Sulke rolprente kan mens bang maak oor wat die toekoms inhou. Veral wanneer die super realisme daarvan ’n postapokaliptiese wêreld uitbeeld waarin ons met ’n vreemde, nuwe wêreld en leefwyse gekonfronteer word. Al is dit net in films, is die werklikheid dat ons almal nóú iets aan klimaatsverandering en aardverwarming moet probeer doen. Dis die enigste manier hoe ons kan probeer om ons aarde te red vir ons kinders en ons kinders se kinders. Die Greta Thunbergs van die wêreld maak reeds hul stemme dik oor die verantwoordelikheid wat politici en volwassenes teenoor die jeug het rakende die klimaat.

 
 inspirasie, woorde
Is dit nodig om paranoïes te raak?

Nee, sê Sipho King en Sarah Wild in hul praktiese handboek, South Africa’s Survival Guide to Climate Change (Pan Macmillan, R290). Maar almal kan in dié oorlewingsgids sien spesifiek hoe klimaatsverandering die lewens van Suid-Afrikaners raak. Temperature raak al hoe warmer, seevlakke is aan die styg en dele van die land is besig om onherbergsaam te raak. Niemand gaan gespaar word deur die veranderinge nie. King en Wild sê ons het ’n plan nodig om sinvol aksie te neem.

Hulle verduidelik hoe ons gereed kan wees en hoe ons die impak van klimaatsverandering kan help verminder. Die skrywers  is joernaliste en doen in hul loopbane verslag oor die verskillende aspekte van klimaatsverandering.

“South Africa’s Survival Guide to Climate Change” is ’n praktiese gids propvol inligting, definisies, hulpbronne en aksies wat elkeen kan toepas om ’n verskil aan die klimaat te maak.

Die boek is geskryf vir die Suid-Afrikaanse leser. Ons moet nie net weet wat in die wêreld gebeur nie, maar ook wat ons regering en die private sektor doen.

Maar wat is klimaatsverandering en aardverwarming?

Klimaatsverandering is ’n verandering in klimaatpatrone en word veral toegeskryf aan verhoogde vlakke van atmosferiese koolstofdioksied wat geproduseer word deur die gebruik van fossielbrandstowwe. Aardverwarming is hoër temperature wat veroorsaak dat seevlakke styg, dat minder drinkbare water beskikbaar is, dat daar erge en langer droogtes, meer veldbrande, maar ook erge vloede is indien dit wel reën.

Die boek gee praktiese wenke wat elkeen van ons kan toepas, soos vermy voedselvermorsing deur seisoenaal te eet, plaaslike produkte te koop, en plant inheemse plante, sowel as jou eie groente, kruie en vrugte.Beurtkrag is die afgelope paar jaar ’n frustrerende realiteit. Dis sleg vir die ekonomie, maar beïnvloed ook die lewensgehalte van gewone mense. Daarom raai die skrywers jou aan omelektrisiteit verstandig te gebruik deur toestelle, ligte en muurproppe af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie. Hulle moedig mense aan om die gebruik van plastiek en papier te verminder.

Die skrywers se laaste woorde in die boek is dat “om te oorleef, ons moet optree - al is die eerste stap klein”. – Karien Labuschagne