As jy droom (Pan Macmillan, R180) vertel Megan Werner se verhaal. Dié merkwaardige jong meisie wou van jongs af ’n vlieënier word. Haar droom was om saam met ’n groep ander tieners ’n vliegtuig te bou en daarmee van Kaapstad na Kaïro te vlieg. Daniëlla het die nuusberigte oor en onderhoude met Megan gevolg en toe ’n uitgewer haar kontak om dié storie in ’n boek oor te vertel, kon sy nie anders as om ja te sê nie. Haar aanvanklike planne oor hoe sy die skryfproses sou aanpak, is deur die Covid-pandemie in die wiele gery. Sy wou oor ’n paar koppies koffie met Megan gesels, maar dit was nie moontlik nie. Dankie tog vir tegnologie en Megan se vaardigheid daarmee, vertel Daniëlla. Haar jeugroman is ’n inspirerende verhaal van deursettingsvermoë, moed en durf. Hoe jong mense kan saamwerk om ’n gemeenskaplike doel te bereik en hoe jy met harde werk ’n droom vlerke kan gee ...

(Photo by Cornel van Heerden) www.cornelvanheerden
Foto: Cornel van Heerden

Ek het per e-pos met Daniëlla van Heerden oor As jy droom gesels.

Jy het reeds vroeg in jou lewe geweet jy wil n joernalis word. Megan Werner het ook reeds van jongs af daarvan gedroom om n vlieënier te word. Is dit wat jou aangetrek het tot haar verhaal?

Die element van ’n jong mens wat van jongs af ’n droom najaag, was beslis een van die trekpleisters. Maar as joernalis is ek veral geprikkel deur die nuuswaardige element van Megan en die U-Dream Global-span se reis. Ons is immers altyd op soek na dinge wat vreemd, uniek en uitsonderlik is. En die kern van Megan se storie is so nuuswaardig as kan kom: “Jong meisie en tienervriende bou ’n Sling4; vlieg daarmee van die Kaap na KaÏro.” Dit het destyds reeds my aandag getrek, en ek het vermoed dit sal ook ’n wonderlike storie(boek) maak.

Hoe het julle die eerste keer met mekaar kennis gemaak?

Ek het met Megan en haar ma vergader oor die moontlikheid om ’n boek oor hul ervaring te skryf. Ons het ontmoet by die Lanseria-lughawe, met vliegtuie wat langs ons land en opstyg! Die Werners is deur en deur ’n “lugvaartgesin” en Megan se liefde vir (en kennis van) vlieg was van meet af duidelik.

Waarom juis haar storie as die onderwerp vir jou eerste boek kies?

Ek is deur Miemie du Plessis van Pan Macmillan genader om die storie in ’n jeugverhaal te omskep. Ek was egter deeglik bewus van die U-Dream Global-projek, want ek het dit met groot belangstelling gevolg en onderhoude met Megan gelees. Ek het dus nie geaarsel nie en die geleentheid dadelik aangegryp.

Is jy as joernalis meer aangetrokke tot die vertel van ware gebeure, of sal jy ook jou hand aan suiwer fiksie waag?

Ek dink dit is vir my meer natuurlik om ander se stories te vertel, maar ek het van jongs af tog óók gehou van opstelle skryf en kreatiewe skryfwerk. Ek het selfs Skryfkuns (onder prof. Hans du Plessis van die NWU) as universiteitsvak gehad. Omdat ek die laaste ruk egter meer nie-fiksie skryf, was my kreatiewe vaardighede ’n bietjie verroes!Miemie het my egter onlangs ook die geleentheid gegee om ’n kortverhaal vir ’n tienerbundel (wat later op die rak sal wees) te skryf en ek het dit só geniet. En nou is ek vuur en vlam om ook ’n suiwer fiksieboek vir die jeugmark te skryf. Die idee begin reeds vorm aanneem in my dagdrome ...

Die boek is tydens die inperking geskryf. Hoe het dit die skryfproses, jou loopbaan sowel as jou persoonlike lewe geraak?

Die plan was aanvanklik om gereeld na Megan toe te ry en met haar onderhoude te voer oor ’n koppie koffie. Maar toe kom steek Covid ’n stok in die speke. Ons het egter vinnig aangepas – Megan is immers 19 jaar oud, so tegnologie is veral vir haar géén struikelblok nie. Ons het toe bloot vir mekaar stemboodskappe gestuur. Ek dink daar is seker agt uur se klankgrepe van haar op my foon.Dit het eintlik baie goed uitgewerk, want ek het die boek geskryf tydens die vier maande van my kraamverlof. Ek kon dus na haar boodskappe luister wanneer my baba slaap, en sy kon dit op haar beurt stuur wanneer sy tyd gehad het. Ek het haar vertelling van die gebeure gebruik as die raamwerk, en dit dan plek-plek ingekleur met my verbeelding se fiktiewe dialoog.

Ek het later ook kontak gemaak met ander lede van die span wat saamgevlieg het, en hulle persoonlike indrukke is in die boek gebruik as epiloog.

Die pandemie het my persoonlike lewe op sy kop gekeer. My eersteling is gebore die oggend voordat die heel eerste streng inperking in werking getree het. Ek is die oggend hospitaal toe in een wêreld, en het drie dae later teruggekeer na ’n ander wêreld. Ons kon nie eens babaklere koop nie, die winkels was mos oop vir nét die basiese benodigdhede. My en my man, Cornél, se eerste weke saam met ons pienkvoet was dus stoksielalleen. Ons kon vir amper ses weke geen ander mense oor ons huis se drumpel verwelkom nie. Hoewel dit lekker was om ons babatjie so rukkie net vir onsself te hê, is ek ’n mense-mens. Ek sou veel eerder my ouers, skoonfamilie en vriende op ’n daaglikse basis wou sien. Darem het die inperkingsmaatreëls mettertyd verslap en kon ons ons babadogtertjie eindelik aan ons geliefdes gaan voorstel.

