Margaux se toekoms in die korporatiewe wêreld is mooi uitgestippel deur haar familie. Sy moet met die sakeman Chris trou om die familiebesigheid se posisie te versterk. Maar sy het ander planne en wil haar droom najaag om kuns in Parys te gaan studeer en voltyds kunstenaar wees, nes haar oorlede ma. Sy verbreek haar verhouding met Chris, sê totsiens vir die vervelige aktetas-wêreld en bespreek haar vlug na Frankryk. By die visumkantoor kry sy die slegte nuus dat haar visum nie gereed is nie en sy vir ’n aand in Johannesburg sal moet oorbly. Haar pad kruis met dié van die aantreklike wynboer Dawid, wat toevallig ook op pad is Frankryk toe vir oestyd op die familie se wynlandgoed daar. Die twee spandeer die aand in mekaar se geselskap en die romantiese kuiertjie laat albei met hunkerings om die ander beter te leer ken. Maar wat is die kanse dat hul paaie weer in Frankryk sal kruis?  

Tosca de Villiers vertel spesiaal vir SARIE-lesers meer oor haar besoek aan Parys.

My niggie trou met ’n Fransman . . . nee, ek verdraai nie nou die liedjie se woorde nie. Hulle vra my om ’n paar weke in hul woonstel in Parys te bly. Hierdie ongelooflike geleentheid gee my die kans om Parys en omstreke ’n bietjie rustiger te verken. Ek gebruik ook die kans om navorsing te doen vir die liefdesverhaal waaraan ek begin skryf het. ’n Gesukkel met my visumaansoek was net die vonk wat ek nodig gehad het vir ’n liefdesverhaal. My heldin gaan kuns in Parys studeer.

In die Musée Marmottan Monet staan ek verstom voor Monet se kunswerk Impression, Sunrise. Monet is vir my blomme, waterlelies en Japannese bruggies en nogmaals blomme. Uitbeeldings van hoe hy die natuur gesien en ervaar het. Hy was immers ’n buitelugmens wat verkieslik in die natuur geskilder het.

Ek gaan soek na sy ander kunswerke in die Musée d’Orsay. Hierdie imposante argitektoniese struktuur, voorheen ’n treinstasie, is nou die tuiste van een van die mees uitgebreide versamelings van impressionistiese skilders ter wêreld. Daar is ’n hele paar kunswerke van Monet, maar ook Manet, Degas en Renoir en dan natuurlik Van Gogh en Gauguin.

Terwyl ek voor Monet se bekende skilderye soos Women in the Garden (1866) en The Water Lily Pond (1899) staan, begin ’n idee in my kop roer. Hoekom gaan ek nie Giverny toe en gaan kyk waar hy dit geskilder het nie? Laatmiddag stap ek uit die museum en tussen die blombeddings van die Tuileries-tuin wat daar naby is, raak ek oortuig dis die regte idee.

Ná ’n bietjie navorsing bespreek ek ’n treinkaartjie tot in Vernon en ook ’n toegangskaartjie vir die huis, tuine en museum. Daar is gereeld busse en taxi’s tussen die stasie en Giverny. Omdat ’n besoek aan Monet se tuine ’n gewilde uitstappie vir skoolgroepe is, besluit ek op ’n Woensdag, wanneer die skole in Frankryk tradisioneel toe is. Ek loer ook na die weervoorspelling – ’n bewolkte dag sal vir mooi foto’s sorg, maar woedende winde of gietende reën sal nie deug nie.

Foto: Tosca de Villiers

Daar aangekom, mik ek eerste vir die tuine om die meeste van die vroegoggendlig te maak, maar ’n bus vol babbelende toeriste, selfoon-selfiestok in die hand, stop. Ek kies koers na die pienk huis met sy donkergroen luike. Deur die slaapkamervenster kyk ek na die tuine waarin hy hom die laaste 40 jaar van sy lewe uitgeleef het. Hier het hy gespit, geplant, onkruid uitgetrek en dit wat hy geskep het, weer geskilder.

