Sigarette is ’n uiters winsgewende smokkelbedryf en die risiko om vasgetrap te word is relatief laag soos ons tydens grendeltyd gesien het. Rokers het steeds gerook en oral was sigarette teen astronomiese pryse bekombaar.

 inspirasie, woorde

Telita Snyckers se aangrypende navorsing in haar boek Dirty Tobacco, (Tafelberg, R295) oor die tabakbedryf is lank voor grendeltyd gedoen maar sy kon nie vir ’n beter gevallestudie gevra het nie. Die verskaffing, verspreiding en verkoop van gesmokkelde sigarette het sedert Maart 2020 eenvoudig floreer, maak nie saak of dit egte, vervalste of goedkoop produkte was wat te koop aangebied is nie.

Snyckers, ’n voormalige prokureur van die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens (SAID), ontbloot die donker onderbuik van die tabakbedryf.  Sy vertel van gevalle waar groot tabakmaatskappye self met die hand in die spreekwoordelike koekblik gevang is en ondersoek nie net waarom ’n genoteerde maatskappy sy eie produk wil smokkel nie, maar ook hoe dit gedoen word.

Hooggeplaaste amptenare, selfs binne in die inkomstediens, sluit ook hul oë vir hul bondgenote se skewe belastingopgawes en skelm sakepraktyke. Snyckers noem die smokkelaars by name en wys hoe die smokkel van sigarette aan politici gekoppel kan word. Wie ken vir wie, en is getroud met die of daai? Nie net in Suid-Afrika nie, maar reg oor die wêreld kan sulke verbindingslyne getrek word want die grootkoppe van die tabakbedryf is ook meesters in politiek, aldus die skrywer.

Die leser word meegevoer deur die skrywer se omvattende navorsing en hoewel die meeste sappige brokkies eers in die laaste hoofstukke vertel word, is dit ’n boek wat rokers en nie-rokers vasvang en intrek in ’n onderwêreld van witboordjiemisdaad waarvan min bewus is. - Susan Puren

 
 inspirasie, woorde

The misery merchants, Ruth Hopkins (Jacana, R280)

In hierdie boeiende niefiksie werk ontbloot Ruth Hopkins die wreedheid waarmee gevangenisse in privaatbesit bedryf word. G4S is ’n sekuriteitsmaatskappy wat wêreldwyd in 90 lande bedryf word. Hopkins het heelwat toekennings ontvang vir uitstekende ondersoekende joernalistiek.

In Suid-Afrika het G4S onder meer bande gehad met die elite groep wat na voormalige president Zuma se persoonlike veiligheid omgesien het.

Dié joernalis het amper ’n dekade gewy aan navorsing oor gerugte oor ’n gevangene wat na bewering selfdood gepleeg het, terwyl dit geblyk het dat hy deur bewaarders aangerand en vermoor is. Hopkins sluit foto’s in wat haar feite staaf. Sy maak weersprekende interne verslae openbaar, asook die vreemde boodskappe wat owerhede van die Departement van Korrektiewe Dienste aan haar gestuur het.

Die lang lys bewerings teen die bewaarders in Mangaung wat sy nagevors het, sluit bewerings in oor onregmatige skuldigbevindings, polisie-brutaliteit en verskeie ander regskwessies.

Die Wits Justice Project was vennote van Hopkins in haar deeglike navorsing oor die Mangaung-sentrum wat onderneem is na beskuldigings geopper is oor die hantering van gevangenes daar. - Mariette Postma

 inspirasie, woorde

These are not gentle people, Andrew Harding (Picador, R290)

Eers was daar ’n hofsaak wat jare geduur het met gereelde nuus daaroor in die media. En nou dié boek, voordat die skuldiges nog gevonnis is. Sou hier enigsins iets in wees wat nog nie in die koerante verskyn het nie, was my onmiddellike reaksie?

Hierdie is geen gewone opdis en herhaling van feite nie. Harding het wyd met verskeie mense betrokke by die Parys-6-hofsaak, soos dit bekend geword het, gesels nadat Samuel Tjixa en Simon Jubeba aangerand, dood is en ses mans aangekla is.Goeie waarneming, Harding se gesprekke met betrokkenes en deeglike opsomming van die feite sorg vir ’n baie leesbare ervaring. Sonder om kant te kies of iemand aan te haal, vertel hy onder meer van die hofsaak, hoe die boere voel, hoe hul vroue en meisies dink en ook hoe die oorlede werkers se familie die gebeure en hofsaak beleef.

Jy ervaar die emosies, maar kry ook ’n beeld van die dorp en die omgewing. Jy kry ook insae in mense soos hofamptenare en polisiebeamptes se lewens, wat deur die aanranding en sterfte van die twee werkers geraak is. En so met die lees, begin jyself diep dink en wonder. Ek kon die boek nie neersit nie.  – Alida Vos.

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel