die verhale gekies het, juis sodat ons mekaar nie beïnvloed nie. Ons leessmaak stem nie noodwendig ooreen nie – Sophia is meer van ’n romantikus, ek lees uit die aard van my werk wyer – maar ons deel een vereiste, dat skryfwerk uitstekend moet wees om ons aandag te behou. Ek het ’n lys gemaak van verhale wat ek wou insluit, sy het ’n lys gemaak, en toe ons dit vergelyk, was dit feitlik identies. Daar was een of twee waaroor ons ’n gesprek gevoer het, maar uiteindelik was gehalte die deurslaggewende faktor.

Kan julle ’n verhaal uitsonder as ’n gunsteling?

Dis nou moeilik. As jy so ’n bundel saamstel, is die lekker daarvan juis die feit dat elke skrywer die storie met ’n eie stem en ’n eie insig vertel. Die aantreklikheid van hierdie boek is die uiteenlopendheid van die aanbod, die verskillende invalshoeke, en die uniekheid van elke storie. Om een uit te sonder as ’n gunsteling sou die boek ’n onreg aandoen.

Was daar ’n bydrae deur ’n skrywer wat jou verras het?

Wat ons verras het, is wie bereid was om deel te neem. Hoewel ons gemeen het die tyd is ryp vir Afrikaanse erotika, was ons nie seker hoeveel skrywers ons mening deel, en hoeveel van hulle bereid sou wees om hul naam aan so ’n projek te koppel nie. Die spook van valse ordentlikheid sit altyd mos maar vlak in Afrikaanse skryfwerk se verlede, en ons het gewonder of deelnemers vir hom gaan skrik. Die feit dat soveel hoofstroomskrywers uit soveel verskillende skryfagtergronde sonder skroom hul bydraes ingestuur het, was nie net ’n verrassing nie, dit het ’n mens sommer weer opgewonde gemaak oor wat alles nog vir en in die Afrikaanse boekbedryf kan gebeur.

Riana Scheepers, die skrywer van SARIE se rubriek Laaste sê, het ook ’n verhaal in die bundel. Lees dit hier. 

Troos deur Riana Scheepers

Sy pak ’n tas vol goed en klim in haar kar. Sy ry noord, ’n skurwe, onherbergsame pad. Daar is min verkeer; net ’n paar motors wat van voor aankom. By die naaste dorp voor haar bestemming stop sy by ’n supermark en koop ’n boks vol kruideniersware. Sy stap in by die klein drankwinkeltjie net langs die supermark. Daar hang ’n paar vodderige mense op die stoep rond wat haar onverbloemd nuuskierig aankyk en onderlangs praat. Vreemde vrou, so vol lappe gedraai, en dit in hierdie hitte, hier op onse dorp. Wat drank koop. Nogal, nè?

Die plek is donker binne in ’n poging om die hitte uit te hou. Sy koop wyn. Ook ’n paar bottels landgoedbrandewyn.

En toe vat sy die pad, draai ná veertig kilometer van die teerpad af. Sy ry op ’n grondpad die droogte in, die landskap in, die klipkoppe in, die niet in.

Die boervrou by wie sy die volkshuis huur, kyk haar só. Dit is ’n jong vrou; sy het ’n modieuse linnehemp aan by haar kuitbroek, haar hare in ’n poniestert opgebind.

“Jou naam is Leia, nè?”

Sy knik.

Wat op aarde soek jy, so godsielsalig alleen, hier op ’n plek waar niemand wil wees nie? Dit alles is in haar oë, maar sy vra nie, gee net vir Leia die sleutel en beduie hoe sy verder deur die kloof moet ry: Volg net die pad deur die rivierloop tot daar, jy sal sommer sien. By die groot kareeboom.

“Jy sal vra as jy iets nodig het?”

“Ek sal,” antwoord sy, maar sy weet sy sal nie. Dit wat sy nodig sal hê, het sy reeds.

“Pasop tog maar,” sê die boervrou, “hier’s nog luiperds in die klowe. En bobbejane wat onhebbelik kan wees. Hou jou vensters toe as jy uitgaan, anders gaan jy net skade hê. En slange. Hou die onderdeur heeltyd toe, anders kom hulle in.”

Ja, sy sal pasop. Maar om die waarheid te sê: Sy sal nie pasop nie, sy gee werklik nie eintlik om as sy bloederig verslind word deur ’n luiperd nie. Luiperd se slagtande of slang of bob­bejaan is meer aanvaarbaar. As.

Die boervrou kan haar nuuskierigheid nie langer wegsteek nie. “Is jy ’n kunstenaar? Dat jy so alleen wil wees? Werk jy aan iets?”

“Nee,” antwoord sy, en draai weg.

Die huisie is donker en koel, die brandsolder ’n beskutting teen die siedende son. Buite staan die landskap verskrik in die sidderende stilte. Die bome is verbysterd teen die aanslag van die droogte. Die kareeboom is nog groen, dit gooi ’n skadu­wee oor die stoep.

Daar is ’n bed met wit lakens, ’n outydse, gevlekte badkuip. Hortjies voor al die vensters. ’n Yskas. ’n Stofie. ’n Gasgeiser. ’n Groot kaggel in die voorhuis wat in die winter sekerlik met ’n inferno van vuur kan brand. Maar nie nou nie. ’n Tafel met vier stoele. ’n Stukkie hout onder die een poot om die tafel se ronddans op die ongelykte vloer te stuit. ’n Braaiplek buite op die stoep, diep stoele waarvan die verf afdop. ’n Draggie hout langs die braairooster.

Presies waarvoor sy gevra het.

Veral die feit dat daar nie ’n enkele mens naby haar is nie; die volkshuisie staan heeltemal afgesonder van alles en almal op die plaas. Nee, geen skoonmaakdiens nie, asseblief, nie­mand, niemand, het sy voor die tyd afgespreek.

“Wees gerus, daar is niemand in die omtrek nie,” het die boervrou sardonies bevestig. “Niemand wil Karoo toe kom in dié droogte nie. Almal vlug.” En toe, stiller: “Ek wens ek kon ook ’n bietjie vlug. Net tot dit weer gereën het.”

Sy sit die melk en wyn in die yskas, die groente in die onder­ste laai. Pak die res van die kosgoed in die koskas. Haar paar stukkies klere kom in die antieke oregonhangkas. Die mid­delste paneel van die hangkas is ’n spieël, fyn gebars met kra­keel wat oor die hele spieël skimmel en die bed agter haar dof weerkaats, soos ’n eggo uit ’n donker kloof. Dit is ’n vrou met groot oë in ’n bleek gesig wat uit die spieël na haar kyk. ’n Vrou met donker hare en heeltemal té veel klere aan in dié hitte.

Sy draai die serp om haar nek los. Knoop die langmouhemp se knopies wat styf om haar polse sluit oop. Uit. Langbroek. Die duur, fleurige bra wat haar borste onbeskaamd oplig. Die bypassende broekie van amper niks. Alles uit. Beland op ’n hopie onder by haar voete.

Haar vel slaan hoendervleis uit van die skielike koue in die skemer kamer, haar tepels trek styf.

Lank staan sy na haarself en kyk in die dowwe spieël. Elke letsel, elke kneusplek, elke blou kol toegedien deur ’n wellustige minnaar wat wil kyk, en begeer, en verower; tot bloedens toe verower. En vernietig. En dan probeer troos.

Sy stap uit op die stoep, haar vel witbleek van te min son, af met die treetjies, tot sy in die blakende son staan; die gruis skerp en vuurwarm onder haar voetsole. Die hitte slaan haar soos ’n sweepslag. Sy sidder onder die aanslag daarvan, maar bly roerloos staan. Leeg tap sy, voel elke druppel vog wat van haar vel verdamp. Sy voel hoe die son haar skroei, hoe sy kleiner word, inkrimp soos ’n droogtevrug.

Eers toe sy lighoofdig is van die hitte, gaan sy terug na haar kamer. Sy klim met ledemate wat stram en styf is van haar geskroeide vel tussen die bed se koel lakens in.

En slaap.

Tot die volgende oggend toe die voëls se gesketter in die kareeboom haar wakker maak.

Sy klim in die bad, voel hoe haar vel uitswel in die wa­ter, die vog indrink. Toe sy uitklim, smeer sy haar hele lyf met room, sorgvuldig, elke klein onderdeel van haar liggaam.