Dit was ’n goeie besluit om eers vanaf ’n afstand na die tuine te kyk. Dit gee jou ’n goeie idee van die uitleg en malse, oordadige aanplantings en kleur. Monet het hom glad nie aan die tradisie van die meer formele Franse manier van tuinmaak gesteur nie en op die oog af ongeorden aangeplant. Eenjariges staan langs meerjariges tussen blommende struike en bolplante. Hy het rond en bont geplant en ’n eksotiese lelie sal sommer langs ’n sonneblom staan en daar anderkant is ’n roos en ’n dahlia weer bure. Die tuine is van laat Maart tot einde November oop vir besoekers en daar is altyd blomme om te sien. Monet het gesorg dat hy altyd genoeg blomme gehad het om te skilder en vir ’n wye kleurpalet.

Self was Monet was nooit in Japan nie, maar hy het oor baie jare Japannese kuns bewonder en versamel. Ek is dankbaar dat ek eers die groot versameling Japannese drukke wat orals in sy huis hang, kon sien. Dit gee my ’n baie beter insig in die uitleg van die waterlelietuine aan die oorkant van die pad.

Waterleslies. Foto: Tosca de Villiers

Deur een van die vensters sien ek die busvrag toeriste het in die tuine verdwyn en ek stap deur die “Clos Normand”, soos die tuine voor die huis bekend staan. Tussen die beddings en beddings blomme voel dit asof ek deur ’n lewende skildery stap. Die son op my vel, die voëls wat kwetter, bye hard aan die werk en die geur van die verskillende blomme. Ek is omgeef van kleure en teksture. Die hoofpad tussen die blombeddings herken ek aan die ysterkoepels waarteen rose rank en die kappertjies wat die paadjie laatsomer amper heeltemal toegroei.

Ek stap met die ondergrondse wandelpad wat Clos Normand verbind na die waterlelietuine. Weer is die ervaring surrealisties – jy stap binne-in driedimensionele skilderye. Jy hoor jou eie voetstappe op die houtpaadjies, is omring van ruie rietbosse en die kleure is anders, maar jy ruik die blomme, hoor die voëls.

Foto: Tosca de Villiers

Vroeg opstaan en baie stap maak my honger en daar is baie restaurante in die straat voor Monet se huis, maar ek besluit op Hôtel Baudy. In Monet se leeftyd het kunstenaars, onder ander Cézanne en Rodin, na Giverny gestroom om naby die meester van die impressionisme te kom. Baie het hier, in wat destyds ’n losieshuis was, gebly. Dit het ’n plek geword wat deur artistieke legendes besoek word, en ek eet middagete hier. Die slaai is lekker vars en word met die tradisionele baguette wat in skyfies gesny is en met gesmelte bokmelkkaas voorgesit.

Ná middagete besoek ek die Musée des Impressionnismes. Hierdie museum se hoofdoel is om die internasionale aard van die impressionistiese beweging te bevorder, met besondere aandag aan Giverny en die kunstenaars van die Seine-vallei. Die museum vors ook die geskiedenis van die impressionisme en die post-impressionisme na, en beklemtoon hul invloed op die daaropvolgende bewegings in die 20ste eeu.

Ek stap so tien minute in Giverny se hoofstraat, Rue Claude Monet, af en kom by die Sainte-Radegonde de Giverny. Monet en sy gesin het dienste in hierdie 16de-eeuse kerk bygewoon en die Monet-familiegraf is agter die kerk, ’n wit marmerstruktuur met ’n kruis bo-op.

Die baldadige blomme om die grafsteen bring ’n dankbare glimlag om my mond. Ná Monet se dood in 1926 het die tuin stadig verbrokkel. Sy oorlewende seun, Michel, wat in 1966 oorlede is, het die eiendom sowel as die kunsversameling aan die Académie des Beaux-Arts nagelaat. Die versameling het na die Musée Marmottan in Parys gegaan en ’n eerste kurator het probeer om die oorblyfsels van die huis en tuin te red.

Die herlewing van Giverny het egter begin met die aankoms van die voormalige kurator van Versailles, Gérald van der Kemp, en sy Amerikaanse vrou, Florence, in 1976. Nadat hulle aansienlike bedrae vir die herstel van die paleis van Versailles ingesamel het, het hulle hul aandag gevestig op die erfenis van Monet, en die huis en tuin is gered deur miljoene dollars van vrygewige Amerikaanse donateurs.

