’n Inleiding

Die Amerikaanse pennie wat haar skoonpa vir haar gegee het, is vir Elsa Martinelli ’n simbool van hoop, net soos dié pennie vir hom en sy vrou ’n herinnering aan hul groot Amerikaanse droom is.

Elsa beland by Tony en Rose op hul plaas wanneer haar eie snobistiese ouers haar uitskop toe haar ongewenste swangerskap aan die lig kom. Ten spyte van die afsydige huwelik tussen haar en Rafe het sy uiteindelik ’n tuiste waar sy aanvaar word vir die mens wie sy is. By haar skoonouers vind sy liefde as dogter, iets wat sy nooit in haar ouerhuis ervaar het nie.

In The Four Winds (Pan Macmillan, R330) vertel Kristin Hanna die verhaal van die Groot Depressie hoofsaaklik vanuit die hoofkarakter, Elsa Martinelli, se oogpunt. In dié epiese roman kom die erge droogte en stofstorms in die Texas-streek, waar Elsa saam haar skoonouers boer, in die kollig. Die lewe word absoluut ondraaglik gemaak deur die weersomstandighede. Geen oes, geen inkomste en bitter min water om te probeer oorleef. In ’n laaste poging, met haar seun se gesondheid in gedagte, besluit Elsa om ook soos die ander desperate mense Kalifornië toe te trek agter ’n beter lewe aan.

Daar gekom, is dit ’n groot ontnugtering. Dié trekboere is nie welkom nie en sy en haar twee kinders beland in ’n plakkerskamp waar haglike omstandighede siekte en dood onder die inwoners veroorsaak. Dis letterlik ’n dag-tot-dag-bestaan en ’n stryd om oorlewing. Elsa klou vas aan haar Amerikaanse droom en werk as ’n arbeider op plase om kos in haar kinders se mond te sit. In die kamp smee sy ’n hegte vriendskap met Jean Dewey. Háár gesin het ook agter hul Amerikaanse droom aangetrek. Nou het hulle te kampe met erge diskriminasie en xenofobie, want die mense van Kalifornië soek hulle nie daar nie. Die vroue se vriendskap maak dat hulle bly hoop.

Jy kan nie anders as om betrokke te raak by Elsa Martinelli en haar gesin se ontberings nie. Deur die loop van die verhaal ontwikkel Elsa in ’n sterk vrou, iemand wat leer om op te staan vir haar en die ander stemloses se regte.

Sterk temas word sensitief ondersoek en sosiale kommentaar oor die verdeeldheid in die Amerikaanse nasie word gelewer. Hanna se beskrywing van die milieu waarteen die verhaal afspeel, beklemtoon die onderliggende tema van desperaatheid, maar ook die deursettingsvermoë van ’n karakter soos Elsa. Wanneer jy die laaste bladsy toemaak, besef jy dis net hoop wat mens onder onhoudbare omstandighede laat aanhou droom en worstel om jou ideale te bereik.

Ek het per e-pos met Kristin Hanna gesels. 

Kristin Hannah. FOTO Kevin Lynch

In gesprek met Kristin Hannah

Jou roerende boek het my aan The Grapes of Wrath, wat deel van my universiteitsillabus was, herinner. Het John Steinbeck se skryfwerk n rol gespeel in hoe jy die roman aangepak het? 

Ek is ’n groot bewonderaar van Steinbeck en ek het ook The Grapes of Wrath as deel van my universiteitsillabus gelees. Dié roman het my bygebly as ’n blywende blik op ’n moeilike tyd in die Amerikaanse geskiedenis, en toe ek self na dié era begin kyk het, het ek besef daar’s nog baie stories oor om te vertel. Spesifiek dié van vroue. Vroue se geskiedenis word alte dikwels gemarginaliseer of vergeet of misplaas. Ek is waarlik daarop ingestel om van die ryk, misgekykte verhale te vind en dit vanuit ’n vrou se perspektief te vertel. 

Wat was die saadjie vir die verhaal? Het dit begin met n karakter of met iets wat gebeur het?