Oor elke wond streel sy, masseer die kneusings, oud en nuut, elke litteken.

Stil leef sy, sonder gedagtes, sonder drome óf nagmerries. Die dae smelt naatloos in mekaar. Vroegoggende staan sy op, nog beswaarlik lig, stap die klipkoppe in. Sy eet min, drink baie water. Drink saans wyn op die stoep en sien hoe die landskap versag, inniger word met die aankoms van die nag. Sterre, brandpunte van lig. ’n Skrefiesmaan wat elke nag ’n naelskerf groter word en stadig deur die lugruim seil.

’n Luiperd se hees hoes in die kloof.

’n Luiperd se silhoeët teen ’n kliprand.

Elke dag kyk sy na haar liggaam in die skemerspieël. Sy sien die kneusings wat stadigaan wegkwyn, die littekens van ou wonde wat nou skerp en wit afsteek teen haar vel wat sta­digaan verbruin.

Sy smeer haar lyf met room en sagte olie; elke klein gedeelte, stadig en deeglik. Verwonderd kyk sy na haar hande en dye, die kurwe van haar kuit.

Ek neem my liggaam terug, dink sy, dis myne, dis ek.

’n Luiperd se asem net buite haar venster, die hitte van sy vel wat sy kan voel; die gloei van sy oë wat sy op haar voel brand.

trek jou bloes uit, hyg hy, sy oë star en starend, en sy trek haar bloes uit jou langbroek, trek uit, beveel hy skor en draai om, sê hy

en sy doen dit, sy draai, stadig en gestileerd in die duur onderklere wat hy net die middag vir haar gekoop het, die hemelhoëhakke wat sy aan­het sy byt aan die binnekant van haar wang tot sy bloed proe, want geen emosie mag sy toon nie, niks, nie ’n spier trek nie, sy moet stadig draai, en wieg, en buk, en sensueel buig, sy hande speels ontwyk en dans en tart

tot hy dit uithaal wat hy by hom het, karwats of vuis of speelse lem en geen woord mag sy sê nie, omdat sy aan hom behoort en omdat dit hom behaag en geen snik, ook nie eens as hy uitgestort en uitgewoed en snotterend hui­lend en hygend na asem teen haar lê en haar in sy groot hande bymekaarmaak en probeer streel, probeer troos nie

Sy sit net in ’n T-hemp en ’n broekie in een van die stoele op die stoep toe sy die bakkie sien aankom. Eers die digte stof­streep, al met die pad langs, toe die geluid van die enjin soos wat dit van rat verwissel deur die knikke van die pad en die drif; uiteindelik die bakkie met die boervrou agter die stuur. Die eerste teken van ’n ander mens in tien dae. Die erger­likheid roer in haar maag. Sy bly sit net waar sy is met haar bene onder haar ken ingetrek, hopelik onsigbaar en deel van die donkerte in die skaduwee van die stoep.

Die bakkie stop in die skrapse koelte van ’n soetdoring. Die boervrou klim uit, haar poniestert swaai terug oor haar skouer. Geoefend klap sy die agterkant van die bakkie oop, spring met een, gemaklike beweging op die bak, asof sy dit al honderde kere gedoen het.

“Ek het vir jou ’n nuwe gasbottel gebring, die een hier gaan binnekort leeg wees,” roep sy van bo-op die bakkie.

“Dankie.” Maar sy staan nie op nie.

Die vrou rol die gaskan behendig van die bakkie af, verdwyn al draaiend en rollend daarmee na die huis se agterkant. Ná ’n paar minute verskyn sy weer, vee haar hande aan haar kortbroeksitvlak af.

“Ek het dit sommer klaar vir jou gekoppel, dan hoef jy nie te sukkel nie.”

Sy het grys oë, sien Leia. Grys, vraende oë.

“Alles nog in orde hier? Het jy iets nodig?”

“Nee, dankie.”

“Wag . . .” Die vrou stap terug na die bakkie, kom terug met ’n stapel skoon linne en ’n enemmelbakkie met ’n deksel. “Ek het sommer skoon linne gebring. En iets uit die kombuis.”

“Dankie.”

Staan met die linne in haar hande uitgestrek onder die stoep, huiwerig om nader te kom.

Teen wil en dank moet Leia opstaan. Sy is intens bewus van haar kaal bene, haar voete, haar arms wat so oop is.