Gérald van der Kemp was self ’n skilder en ’n kunshistorikus. Hy het die tuinier Gilbert Vahé ingebring en hulle het die argiewe, dokumente, foto’s en briewe sowel as die verslae van saadhandelaars ondersoek om die tuin te herskep.

Terug in Parys gaan ek na die Musée de l’Orangerie. Dis ’n kleinerige museum in die westelike hoek van die Tuileries-tuine, maar dit huisves ’n wonderlike versameling van impressionistiese en post-impressionistiese skilderye. Twee ovaal vertrekke, eteries verlig, bevat agt reusagtige waterlelieskilderye wat Monet se watereleliedamme uit verskillende hoeke en op verskillende tye van die dag uitbeeld.

Monet en die tuine wat hy by Giverny geskep het, het ’n blywende indruk op my gelaat en het ook die manier waarop ek tuinmaak, beïnvloed. Ek oes en druk saadjies oral in, ek gee my oor aan kleur en tekstuur. En is dit nie die doel van reis nie, om anders na die bekende terug te kom?

Lees hier ’n uittreksel uit Die prins van Margaux se hart. Die boek is beskikbaar op Amazon.com.

Die verkeerslig word groen en Salie trek weg. “Ons is amper daar.” Hy vang Margaux se oog in die truspieëltjie, verwissel van baan en stop ’n paar blokke verder. Salie en sy vrou is die twee mense wat Margaux werklik gaan mis – vandat sy kan onthou, was hulle maar deel van diehuishouding. CAPAGO International – Schengen Visa Applications – French and Italian Representative Office, lees sy op die koperplaatjie teen die hek. Margaux klim uit en die romp skuif hoog teen haar been op. “Ag, rêrig!” Sy het nog steeds die kort rompie en hoëhakskoene aan wat sy vandag kantoor toe gedra het. Met al die geskarrel om in te pak en by die huis en weg te kom by die kantoor, het sy vergeet om gemaklike klere uit te hou om aan te trek. Daaraan gedink, maar weer vergeet. Sy stap om die motor. “Salie, ek wil asseblief iets uit my tas haal.” Sy grawe haar plat skoene uit, vroetel verder in die tas, trek die oorvouromp uit, maak dit om haar middel vas en kry die nou rompie met ’n gesukkel onder die wyer romp uitgetrek. Sy soek weer in die tas en kry die ligblou kasjmiertrui raakgevat, die tekstuur luuks in haar hande. Met die sagter, gemakliker klere voel sy sommer ligter, vryer.

“En nou dié?” vra Salie toe sy die skoene, romp en baadjie na hom toe uithou.

“Gee dit asseblief vir iemand, ek het dit net ’n paar keer gedra.”

“Ek sal Gertruida vra om dit in jou cottage te gaan bêre.”

“Nee, gee dit vir iemand wat dit kan gebruik. Ek is klaar daarmee.”

Is sy werklik klaar met alles van die korporatiewe wêreld? Maak sy nie ’n fout om die deur toe te klap nie? Eers het haar pa gedink dit sal ’n goeie plan wees om met Chris te trou. ’n Idee wat aan ’n gereëlde huwelik grens. Die twee besighede – al twee in die finansiële sektor – vul mekaar so goed aan, die een in bankwese en die ander in versekering. Toe sy haar verlowing met Chris verbreek het, het haar pa en broers haar afgeraai om in Parys kuns te gaan studeer en ’n nuwe fase in haar lewe, weg van die gesin en die sakeryk, aan te durf. Later probeer luister na haar besware en frustrasies, maar nooit rêrig verstaan nie. Gedink as hulle haar ’n belangriker pos met ’n groter salaris en aandeelopsies aanbied, sal dit haar laat bly. Nee. Dis nie wat vir haar belangrik is nie. Sy is klaar met die gejaag na geld en winssyfers. Hulle redenasie dat sy nie net ná die samesmelting met Insurecor kan weggaan nie, het sy hierdie keer slim omseil deur ’n klomp stokmannetjies te teken en vir Susan te gee. Hulle dink mos dis wat sy doen. Stokmannetjies teken en vir hulle klere aantrek. Nou het sy Susan bemagtig om saam met Chris te werk en die bemarking vir Insurecor se produkte te behartig. En as sy so na Susan kyk, gaan sy alles in haar vermoë doen om Chris ook in te palm. Salie lig die tas uit die bagasiebak en sit dit op die sypaadjie neer.

