So skryf Pieter Paul Fourie in sy roman, ’n Hart is so groot soos ’n vuis (Kwela, R290). Op die agterblad word die verhaal as volg beskryf: "Dis die storie van ’n seun, Paul se komplekse verhouding met sy gewelddadige dog charismatiese alkoholis-pa. Paul kyk terug na sy kinderjare onder die invloed van hierdie man; sy ouers se somstydse versoening, gevolg deur desperate vlugtogte saam met sy ma."

Daar is baie temas wat ek kan aanroer oor die verhaal, maar die een wat my asem uitslaan,  is die van medepligtigheid. Fourie beskryf die skokkende gebeure een aand toe sy ma by die teater was om as vloerbestuurder ’n konsert te bestuur. Paul was tuis by sy pa. Hy vertel hoe sy pa bedwelm en dronk was en Paul aangesien het vir sy ma. In sy dwelmwaas wou sy pa haar leed aandoen. Paul het geweet hy moes probeer vlug en so stil soos hy moontlik kon, bel hy sy ouma om hom te kom help. Aan die anderkant van die foonlyn hoor Paul net ’n sug en ’n klik soos die foon neergesit word. Ná ’n gesukkel kry hy ’n boodskap by sy ma uit. Sy daag by die huis op en verdedig hom soos net ’n verwoede ma kan. Sy pa slaan haar met ’n metaalpyp en toe sy die glasdeur tref, gryp hy ’n glasskerf en probeer haar keel afsny. Wonderbaarlik is dit die hond wat hulle red en die pa die aftog laat blaas.

Bl. 83: "’n Paar uur later, die oggend nadat my pa probeer het om my ma se kop met ’n metaalpyp te verbrysel, en toe weer en weer en weer probeer het om haar keel af te sny met ’n stuk gebreekte glas, staan sy op die gras voor die huis met ’n beker warm tee." Die buurvrou het oor die heining gevra of alles reg was en dat sy die vorige aand vir haar man gesê het sy is seker daar word moord gepleeg langsaan.

Bl. 84: "Op daardie oomblik het ek iets oor buitestanders begin verstaan. Meneer en Mevrou Regter was medepligtig. Hulle was erger as die gewelddadige monster wat binne op die turkoois deken lê en slaap het: hulle het geweet, maar hulle het niks gedoen nie. ’n Monster sal doen wat monsters doen. My pa was maar net wie hy was; daar was geen pretensie nie, niks kunsmatig aan die geweld en vernietiging of sy wesensaard nie. Maar hierdie mense het geweet, en hulle het niks gedoen nie. En dit was nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Hulle medepligtigheid het oor drie jaar gestrek ..."

Toe ek die woorde gelees het, moes ek eers die boek neersit sodat ek dit net kon verwerk. Dis maar een van die skokkende en roerende gebeure in die verbysterende roman oor ’n gebroke lewe en die soeke na die sin van om te wees en te voel. Die boek laat jou diep besin oor die mag van woorde. Dis terloopse sinne en frases wat jou tref en wat by jou bly broei. Die beelde wat dit skep, laat ’n blywende impak, asook ’n gevoel wat onder jou bewussyn kom lê, so ’n speling van skaduwees waarvan jy nie kan ontsnap nie. ’n Hart is so groot soos n vuis is ’n boek wat jy meer as een maal moet lees om fyn nuanses te verwerk.

Die boek is aanvanklik in Engels geskryf en in Afrikaans vertaal deur Marius Swart. In ’n onderhoud op Netwerk24 sê Fourie hy wou nie in Afrikaans, sy moedertaal skryf nie, juis omdat hy afstand wou skep tussen hom en die gebeure, dat hy so onsentimenteel as wat hy kón oor die intens persoonlike gebeure wou skryf. Die indruk wat ek as leser kry, is dat die hoofkarakter sy lewe onder ’n mikroskoop plaas en afsydig soos ’n navorser daarna kyk. Hierdie afstandelikheid maak juis dat ek elke gebeurtenis intens ervaar.

"Ek sal nie weer stilgemaak word nie. Ek weier om medepligtig te wees aan my eie verskrikking deur dit nie op die naam te noem nie. Ek sal dit uitspreek, ek sal dit beskryf, ek sal dit uitgil, ek sal dit uitskree. Ek moedig ander aan om dit ook te doen, maar ek weet dis nie vir hulle maklik nie; ek sal probeer om nie krities te wees oor hulle swye, hulle skouerophalinkies nie." - bl. 240.