“Nogmaals, dankie.” Dis eers toe die boervrou wegdraai dat sy weer praat. “Ekskuus, daar is wel iets . . .”

Die vrou draai om, glimlag vriendelik, afwagtend.

“Ek . . . ek sou graag . . . Is daar ’n moontlikheid dat ek dalk nóg ’n bietjie langer kan bly?”

Die vrou knik. “Dit sal geen probleem wees nie, ek het nie ander besprekings nie. Dis net jy.”

“Dis net . . . ek sal dan ’n paar goed nodig hê. En ek wil nie ry nie.”

“Dit sal nie nodig wees nie, ek gaan môre dorp toe. Ek kan maklik vir jou kry wat jy wil hê. Wat sal dit wees?”

Leia se kop duisel, sy kan nie dink nie. “Ek weet nie eint­lik nie . . . nie veel nie . . . net die nodigste.”

“Sal ek sommer self besluit en vir jou ’n boks opmaak? Met wat ’n mens elke dag gebruik?”

“Ja . . . ja, dit sal reg wees. Dankie.”

“Hoe lank sal jy nog wil bly?”

“Nog so twee weke, ná die tyd wat ek reeds bespreek het?”

“Reg met my! Dan sien jou weer môre? Ek sal sommer dan ook jou gebruikte lakens en handdoeke kry.”

Die vrou los haar met die stapeltjie vars linne geurend in haar arms, die kardoes bo-op; vertrek in ’n stofwolk wat sta­dig weer neersif.

Daardie aand eet Leia die bakkie met kwepertert en room wat die boervrou gebring het. Skink vir haar ’n glas brandewyn. Vir die eerste keer in jare is daar iets wat vir haar lekker is.

Kwepers en room en brandewyn.

En ’n verskietende ster wat ’n vlamspoor deur die lug trek.

Die luiperd wat behoedsaam onder die stoeptreetjies kom lê, nét buite die ligkring van die kers.

Leia is gereed toe sy die bakkie se dreuning hoor. Sy het ’n lang, ligte rok aan, maar is kaalvoet. Haar gebruikte linne is netjies opgevou en staan gereed op die kombuistafel. Die boervrou het ’n blos op haar wange toe sy uit die bakkie klim; kom aange­loop met ’n boks in haar hande.

Leia wag vir haar op die stoep.

“Genade,” lag sy. “Dis warm! Kan ek dié vir jou in die kombuis neersit?”

Leia staan tru dat sy by die deur kan ingaan.

“Jy moet maar kyk wat daar als is, ek hoop dis reg? Hier’s vars groente en vrugte en kaas en jogurt en melk en . . . Alles wat ek gedink het. En ’n bietjie vars kruie uit my tuin.”

Sy gooi haar poniestert terug, lag vriendelik. “Mag ek ’n bietjie water kry, asseblief? Dis bleddie warm in daai bakkie, sy aircon het verlede week ingekonk, ek sal dit moet laat reg­maak.”

“Natuurlik.”

Leia kry ’n glas, maak die yskasdeur oop om die beker water uit te haal. Huiwer ’n oomblik, draai dan om. “Jy wil nie dalk ’n glas koue wyn hê nie?”

Die boervrou kyk behoedsaam na haar. “Dit sal lekker wees! As jy wil . . . ek wil jou nie steur nie . . .”

“Nee, glad nie. Jy steur nie.”

Hulle sit om die kombuistafel, proe versigtig aan die koue, droë wyn.

“Jinne, dis lekker. Wanneer laas het ek in die middel van die dag wyn gedrink?” Die vrou lag saggies. “Lanklaas. Lánk-laas. Gesondheid!”

Die klank van glase teen mekaar is helder en skoon soos bergwater. Sy kyk op. Leia kan die sproete oor haar neus sien.

“My naam is Nina.”

“Nina.”

Hulle drink in stilte. Toe haar glas leeg is, staan sy op. “Ek moet gaan.”

“Ja.”

Vir ’n oomblik staan Nina langs die kombuistafel. Met haar vinger raak sy aan Leia se arm, haar vinger volg stadig die dowwe, wit letsel oor haar voorarm. Van haar pols tot in die waai van haar elmboog.