“Laat ek jou tot binne help.”

“Nee, dankie, sodra ek my visum het, is dit af in die straat en net om die blok tot by die Gautrein-stasie. Met die funksie vanaand het jy genoeg dinge om te doen.”

Salie vou haar in sy arms toe. “Ek is bekommerd oor jou. Jy was nog nooit eintlik op jou eie van die huis af weg nie. Jy’s nie gewoond daaraan om dinge vir jouself te doen nie. Bel as jy my nodig het.”

Sy knik. “Moenie so oor my worry nie. Ek gaan oukei wees.”

“Dis vir my sleg dat jy nie vanaand na die funksie toe gaan nie en jy en jou mense nog vies is vir mekaar.” Salie sluk. Hy was nooit goed om sy emosies weg te steek nie.

“Margie-kind, onthou, ons is daar as jy ons nodig kry. Jy was nog nooit so op jou eie ver weg van die huis af nie.”

Margaux glimlag dapper. “Ek gaan rêrig oukei wees.” Salie en Gertruida is soos familie vir haar, was amper altyd langs die hokkiebaan as sy gespeel het. Sy het meer ure saam met hulle langs die kombuistafel gesit en gesels en koffie drink as wat sy ooit met haar pa en broers deurgebring het. Haar pa en broers het nie vir sulke dinge tyd gehad nie. Nee, hulle was besig om geld te maak en net so ’n bietjie ongemaklik met hulle kunssinnige kleinsus. En as sy nou heeltemal eerlik wil wees, dink sy hulle hou haar verantwoordelik vir haar ma se dood.

“Ag wat, Salie, dis nie die eerste keer wat ons klomp koppe stamp nie. Ons sal weer vrede maak; hierdie keer gaan dit net langer neem omdat ek op my regte staan. Ry nou.”

Margaux sluk aan die knop in haar keel toe die groot swart motor om die hoek verdwyn. Sy knip haar oë en kyk op na die helderblou lug met die verdorde bruin blare aan die takke. Ja, dis herfs en sodra al die blare afgeval het, gaan die bome rus en word dit lente, ’n tyd vir nuwe groei. Haar kreatiwiteit, drang om te skep het begin kwyn. Verdroog. Sy het van baie dinge in haar lewe ontslae geraak. Finaal bedank by Bankitex en dit wat sy die volgende ses maande gaan nodig hê in ’n tas gepak. ’n Nuwe seisoen wag op haar, ’n tydperk van vernuwing en groei. Behalwe dat sy nie hoef te wag nie. Môre, wanneer die vliegtuig land, is sy in Parys en daar is dit lente en kan sy vir die eerste keer in haar lewe haar werklik heeltemal aan kuns toewy. Uiting gee aan haar talent en die drang om te skep. ’n Nuwe loopbaan – sonder inmenging. Chris se argument dat hy ryk genoeg is om vir haar te sorg is uitgedien. Vandag kan vroue vir hulleself sorg en om finansieel versorg te wees, is nie al waarin sy belangstel nie. Nee, sy wil ook vervulling vind in wat sy doen. École des Beaux-Arts, een van die beroemdste kunsskole in Parys het haar aanvaar vir ’n reeks meesterklasse wat tydens hulle somerskool aangebied word. Erkenning vir haar talent en ’n goeie geleentheid om haar vaardighede te slyp. Haar gesin het maar louwarm op die nuus reageer. Net haar vriendin, Lindy, was saam met haar opgewonde.

“Vat my baadjie en aktetas, dan help ek jou met hierdie trommel,” onderbreek ’n diep, ryk stem haar gedagtegang.

Margaux skrik effens, draai om. Voor haar staan ’n lang, breedgeskouerde man besig om ’n foon in sy sak te druk. Ek moet ophou droom en straatslimmer word. Bewus van my omgewing. Die man se amper swart hare is effens deurmekaar en ’n sonbril steek sy oë weg. Laatmiddagstoppels bedek sy vierkantige ken en kakebeen.

