inspirasie, woorde

In Helene de Kock se jongste roman, Elisabet se oorlog (Human&Rousseau, R310), veroorsaak dié optrede dat Elisabet ’n buitestander in haar gesin word. Om te weg te kom van haar ouers se verwerping en die onuithoudbare atmosfeer op die plaas in die Vrystaat help die dominee haar om ’n tydelike heenkome op Stellenbosch te kry. Dis waar sy tydens haar studies kennis maak met die aantreklike mediese student Marius Mulder. Hy is ’n knaende teenwoordigheid in haar onderbewuste en voordat sy nie helderheid oor haar eie aspirasies en verwagtinge van die liefde en die lewe kry nie, kan Elisabet nie vrede vind nie.

Toe haar tante wat in Londen woon ’n hand van vriendskap uitreik, reis Elisabet vrou-alleen daarheen ten spyte van die bedreiging van die Tweede Wêreldoorlog. In Londen vind sy aanvaarding by haar tante en oom, John Connelly, en maak sy nuwe vriende. Sy moet ook haar eie oorlog veg en vrede vind oor alles wat op haar besluite gevolg het. Tydens die Blitz leer sy van die Britte se pragmatiese ingesteldheid, om voort te beur en net aan te gaan. Haar nuwe lewe bring haar weer in aanraking met dokter Marius Mulder. Toe die bure se huis gebombardeer word, word Elisabet die voog van ’n halfdowe dogtertjie. Hoe gaan Elisabet al die ontwrigting in haar lewe hanteer? En sal sy die onvoorwaardelike liefde vind waarna sy met haar hele hart smag.

Die verhaal beskryf die swaarkry en ellende van oorlog. Hoe mense moet probeer oorleef terwyl die bomme op hulle neerreën. Jy word ingetrek by Elisabet se omstandighede en saam met haar veg jy haar haar oorlog. Diepgaande temas van menslikheid, liefde, vergifnis, deernis en buitestanderskap word in die roman aangeroer.

Ek het met Helene de Kock oor haar boeiende roman gesels.

 
 inspirasie, woorde
Foto: Hanneri de Wet

Jou ma het ook geskryf. Is dit waar jou liefde vir skryf ontstaan het?

Ja. My ma het Engelse leesboeke met ’n Afrikatema vir die destydse standerd ses, sewe en agt geskryf. Ek het besef dat sy ietsie uit die voorgeskrewe boeke vir Kaapse skole maak. Destyds was ek in my tweede jaar op universiteit en het ’n dringende behoefte aan sakgeld gehad. Toe skryf ek ’n kortverhaal vir Huisgenoot en het iets verdien. Ek dink toe ek kan skryf, maar daarna is ’n hele paar verhale teruggestuur.  

Jy is produktief, want daar het elke jaar n boek verskyn, soms selfs twee. Het jy nog altyd n sterk skryfroetine gehad?

Skryf het altyd eerste gekom, hoewel ek ook skool gegee het vir matrieks. Ek het geskiedenis gegee vir beide die Afrikaanse en Engelse leerlinge aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem. Later het ek skool gegee aan E.G. Jansen in Boksburg. Toe het ek nog nie so goed geskryf nie. Ek het later besef, ná my kinders se geboorte, skryf is nie ’n stokperdjie nie, dis ’n werk. Dit moet heeltemal professioneel aangepak word. Ek raak kriewelrig as ek nie skryf nie, want deur skryf raak ek ontslae van stres. Skryf is vir my ’n anker. Ek onthou ek het ná my pa se dood ernstig begin skryf en ook ná my oudste seun, Jaco, se dood. Ek het ’n boek oor my belewenis van sy dood geskryf. Baie ander mense in die familie kan nie maklik daaroor praat nie. Vir my was dit noodsaaklik om daaroor te skryf. So, ek vermoed skryf is ’n moet vir my.

Jy het n lang loopbaan in skryf, tog het jy eers heelwat later skryfkuns studeer. Jy het in 2014 jou PhD verwerf.

Ek was eenkeer by ’n skrywersbyeenkoms waar prof. Hans du Plessis vir my gesê het ek het so ’n lang publikasielys, waarom skryf ek nie vir my meestersgraad in nie. Wat ek toe gedoen het. Ek het gelukkig baie goed gedoen, ’n toekenning gekry en ook ’n beurs om ’n PhD te doen. By die gradeplegtigheid vir my doktorsgraad het ek gedink almal gaan lag vir dié ou tannie wat haar PhD kry. Maar dit was nie so nie. Daar was baie ouer mense wat bo sestig was wat ook hul graad verwerf het.  

Jy skryf nog altyd liefdesverhale, maar dit voel vir my asof daar in 2003 n draaipunt en n verandering van fokus was. Het ek dit reg gelees so?

Ek het besef daar moet ’n sterker storielyn wees. My kinders was groter en ek kon meer aandag aan my skryfwerk skenk. Ek het ook ophou skoolhou, want ons het in Pretoria kom woon. Ek wou ’n stewiger boek skryf en dis miskien dit wat jy raakgelees het.

Jy fokus altyd sterk op menseverhoudings. Wat trek jou aan na die intrige tussen mense?

Die feit dat ek in ’n pastorie grootgeword het, laat my anders kyk na mense – miskien met meer deernis. Hoewel ons gesin baie gelukkig was, was dit nie so met almal wat kom aanklop het nie. Ek kon duidelik sien wat die werklikheid in mense se lewens was. Ek het besluit ek wil oor menseverhoudings skryf. Maar geluk is net so werklik soos ongeluk. So, ek skryf oor albei.