Die idee vir die roman het baie jare gelede by my opgekom terwyl ek besig was om te soek na ’n storie wat soos ’n epiese Amerikaanse verhaal sou voel, soos ’n classic. In my navorsing het ek die foto’s van Dorothea Lange bestudeer. Sy het die vernietigende stofstorms in Texas, die Groot Depressie en die omstandighede van die Kaliforniese trekarbeiders in die 1930’s afgeneem. Die meeste mense het al “Migrant Mother” – heel moontlik die mees ikoniese foto van dié era – gesien, maar ’n ander een het my oog getref en my verbeelding aangegryp. Die foto “Woman of the High Plains” was die inspirasie vir Elsa se karakter.

Visueel word die Groot Depressie vir my vasgevang deur die ikoniese fotos van Dorothea Lange, wat sterk op vroue gefokus het. Jou verhaal word ook vanuit n vrou se oogpunt weergegee. Waarom wou jy juis hê n vrou moet die storie vertel?  

Ek stem saam oor Lange se foto’s! Ek wou hê ’n vrou moet die storie vertel omdat ek glo vroue se geskiedkundige verhale is belangrik. Dan ook, ek hou daarvan om die idee te ondersoek van ’n vrou wat heroïes word in moeilike tye. Ek glo dapperheid is die fundamentele karaktereienskap van moederskap – die wyse waarop ons sterker en veerkragtiger word as wat ons ooit kon dink om ons kinders te koester en te red.

Wat was belangrik in jou protagonis, Elsa Martinelli, toe jy haar karakter geskep het?

Ek wou hê Elsa moet ’n vrou van haar tyd wees, ingeperk deur die gemeenskap en haar ouers se verwagtinge. Ek wou hê sy moes ’n eenvoudige lewe lei, een waar sy nooit aangemoedig is om haar eie wese te ontdek nie. Haar verhaal begin as ’n vrou onseker van haarself, beangs en met ’n essensiële geloof in haar eie swakheid. Deur die loop van die verhaal sal sy ’n vrou, ’n ma, ’n dogter en ’n boer word. Sy sal ongekende ontbering en teëspoed ervaar, en deur haar oorlewing sal sy nie net haar eie krag nie, maar ook die krag van haar stem vind. Uiteindelik word sy ’n stryder, bereid om vir haarself op te staan én vir ander wat te bang is om vir hulself te praat. Sy is tot op hede my gunsteling-karakter juis oor die pragtige, bemagtigende karaktergroei.

Hoe het jy die navorsing vir so ’n epiese roman aangepak?

Ek het die navorsing benader soos vir al my ander geskiedkundige romans, met ’n hardnekkige behoefte aan feite. Eerstens bestudeer ek die tydperk in diepte, dan die spesifieke plekke – Kalifornië en die Groot Vlaktes. Dis in hierdie fase dat ek die breë trekke van my plot begin beplan. Ek hou van ’n verhaal wat die draad van die geskiedenis volg, dit versterk en verduidelik en daarom gebruik ek feite as my ruggraat. As ek ’n vaste greep op die groot bewegings van die verhaal en die feite het, begin ek met die ware navorsing wat die verhaal onderlê: memoires lees, onderhoude doen en reis. Die proses neem ongeveer ’n jaar en berei my voor vir die skryfproses. Natuurlik hou die navorsing dan op ’n daaglikse grondslag aan, maar teen hierdie tyd is dit baie gefokus. Ek soek net op wat ek nodig het om die storie aan te hou vertel op ’n outentieke en diepgaande wyse.

Die eerste sin van n verhaal bepaal dikwels die toon vir wat volg. The Four Winds open met: “Hope is a coin I carry: an American penny, given to me by a man I came to love.” Wil jy uitwei oor die belangrikheid van n eerste sin en die tema van hoop in hierdie verhaal?