“Nee, dankie, dis nie nodig nie.” Sy trek weer aan die tas. Maar ’n bruingebrande hand vou om hare.

“Dit is. Ons moet nog teen die opdraande uit en dit klink of jy besig is om van die huis af weg te loop. Nou-nou draai die motorbestuurder om en vat jou terug.”

Hoe lank sou die man na hulle gesprek geluister het? Margaux trek haar rug regop.

“Ek loop nie van die huis af weg nie. Dis rêrig slegte maniere om ander mense se gesprekke af te luister.”

“Nou hoekom staan jy agter die motor en trek ander klere aan?”

“Wat het jy gesien!?”

“Ek kon jou pragtige bene ’n paar oomblikke lank bewonder voordat jy die ander romp oorgevou het. Nou steek jy alles weg.”

Die warm sensasie wat in haar opgebou het vandat sy hierdie aantreklike vreemdeling gesien het, laat hitte teen haar keel opstoot. As sy net onthou het om ’n ander stel klere by die kantoor aan te trek. Sy maak lysies en dan vergeet sy waar het sy dit op haar foon gestoor.

“Verander jy dikwels in ’n oogwink van gedaante?” Hy bekyk haar op en af. “Van ’n sjiek professionele dame tot ’n sigeuner met ’n bolla.”

Sy lig haar hand, voel aan die hare agter haar kop. “Dis nie ’n bolla nie. Dis ’n chignon.”

Hy glimlag en steek sy hand uit, vroetel tussen haar hare, trek ’n paar haarnaalde uit en vryf haar hare deurmekaar.

“So ja, nou pas jou haarstyl by die res van jou voorkoms.”

Verwaande vent! Hoe durf hy? Sy aanraking laat haar kopvel tintel en dit rimpel deur haar lyf. Margaux kam met haar vingers deur haar hare, probeer ontslae raak van die gevoel van sy vingers op haar kopvel. Haar mond is droog en skielik kan sy aan niks dink om hom toe te snou nie. Hy is, net soos haar broers, besig om haar te terg. Sy ken daardie sweem van ’n glimlag om sy mond. Doodluiters tel hy haar tas op en begin stap.

Sy het geen ander keuse as om hom op ’n drafstap te volg nie. Sommer gou is sy uitasem. So onfiks geword die laaste paar maande, net nie meer tyd gehad om gim toe te gaan nie. Wanneer laas het sy net ’n ent gaan stap? Nee, Salie of een van die ander werkers het met die honde gaan stap. Hoekom hou mens honde aan as jy nie eens tyd het om met hulle te gaan stap nie? Sit heeldag in ’n lugverkoelde kantoor en maak genoeg geld om iemand anders te betaal om met jou hond te gaan stap. Dis nie haar idee van sinvol leef nie. Langs haar gee die man lang, gemaklike treë, asof die swaar tas en die opdraand hom nie pla nie.

“Die tas het wieletjies, jy kan dit trek en hoef dit nie te dra nie.”

“Ek weet, maar dit voel of een van die wieletjies vasgehaak of gebuig het.”

By CAPAGO se gebou maak hy die deur oop. Margaux steier terug toe ’n bondel warm lug teen haar vasslaan en huiwer. ’n Hand druk liggies teen haar rug.

“Dis hier in.” Sy trek haar rug hol om van sy hand af weg te kom. Waar sy hand aan haar geraak het, is ’n warm kol wat deur haar liggaam versprei.

“Dankie vir my tas.” Sy wens hy wil die donkerbril afhaal sodat sy hom in die oë kan kyk.

“Is jy hier vir ’n Franse visum?”

“Ja.” Sy voel weer die hand laag teen haar rug, “Dan moet jy hier instap, die wagkamer is agter daardie twee glasdeure. Ek sit jou tas hier neer.”

Die vrou agter die toonbank kyk op toe Margaux voor haar staan. “Sit solank, asseblief. Die dokumentasie het nog nie van CAPAGO af gekom nie.”