Leia sit doodstil, sy haal nie asem nie. Sy kan die ander vrou se hare ruik, haar vel, haar sproete. Sy ruik soos son. Soos skoongebrande klip. Soos ’n ster wat verskiet. Haar vinger is koel op haar arm, soos ’n yskoue lem wat deur ’n ou wond sny. Leia wil hê dat haar vinger daar moet bly, net daar moet bly, moet bly.

Maar toe vat sy die stapeltjie linne op die tafel, en loop.

Daardie nag kom die luiperd soos ’n fantoom uit die donker, sluip skigtig tot op die stoep. Leia hou haar oë afgewend, sien onder halfgeslote ooglede hoe hy nader kom, teen haar stoel kom lê. En grommend begin spin.

Sy verroer nie ’n spier nie.

Die luiperd gloei in die dowwe lig. Sy sit die hele nag in die stoepstoel, raak êrens in die nanag aan die slaap met haar kop skeef die stoel se leuning.

Toe dit lig word, is die luiperd weg.

Leia gaan klim in die bad. Toe sy uitklim, smeer sy, soos elke dag, haar lyf met room. Soos ’n Sulammitiese bruid smeer sy sagte olie oor haar; voel hoe dun haar vel is, maar soepel, en bruin. Die donker kneusings skaars sigbaar.

Daar is nie ’n teken van ’n stofspoor in die pad nie. Net teen laatmiddag dik wolke wat uitswel en groot vlekke skadu­wee oor die landskap gooi. Dit is warm, die lug elektries. Toe dit donker word, koel dit nie af nie. Daar is veraf donderweer wat begin rammel, dowwe blitse in die wolke op die horison.

Leia sit op die stoep om na die orkes van donderslag en weerlig te kyk.

Kort voor middernag begin ’n paar warm, swaar drup­pels val, en al hoe meer; dit kletter soos klippe op die stoep se sinkdak. Sy staan op, trek al haar klere uit. Sy stap uit, haar vel gloeiend in die donker, af met die treetjies, tot sy in die oopte staan. Die gruis is louwarm onder haar voetsole. Die reëndruppels slaan haar soos ’n sweepslag, sy sidder onder die aanslag daarvan, maar bly roerloos staan. Haar liggaam tap vol, sy voel hoe elke druppel reën wat op haar val, ingedrink word. Sy voel hoe sy afkoel, hoe haar lyf uitswel soos ’n fontein.

So staan sy tot sy deurdrenk is, haar hare ’n nat sluier om haar skouers.

Dit is die luiperd se tong wat haar wakker maak. ’n Sagte, skur­we tong oor haar skouer, oor haar bors. Die luiperd is langs haar bed. Hy grom saggies, ’n rammeling diep uit sy keel. Hy ruik soos ’n berg, soos grond. Hy ruik soos ’n donker wolk vol reën.

Leia draai haar lyf na hom, gooi haar kop agteroor, bied haar keel, haar borste vir hom aan. Sy maak haar arms oop, lê weerloos voor hom. Die luiperd se grom word ’n gespin van behaaglikheid, sy tong warm oor haar keel. Versigtig, noukeurig verken hy haar liggaam met sy bek, sy tande, sy tong. Haar borste, af na haar maag, haar dye, bene, voete. Aan elke kneusing ruik hy voordat hy dit lek, sagter as op die res van haar lyf. By elke litteken stop hy, tas eers die dikker tekstuur van die letsel met sy tong af voordat hy verder gaan.

Eers toe hy haar hele liggaam verken het, laat rus hy sy kop op haar maag, sy spin diep en rustig. Leia lig haar hand, streel oor sy growwe hare, krap hom saggies agter die ore. Sy raak aan die slaap met die reën wat druisend op die sinkdak val; die reuk van nat grond en die muskus van haar dye in haar neus.

Die boervrou se bakkie is vol modder toe sy voor die deur stop. Dit reën nog steeds. Dit is nou ’n sagte, deurdringende reën wat die landskap in ’n vaal sluier bedek. Die kareeboom is ’n dowwe, groen wolk in die versluierende waas. Nina het ’n ligte somerrok aan wat klammerig aan haar liggaam klou.

Leia wag haar in op die stoep. “Kom in,” sê sy, “ek het vir jou gewag.”