Wie is Simoné en Luzey aan wie jy die boek opdra?

Simoné is my babadogtertjie wat eintlik nou nie meer ’n baba is nie. Op 25 Maart word sy ’n jaar oud, sy het pas begin loop en is vreesloos! Ten spyte van die min kontak wat sy in haar eerste lewensdae met ander mense gehad het, is sy beslis nie teruggetrokke of skaam nie.Luzey is my man se susterskind. Sy is nou 13 jaar oud, en was in graad 7 (haar laaste jaar op laerskool) toe ek die boek geskryf het. Ek het baie dae met Simoné by haar en haar ouers gaan kuier. Hulle het dan vir ’n uur of wat help babysit terwyl ek in hul gastekamer op my skootrekenaar sit en skryf.

Luzey was ook die eerste jong leser van die boek. Sy’t gedien as my klankbord, want sy is die teikenmark. Haar terugvoer en insette was van onskatbare waarde.

Wat van Megan se storie het die grootste indruk op jou gelaat?

Die feit dat sy eerstens nooit getwyfel het in haar en haar jong kollegas se vermoë om so ’n reusetaak suksesvol af te handel nie. En ook dat sy steeds haar droom najaag, selfs ná die dood van haar pa. (Des Werner is in ’n vliegongeluk dood net ná die U-Dream-projek voltooi is, en ons skryf ook daaroor in die boek.)

Wie het op die titel, As jy droom, besluit?

Miemie, die uitgewer. Sy is briljant met titels uitdink.

Wat is die grootste les wat jy oor skryf geleer het?

Ek weet nie of dit vir alle skrywers die geval is nie, want my skryfproses is grootliks bepaal deur die piepklein mensie in my huis. Ek het geleer dit is nutteloos om “hier en daar” te probeer skryf. Ná daardie eerste paar weke as pasgeborene toe sy baie geslaap het (maar ek as splinternuwe ma maar min geskryf het), het sy in haar tweede en derde maand net so 20 minute op ’n slag geslaap. ’n Catnapper, noem hulle dit. Sy slaap nou beter, dankie tog!

Ek’t aanvanklik probeer om dan te gaan sit en bietjie-bietjie te skryf, maar dit het nie gewerk nie want jy kom net nie lekker op dreef nie. Ek’t geleer dis beter om een of twee ononderbroke ure elke derde dag te skryf, eerder as ’n magdom kwartiere elke dag. Cornél het gehelp met die baba as ek vir ’n uur of twee op ’n slag in die gastekamer gaan sit en skryf het, en my net kom “pla” wanneer sy skree vir moedersmelk.

As nuusleser is jy deesdae beperk tot die ateljee. Mis jy dit nie om aktief stories te jaag nie?

Ek mis dit baie. Om ’n veldverslaggewer te wees moet sekerlik een van die lekkerste beroepe ter wêreld wees. Nee, dié lekkerste! Jy sien en ervaar soveel dinge en ontmoet ongelooflike mense. Maar, soos als in die lewe, is daar voor- en nadele: Dit behels ook ’n baie onvoorspelbare dagboek, lang ure weg van die huis af en soms selfs gevaarlike situasies.Ek en Cornél wou graag met ’n gesin begin en ná amper ’n dekade as veldverslaggewer het ek geweet ek sal aanpassings moet maak. Nuuslees is ’n baie goeie alternatief: Ek werk steeds in ’n nuuskantoor, volg nuuswenke op en voer onderhoude in die ateljee. Dit is weer ’n ander soort lekker, met sy eie voor- en nadele. Ek sal ook daarvan hou om in die toekoms dalk radiowerk te doen of ’n geselsprogram aan te bied.

Het moederskap jou uitkyk op die lewe verander?

Om eerlik te wees – nie eintlik nie. Ek kon myself nog nooit daarmee vereenselwig as mense dinge sê soos “jy ken eers ware liefde wanneer jy ’n kind het” of “my kinders is die rede waarom ek bestaan” nie. Ek het baie vriendinne wat om verskeie redes nie ma’s is nie, en ek dink nie ek weet nou skielik soveel meer van die lewe of liefde as hulle nie.

Ouerskap het uiteraard eerder my eie lewe verander in terme van prioriteite en beplanning. Die klein mensie wat niks vir haarself kan doen nie, verg baie energie en aandag. Ek was egter voorbereid daarop. Al my vriendinne met kinders het my gewaarsku. En omdat ek redelik lank kinderloos was (ek het op 35 ma geword) voel ek nie asof ek nou enigiets “mis” nie. Ek en Cornél het ons kinderlose dae ten volle benut en geniet. Dis nou verby, en dis heeltemal oukei!Ek is wel deesdae baie meer sensitief vir nuusstories waar kinders en veral babas die slagoffers is en probeer dit (sover ek kan) vermy, buiten as dit ’n verskil kan maak of ’n bydrae lewer.

Het jy hoop vir die toekoms, en wat is jou drome?

Beslis. Ek is ’n optimis, wat selfs met al ons land se uitdagings (meestal) positief voel oor die toekoms. My droom is eenvoudig: Om al die klein oomblikke saam met Cornél en Simoné en ons familie en vriende te waardeer so lank as wat ons kan; en hopelik ander se lewe ook in die proses ’n bietjie beter maak.