Margaux kyk op haar horlosie. Amper halfdrie. “Julle het gesê dit sal net ná twee hier wees.”

“Ja, gewoonlik kom dit al twaalfuur, maar ons ondervind probleme. Sit gerus en help jouself met tee of koffie.”

Margaux draai om, gaan sit op die eerste stoel en haal haar vliegtuigkaartjie uit. Daar is nog heeltemal genoeg tyd om betyds by die lughawe te kom. Vanaand vlieg sy oor Afrika om met haar nuwe lewe te begin terwyl haar pa, broers en Chris die dinee bywoon. Hulle het nooit gedink sy sal voet by stuk hou en nie daar wees om die samesmelting tussen Bankitex en Insurecor te vier nie. Sy bêre haar vliegtuigkaartjie en haal haar sketsboek uit.

Die man wat haar tas gedra het, kom ingestap en praat Frans met die vrou agter die toonbank. Margaux probeer die gesprek volg, maar hulle praat so vinnig dat sy net hier en daar ’n woord verstaan. Is dit hoe dit rêrig gaan wees? Gaan haar matriek-Frans en die kursus wat sy by die Alliance Française geneem het haar niks help nie? Die vrou kom agter Margaux sit en luister en verlaag haar stemtoon, maar beduie met haar hande. Die man luister, antwoord en haal sy skouers op. Sy oë is diepblou, sien Margaux toe hy omdraai. Sy laat sak haar kop, probeer op haar skets konsentreer.

Langs haar sak die man in ’n stoel neer. ’n Heerlike geur van man, sandelhout en iets anders bereik haar. Hy strek sy bene uit en maak sy skootrekenaar oop. Margaux sukkel om die lyne van haar skets te laat vloei. Vee ’n paar strepe uit en probeer weer. Al die onstuimigheid sedert sy haar bedanking by Bankitex ingedien het, was uitputtend. Chris, wat net nie kon aanvaar dat sy hulle verlowing finaal verbreek het nie, het nie eintlik haar lewe makliker gemaak nie. Om in ’n verhouding vasgevang te wees is die heel laaste ding wat sy nou wil hê. En as sy dit in die verre toekoms sal oorweeg, moet dit iemand wees wat haar as mens verstaan. Nie iemand wat ’n besigheid besit wat ’n goeie pasmaat vir haar pa se besigheid is nie – eintlik net belangstel om ’n wins uit haar kreatiwiteit te maak nie. ’n Moegheid sak oor haar neer. In die geharwar om alles by die kantoor af te handel en Chris se eise te bestuur het sy nie betyds vir haar visum aansoek gedoen nie. Nou sit sy hier en wag terwyl sy vanaand moet vertrek. Maak sy ’n fout? Moes sy na haar pa geluister en aan Chris verloof gebly het? Die twee besighede stewiger aan mekaar gebind het? Chris is aantreklik, intelligent en doelgerig. Boonop is Bankitex en Insurecor ’n logiese samesmelting. Bankitex het begin om bankdienste aan daardie gedeelte van die bevolking te verskaf wat nie voorheen toegang daartoe gehad het nie. Hierdie mense se volgende behoefte is verskering op hulle motors, huise en lewens. Dit is waar Insurecor inpas. Dis tog nie meer die Middeleeue waar huwelike aangegaan word om sakeryke te verenig nie. Of is sy dalk werklik so naïef soos Chris beweer omdat sy in romantiese liefde glo? Sy is tog ook geregtig daarop om bevredig te voel nadat hulle seks gehad het. Miskien moes sy gebly en met hom getrou het. Hom toegelaat het om haar te versorg terwyl sy skilder. Nee. Nee, sy wil selfstandig wees. Skilder op doeke wat in ander mense se huise gaan hang, is wragtiewaar nie wat sy wil doen nie. Sy wil funksionele kuns skep. Vandat sy kan onthou, wou sy ’n kunstenaar wees. Hierdie geleentheid om kuns in Parys te studeer gaan sy met al twee haar hande aangryp. Haar pa, broers en Chris dink almal ’n nuwe, groter advertensieveldtog en ’n belangriker pos in die maatskappy moet haar bevredig. Die totale onbegrip dat die werk wat sy by Bankitex gedoen het, nie vir haar lekker is nie, ongeag hoe suksesvol sy daarmee is, verstaan hulle nie. Hoeveel dit wat sy doen, bydra tot die wins en die gemak waarmee die kliënte hulle sake doen, is al waarin hulle belangstel. Waar haar talent by hulle besigheidsmodel inpas. Sy wil iets blywenders skep as oulike stokmannetjies wat aanlyn banksake vergemaklik. Iets tasbaars. Kuns wat nie net op ’n skerm verskyn en weer verdwyn nie, iets waaraan jy kan vat. Dis waarmee sy nou besig is.