Maklike leesstof is dié roman beslis nie, maar die verteltrant en woordspeling sleep jou voort op Fourie se onvergeetlike lewensreis. - Phyllis Green

 

Kom hier dat ek jou soen, Griet op de Beeck (Protea Boekhuis, R295)

Dié boeiende roman begin wanneer ’n beangste Mona, nege jaar oud, in die kelder opgesluit sit, nie heeltemal seker hoekom nie.Die verhaal, in drie dele, vertel van Mona se lewe as kind, en as 24-jarige- en 35-jarige vrou. Sy vertel hoe sy as jong, sensitiewe kind haar ouers se liefdelose huwelik aanvaar en aanpas daarby. Sy bevraagteken nooit haar ma Agnes se onregverdigheid teenoor haar en die voortrek van haar jonger broer Alexander nie.

Griet op de Beeck skryf hoe die verlede die hede kan vorm én ’n selfbeeld kan knak. As kind neem Mona verantwoordelikheid vir haar jonger broer, pa én ma se lewens en geluk. Hierdie gevestigde patroon herhaal homself in haar lewe vorentoe.

Mettertyd maak Mona die eerste keer waarlik kontak met Vincent, haar pa wanneer hy in die hospitaal gekluister is. Hy deel sy grootste geheim met haar en sy bewerkstellig ’n mate van vrede vir hom in sy laaste dae.Vincent gee Mona kosbare advies wat haar lewe positief laat draai. Hy verduidelik ook hoekom haar ma nooit liefdevol teenoor haar opgetree het nie.

Die roman is vertaal uit die Nederlands deur Christine Barkhuizen-Le Roux.     - Mariette Postma

 

Olga, Bernhard Schlink (Orion, R355)

In dié roman word die twee sentrale temas van liefde en verlies aan die hand van amper ’n eeu van die Duitse geskiedenis ondersoek en uitgebeeld. Die verhaal lees soos ’n sprokie en open met die hoofkarakter, Olga, se moeilike kinderjare in die laat 19de eeu in Pruise. Soos wat die roman ontvou, beleef die leser hoe Duitsland moderniseer tot die land wat ons vandag ken.

Al ken ons reeds die hoofkarakter se naam, word haar naam eers in die tweede hoofstuk gebruik. Dié naam van Skandinawiese oorsprong beteken geseënd en heilig. Toe Olga haar ouers verloor en as weeskind saam met haar kwaai ouma Pommere toe moet trek, wou haar ouma haar naam verander. Sy het vir Olga van die nadele van ’n Skandinawiese naam én die voordele van ’n Duitse een probeer oortuig. Olga het in ongeloof na haar bly staar en geweier om haar naam op te gee.

Hardkoppig, slim én ’n alleenloper, begin sy vroeg reeds teen die vooroordele van daardie tydperk veg. Omdat Olga nie regtig iewers ingepas het nie, het haar hart verlang na ander buitestanders wat nes sy is. Toe ontmoet sy een. Op skool kruis haar pad met Herbert, die plaaslike aristokraat wat obsessief is oor drome van mag, glorie en grootheid en só verander Olga lewe onherroeplik. Ten spyte van hul radikaal verskillende agtergronde raak hulle verlief.

Herbert word uitgebeeld as ’n stralende vegter en ontdekkingsreisiger altyd soekend na iets meer en beter. In kontras met Olga wat daarvan hou om te staan en te observeer, is Herbert altyd aan’t hardloop. Een tree op ’n slag is nooit genoeg vir hom nie, hy is ongeduldig en ken geen vrees nie.

Toe Olga as onderwyser opgelei word, het Herbert op talle avonture en reise gegaan en onder meer in Duits-Suidwes-Afrika, hedendaagse Namibië, teen die Hereros gaan veg. Hy het soms tot jare op ’n slag weggebly. Wanneer hy teruggekom het, tel die verhouding op waar hulle dit gelos het. Eindelik eindig hul verhouding noodlottig wanneer Herbert in 1913 op ’n ontdekkingsreis Noordpool toe is en nooit weer teruggekom het nie.

Tog is dit vir Olga asof hul verhouding nie geëindig het nie, sy bly lojaal teenoor hom. Vir die res van haar lewe skryf sy briewe vir Herbert en vind sy nooit weer liefde by iemand anders nie. Al waarin sy werklik troos vind is in haar bure se seun, Eik.

Die boeiende roman se verhaallyne ontvou vanuit verskillende perspektiewe.

