John Webb is só ’n skrywer. Sy boek, Nine Letters, (Penguin Random House, R280) het my ontroer.

 inspirasie, woorde

Die karakter Teddy Dickerson, ’n eensaam, ouerwordende, gay Durbanse advokaat is die laaste Dickerson in die land. Die absurde van is beslis met opset gekies. Daar is twee familie-sagas in die verhaal wat met mekaar oorkruis. Aan die een kant is daar die Dickersons se kleinskaalse intrige, met Teddy wat sy uitgesproke tante, Aunt Val, se laaste wense probeer eer. Hy pos namens haar agt briewe na adresse oor die wêreld heen en wanneer die antwoorde begin inrol, besef hy dat sy tante ’n geheime lewe vol halwe waarhede gelei het. Heelwat emosionele speurwerk is nodig vir hom om enigsins sin te maak van die vreemde briewe wat aan hom teruggeskryf word.

In sy professionele lewe worstel Teddy weer met die Smollen-familie se grootskaalse tragedie wat in die hof gaan draai, waar die oorlede pa se laaste wense onder die loep kom. Dis weereens Teddy se emosionele speurwerk wat moet help, maar die arme man is besig om te knak.

Ek het lanklaas soveel deernis vir ’n fiksionele karakter ervaar. Teddy se verhaal is vol hartseer en warmte, wroeging en aanvaarding, groei en verval. Dié besonderse boek bied baie insig oor die lewe en die doodsnikke van die lewe en Webb nooi jou liggies en vriendelik om saam met hom daaroor te lag, want dis ook maar al wat ’n mens in jou donkerste uur kan doen.

Dis Webb se tweede boek en ek gaan beslis sy eerste opsoek en sy naam onthou, want hopelik kom daar nog baie uit sy pen.

 
 inspirasie, woorde

A Traveller at the Gates of Wisdom, John Boyne (Penguin, R310)

Ek moet dadelik verklaar dat ek ’n groot aanhanger van John Boyne is. Sy kinderboek The Terrible Thing That Happened to Barnaby Brocket was die laaste boek wat ek hardop aan my kinders voorgelees het voordat ons daardie stadium van ons lewe ontgroei het. So goed was dit, dat ek vir die eerste keer in my lewe aan ’n skrywer geskryf het om waardering uit te spreek.

’n Paar jaar later het my oudste kind Boyne se boek The Boy in the Striped Pyjamas op skool behandel. Dis loshande die hartseerste storie wat ek nog ooit gelees het. (The Color Purple is tweede hartseerste, terloops.)

Ek het dus geweet dat Traveller goed sou wees – die man is nie in staat tot ’n swak boek nie. Tog het dit my ’n ruk gevat om gewoond te raak aan die unieke vertelkonsep wat hy hier aanwend. Die storie speel af in verskillende lande oor die wêreld heen (selfs Namibië) en in verskillende tye wat strek van 1 n.C. tot 2080 n.C.

Ek weet nie lekker hoe om te verduidelik dat die karakters in die sowat 50 hoofstukke nie dieselfde is nie, maar tog wel dieselfde, en dat die storie ondanks die verskille in tyd en plek steeds een samehangende storie is. Die uitgewer wat die boek goedgekeur het, het duidelik dieselfde vertroue in Boyne se vermoë as wat ek het, want die plan klink gek. Gelukkig begin die karakters se name altyd met dieselfde letter, wat jou help om gouer te weet wie is wie. Die hoofkarakter is ’n kreatiewe man wat deurlopend gekonfronteer word met die idee dat kreatiwiteit nie manlik is nie. Hy is vasbeslote om wraak te neem vir sy vrou se dood, al voel hy skaam daaroor dat hy, as skepper, tot moord in staat is.

Boyne het bietjie kritiek gekry vir sy geskiedkundige navorsing, maar met sy emosionele waarhede skort niks, en dis wat die boek ’n treffende sukses maak. 

Die storie is vol interessante details oor kulturele houdings en menings wat jou sal laat ril, asook meer geweld as al Boyne se ander boeke tesame. Die veranderende posisie van vroue en gay mense word aangrypend in die verhaal verweef.

Wanneer die boek die hede verbysteek en in die toekoms in begin strek (Donald Trump speel ’n groot rol) is dit natuurlik suiwer verbeelding wat aan die werk is. Boyne laat jou met vrae: Hoe gaan ons lyk wanneer toekomstige generasies terugkyk? Is die noodlot in ons hande? - Helen Schöer

 
 inspirasie, woorde

Looking for Eliza, Leaf Arbuthnot (Orion, R335)

Daar is byna 8 miljard mense op aarde. Elkeen van ons sal seker graag wil dink dat ons met ’n doel hier is; dat ons bestaan ’n verskil maak en dat ons iets bereik het. Die feit bly staan egter dat 99% van ons binne een generasie van ons eie afsterwe vergete sal wees, selfs voor die wurms heeltemal met ons klaar is. Da Vinci, Einstein, Shakespeare en diesulkes is in ’n baie eksklusiewe klub.

Wat is dan die sin van alles? In dié boek pak die jong skrywer Arbuthnot die lewe se groot vraag aan, met ’n seker, dog ligte hand. Haar twee karakters worstel elk op hul eie manier daarmee: Een is ’n talentvolle jong vrou wat verlammende bedenkinge or haar Ph.D het, die ander ’n bejaarde weduwee en digter wat verlam voel sonder haar beter helfte. Hulle woon oorkant mekaar en het op papier net mooi niks in gemeen. Dan gooi ’n sameloop van omstandighede hulle saam en ’n pragtige vriendskap ontwikkel.

Die boek het ’n lieflike boodskap oor eensaamheid en familie, wat nie noodwendig bloed hoef te deel nie. As ek dit moet opsom, gaan dit oor Ubuntu, al is die skrywer ’n Brit. Deur vir mekaar om te gee, verryk die twee vrouekarakters nie net mekaar se lewens nie, maar hul eie lewe ook.

Laat die wurms dan maar kom, solank jou lewe vir iemand anders iets beteken het, al haal dit nooit ’n geskiedenisboek nie. Omgee is al wat tel.   -  Helen Schöer

 
 inspirasie, woorde

The Shelly Bay Ladies Swimming Circle, Sophie Green (Little Brown, R325)

As jy lus is vir ’n lekker ligte vakansieboek oor die lief en leed van die lewe, is dié een vir jou. Dit speel af in Australië, van Lente 1982 tot Somer 1984. Jy leer ken vier uiteenlopende vroue, wat met die eerste ontmoeting blykbaar niks in gemeen het nie. Hulle begin dan elke oggend saam swem in die yskoue see. Sulke swemgroepe is deesdae nogal ’n inding, ook hier in Suid-Afrika.

Elk van die vroue dra haar eie kruis, of selfs twee. Die idee was seker om soveel raakpunte met soveel lesers as moontlik te tref, maar die resultaat is dat al die temas bietjie oppervlakkig voel. Die vroue sukkel met onder meer die dood van ’n baba, die dood van ’n man, ontrouheid, ’n huwelik wat verbrokkel, leë nes sindroom, alkoholisme, borskanker, verkragting, aanneming en familie-vervreemding. Swaar temas, maar saam-saam kom hulle daar deur. Dis ’n ode aan vriendskap en al was dit nie my gunsteling soort boek nie, het ek tog ’n traan gepink. Meer as dit, het die boek my egter laat uitsien na my eie seevakansie wat voorlê wanneer ek self weer die koue see saam met my suster en vriendinne gaan aanpak. - Helen Schöer

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.