Dit het ure se meet en pas gevat om ’n vorm met die standaardwynbottel se buitelyne só te kry dat sy haar ontwerp op papier kan maak en die lyne op die ronde bottel bymekaar sal uitkom. ’n Paar weke gelede, toe sy die soveelste keer verveeld gesit en luister het na die sakegesprek om die tafel, het die idee by haar posgevat. ’n Ontwerp op die bottel, eerder as ’n etiket. Die bottels kan dan in bruikbare items omskep word, weer tafel toe kom met blomme of iets. Nie alles net eenmaal gebruik en weggooi nie. Weer gebruik. Hoe anders sou dit gewees het as haar ma nog gelewe het. Iemand wat die drang na skep verstaan het. Margaux probeer die gedagte onderdruk. Haar ma het ook wegbeweeg van skilder op doek na pottebakkery en die versiering daarvan. Die beoefening van haar kuns het tot haar dood gelei. En tot haar pa se bitterheid en sy afsku in kuns. Dis eintlik al wat sy weet van die vrou wat kort ná haar geboorte dood is. As kind het sy geleer om nie oor haar ma uit te vra nie.

Oupa en ouma Faure het moeite gedoen om oor die jare heen met haar kontak te behou, maar haar pa het hulle toenadering ontmoedig. ’n Diep sug ontsnap haar toe sy besef dat sy nie daarby uitgekom het om hulle te gaan groet nie. Sodra sy op die lughawe al die prosesse afgehandel het, sal sy hulle bel. Mens sit gewoonlik ’n hele ruk in die vertreksaal en wag.

Langs haar hou die man op tik. Sy voel hoe hy na haar kyk, maar dwing haar oë om op die skets te bly. As hy net nie so hemels geruik het nie. Of net bietjie verder weg van haar af gesit het. Hy straal energie, ’n warmte uit. Wat sou van die niggies en nefies aan haar ma se kant van die familie geword het? Sy moet onthou om bietjie vir Ouma te vra. As kinders het hulle so lekker gespeel.

Oor die jare heen het haar pa kontak tussen hulle al hoe moeiliker gemaak. Altyd iets anders uitgedink wat aanlokliker was om te doen as sy daar wou gaan speel of hulle oornooi. Miskien is dit hoekom hy nooit weer getrou het nie. Sy werk en die sukses wat hy bereik, is al wat vir hom saak maak. Dit en om sy gholfvoorgee te verbeter. Om iewers op ’n bekende baan te gaan gholf speel, is sy idee van vakansie. Salie en Gertruida, wat nie kinders gehad het nie, was altyd daar vir haar. Sy glimlag toe sy dink aan Salie wat haar skelm kunsklas toe gevat het. Maar dit word gou ’n sug. Haar pa wat haar nie werklik verstaan nie, nooit waarlik moeite gedoen het om uit te vind wat sy dink en voel nie. Dit was asof hy en haar broers onhandig was met ’n ontluikende vrou in die huis. Haar drang na kuns het hulle ongemaklik gemaak.

Sy raak bewus van die man langs haar wie se aandag nie meer op die skootrekenaar is nie en nou na haar kyk met sy diepblou oë.

“Wat krabbel jy?” vra hy en wys na die sketsboek op haar skoot.

Nog iemand wat absoluut geen respek vir kuns het nie. Dink sy krabbel as sy besig is met ’n ontwerp. Dis mos maklik om stokmannetjies te teken en nou dink hierdie man die ranke wat eendag om wynbottels gaan pryk, is krabbels. Rêrig! Sy klap die boek toe en stap na die tafel teen die muur.