Jou onlangse verhale speel meestal af in die tydperk 1918 tot 1966. Waarom kies jy dié era vir jou verhale?

Ek is gebore tydens die Tweede Wêreldoorlog en het grootgeword met die nagevolge van die oorlog, dis die een aspek. Die ander is dat daar ingeboude konflik in dié era is. As skrywer hoef ek nie vir konflik te gaan soek nie. 

Plek speel n duidelike rol in jou verhale. Jy gebruik weer die Oos-Vrystaat as Elisabet se plek van oorsprong. Waar kom jou liefde vir die omgewing vandaan?

Sedert kindsbeen het ek baie in die Oos-Vrystaat gekom omdat al my ma se mense daar gewoon het. En ook, ek het amper ’n dekade lank op Bethlehem gewoon. Dit is vir my ’n lieflike plek. Ek het ook in my PhD geskryf oor ’n sin van plek. Dis verskriklik belangrik in enige roman, want plek anker die karakters.

Wat was die vonk vir Elisabet se oorlog?

Ek moes baie vinnig dink aan ’n volgende boek en ek het gewonder wat sal gebeur as ’n bruid kort voor die troue besluit sy wil nie meer trou nie. Daaruit het die verhaal stap vir stap gekom. Dis nie iets wat ek vooruit kan skou en besluit dis hoe die verhaal verloop nie. Dis nooit so nie. Die stukkie wat jy vandag skryf, werp vir jou ’n bietjie lig op dit wat jy môre gaan skryf. ’n Klein bietjie, nie baie nie. Hoe dieper ek my in die verhaal ingrawe, hoe meer weet ek wat gaan gebeur. Die karakters moet verlewendig. Aanvanklik het ek net die raamwerk van ’n bruid wat wegloop, maar dan moet ek besluit of die raamwerk gaan verval soos wat die karakter verlewendig. Dan gebeur daar baie goed wat hopelik nie voorspelbaar is nie.

Die verhaal draai om Elisabet en sy vertel dit vanuit haar oogpunt. Hoe moeilik is dit om die hele tyd uit die hoofkarakter se perspektief te skryf?

Dit is nogal moeilik, want sy kan byvoorbeeld nie haarself sien bleek word nie, sy moet dit voel. So, jy moet absoluut binne daai perspektief bly. Elisabet se oorlog is ook haar innerlike oorlog. Dit is nie net die uiterlike oorlog waarmee sy te doen het nie, maar ook met haarself. En daardie oorlog is ’n absolute soeke na ’n identiteit, omdat dit nie vir ’n vrou so maklik was in daardie jare om haar eie identiteit te vind nie.

Drie sterk manlike karakters, Marius Mulder, Johannes Barnard en John Connelly, figureer in Elisabet se lewe. Vertel meer oor hulle.

’n Mens moet een ding in gedagte hou, die tydsgees wat ons tans beleef, eintlik die post-postmodernisme, is totaal anders as daardie tyd. Destyds was alles rigied; dit was òf swart òf wit. Jy het nie buite jou baan getrap nie. Johannes moes leer dat alles wat hy dink nie noodwendig reg is nie. Hy moes ’n groeiproses deurgaan. So ook Marius. En John Connelly het met Elisabet in aanraking gekom op die tydstip waar sy op soek was na haar eie identiteit, maar hy is ook onderworpe aan die rigiditeit van die tydsgees.  

Wanneer Elisabet in Londen is, begin die Blitz daar. Jou navorsing daaroor is omvattend. Waarop het jy afgekom wat jou verstom het?

Ek het raakgelees van ’n veldtog waarin duisende troeteldiere van kant gemaak is en ek het gevoel dis iets waaroor gepraat moet word. Diere moes uitgesit word, want die vrese was, sou daar bomaanvalle kom, kon hulle nie nog aan gewonde diere aandag gee nie. Veral nie as daar mense is wat gewond is nie. Daar was ’n hertogin wat haar landgoed beskikbaar gestel het vir mense wat nie kans gesien het om hul diere te laat uitsit nie. Nie almal kon egter hul diere soontoe neem nie. Ook nie almal het kans gesien om hul diere te laat uitsit nie. Dis waarom diere ’n rol in die verhaal speel.  

Op n manier was dit n sluimerende oorlog. Hoe so?

Hulle het dit ’n phoney war genoem, want oorlog is verklaar en almal het gehardloop as die sirenes afgaan. Maar niks het gebeur nie. Tot op ’n dag toe die Blitz begin het, en die aanvalle sonder ophou op Londen neergereën het. Mense was eenvoudig verplig om ’n ander normaal te aanvaar.

Maar die Britte het tog op n manier probeer om so normaal as moontlik voort te beur, soos jy dit in die boek beskryf.

Dis die Britte. Vir hulle was dit eenvoudig business as usual; maak nie saak wat gebeur nie, ons gaan aan met ons lewe. Dis miskien iets wat mens by hulle kan leer: Daardie vasberadenheid om nie ondergekry te word nie, om nie onder te gaan nie.  

Jy roer weer buitestanderskap aan in die verhaal. Wil jy uitwei?

Daar was ’n geweldige anti-Engelse gevoel onder Afrikaners. Elisabet se tante Susan het die Brit John Connelly ontmoet. Hulle het verlief geraak en sy is eenvoudig deur haar familie verwerp. Sy het haar saam met hom in Londen gevestig. Ek weet van families met wie dit werklik so gebeur het. Dis deesdae feitlik onbegryplik.