Ek glo die eerste sin en die eerste bladsy, sowel as die laaste blad en die laaste sin, is dié belangrikste woorde in die roman. Ek worstel, en herskryf en herskryf, totdat ek iets het waarmee ek gelukkig is. Ek wil hê die openingstoneel moet die verhoog opstel, jou vertel waaroor die verhaal gaan en jou belangstelling hou. Dis baie om van een sin te vra! Dit was vir my belangrik om lesers deur die boek in te lig dat daar hoop in die komende blaaie sal wees, al speel dit in so ’n moeilike tyd af en al takel die verhaal harde kwessies. Uiteindelik handel die boek oor die Amerikaanse droom, en selfs as dit gekraak, gebreek of gebrekkig is, die Amerikaanse droom is ’n idee wat ons deel – dit gaan oor mense se hoop vir ’n beter toekoms. 

In The Great Alone het jou beskrywing van die troosteloosheid van die omgewing die isolasie van die karakters beklemtoon. In The Four Winds voeg die aanhoudende stofstorms se impak op landbougrond en op die dorp n ekstra vlak van desperaatheid by die karakters se lewe. Vertel meer van die rol wat “plek in jou skryfwerk speel.

In my skryfwerk is plek dikwels net so belangrik soos die storie en die karakters. Ek glo in diep wêreldbou in’n roman. My werk, soos ek dit sien, is om die leser volslae in die wêreld wat ek skep in te plons. In The Great Alone was my perspektief van Alaska kritiek vir die verhaal. Ek moes die leser beide die gevaar en die prag van die landskap laat verstaan, en hoe die afgesonderdheid van die staat ’n wekroep is vir sekere tipes mense. Die agtergrond het waarlik die konflik tussen die karakters vererger. Soos die duisternis van winter ingetree het, so het die donkerte in die mens ook gegroei.

  “I come west in search of a better life, but my American dream was turned into a nightmare by poverty, hardship and greed.” As ’n Suid-Afrikaner wat die onlangse Amerikaanse verkiesing dopgehou het, kon ek nie help om die verdeeldheid tussen mense op te merk nie, sowel as die eskalasie van xenofobie tydens oudpresident Trump se termyn. In jou roman is verdeeldheid en vreemdelingehaat ’n integrale deel van die gemeenskap waaroor jy skryf. Dink jy Amerikaners sal uit hul verlede kan leer en weer ’n land word waar almal in die Amerikaanse droom glo?

Die verdeeldheid in die Amerikaanse gemeenskap is vandag diep en baie sigbaar. Daar’s geen twyfel daaroor nie. Dis een van die redes waarom ek die Groot Depressie as die agtergrond vir my roman gekies het. Ek glo ons kan uit die geskiedenis leer, as ons net wil oplet!

In die kamp raak Elsa bevriend met Jean Dewey. Die band is sterker as net ’n gewone vriendskap, dis amper ’n emosionele reddingstou. Wil jy iets hieroor sê?

 

Ja, jy is reg. Ek het ’n diep geloof in die krag van vriendskap tussen vroue. Daar’s ’n stukkie in die boek wat my geloof saamvat: “Elsa hadn’t known until right then how much difference a friend could make. How one person could lift your spirit just enough to keep you upright.” Vir my was dit belangrik om op Elsa se reis na selfvertroue vir haar ’n beste vriendin te gee, iemand wat haar “mens” kon wees. 

Ek vra almal met wie ek gesels hoe die pandemie hulle geraak het. Is jy daardeur geraak en kyk jy nou anders na die lewe?

Vir almal van ons wêreldwyd is dit ’n moeilike tyd. My man het sy beste vriend in die eerste weke van die pandemie aan Covid verloor, maar ons was gelukkiger as die meeste mense. Ons was ingeperk in die staat van Washington en ons kon vir meer as ’n jaar nie ons seun of kleinkinders of meeste van ons familie sien nie. Op ’n manier het dit my gehelp dat ek vir vier jaar oor die Groot Depressie en die Dust Bowl gelees en geskryf het. Die storie is ’n herinnering aan die durf en veerkragtigheid van die mens se aard. Ons het almal al voorheen deur moeilike tye gegaan en dit oorleef en eindelik gedy. Ek glo ons sal weer.