Die eerste deel word soos ’n storie vertel en daar is selfs verwysings na Grimm’s Fairy Tales en Hans Christian Anderson. Die leser is nie seker wie die storie vertel nie, maar teen die einde van die afdeling word dit bekend gemaak.

Die tweede deel wat in die 1950’s afspeel, word uit Ferdinand se oogpunt vertel. Hy vertel hoe Olga, hul gesin se naaldwerkster wat in tussentyd blind geword het, na hom omgesien het as kind. ’n Hegte band het tussen hulle gevorm en eindelik het Ferdinand haar erfgenaam geword.

Die derde deel (my gunsteling) word in Olga se eie woorde deur middel van liefdesbriewe aan Herbert vertel. Die leser kry ’n blik op Olga se gedagtes en leer haar meer persoonlik ken. Die verhaal spring terug in tyd na 1913 toe Herbert na die Noordpool vertrek het. Olga het deurentyd innerlike konflik ervaar soos haar lewe ontwrig word deur Duitsland se strewe om altyd groter en beter te moet wees. Ferdinand het vroeër reeds genoem: “She just said life was a series of losses.” (bl. 124). Verlies is ’n universele ervaring wat mens menigmaal deur die loop van die lewe teëkom, mens moet net besluit hoe om dit te hanteer. Olga het aanvanklik haar verlies ontken en vir die res van haar lewe het sy aan Herbert verbind gebly deur herinneringe en briewe. Teen die einde is daar ’n onverwagse wending toe Olga besluit om self aksie te neem.

Die roerende, bittersoet liefdesverhaal is die moeite werd om te lees, veral as jy lief is vir geskiedenis. Die roman is uit Duits deur Charlotte Collins vertaal.  - Marzanne Schoeman

  

Restless Souls, Dan Sheehan (Weidenfeld & Nicolson, R228)

Dis die negentigerjare en daar is ’n oorlog in Sarajevo. Gewoonlik hardloop mense weg van oorlog, maar oorlogkorrespondent Tom voel ’n diep verantwoordelikheid teenoor die mense in die oorloggeteisterde gebied. Sodra hy in Sarajevo aankom, word hy egter met die magteloosheid van die situasie gekonfronteer. Ongelukkig is daar min wat hy kan doen. Tog is hy vasberade om sy taak so goed as moontlik uit te rig. Drie jaar later is hy terug in Ierland, maar sy lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Sy twee beste vriende, Baz en Karl, wag hom op die lughawe in. Hulle skrik toe die skaduwee wat Tom nou is, na hulle aangestap kom. Tom sukkel om te slaap en sy nagmerries veroorsaak dat hy omtrent glad nie ’n lewe het nie. In Kalifornië is ’n eksperimentele kliniek wat daarin spesialiseer om soldate met post-traumatiese stressindroom te help. Dis Karl en Baz se enigste hoop vir Tom en saam vertrek die drie vriende Amerika toe. Op hul reis na die kliniek verdwaal hulle in die woestyn. Baz glo hy het die vrou van sy drome daar ontmoet. Maar Karl dring daarop aan dat hulle Tom by die kliniek moet kry, want dis al hoop wat daar vir hulle oor is.

’n Ongelooflike verhaal van onvoorwaardelike vriendskap. Alhoewel Karl en Baz in die woestyn met hul eie spoke en smarte uit hul verlede vrede moet maak, bly hulle tot aan die einde getrou aan  hul vriend Tom en sy welstand. -  Antoinique van Staden

 

The Butterfly Lampshade, Aimee Bender (Hutchinson, R310) PRH

Agtjarige Francie se ma word in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem. Haar naaste familie is ver en hulle het so pas ’n baba gehad. Francie gaan bly by haar oppasser terwyl haar oom en tannie reëlings tref om haar na hulle toe te bring. Sy weier om op ’n vliegtuig te klim en reis oornag op ’n trein na hulle toe. Hulle verwelkom haar as deel van hul gesin en maak moeite om haar tuis te laat voel. Francie besoek haar ma een keer ’n maand, maar trek nooit weer terug na haar ouerhuis nie.

Nou, twintig jaar later dwing Francie haarself om haar herinneringe as agtjarige te herroep. Sy onthou elke detail van daardie tydperk in haar lewe, veral die skoenlapperlampskerm in die oppasser se woonstel. Sy ondersoek haar eie persepsie van realiteit en probeer sin maak van hoe sy die oorgang ervaar het. Dit is ’n gevoelvolle storie oor die brose band tussen ’n ma en haar dogter en ’n kind se begrip van self lank nadat sy groot geword het. - Danica Gouws

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel