Die verhale draai om Don Tillman, ’n professor in genetika, wat op die rand van die outisme spektrum is, maar hoogs funksioneel, en die dilemmas in sy lewe.

In die eerste boek, The Rosie Project, was hy nog nie getroud nie en het hy ’n projek begin om liefde te vind. Sy metodiese planne word lekker deurmekaar gekrap toe hy vir Rosie ontmoet, volgens hom "the world’s most incompatible woman." Wonder bo wonder het die verhouding gedy en in die tweede boek sit die egpaar hul getroude lewe in New York voort. Alles loop heel vlot totdat Rosie swanger raak en Don begin navors hoe om die beste pa in die wêreld te wees. Maar soos gewoonlik raak sy aandag verdeeld en raak hy by ander mense se probleme betrokke, en in die proses verloor hy amper vir Rosie.

Die boeke ondersoek op ’n empatiese manier hoe dit is vir iemand met outisme (hoe gering ook al) om in die die lewe van sogenaamde normale mense en in die gemeenskap aan te pas. Waar Simsion in die eerste twee boeke indirek oor outisme as tema geskryf het, kom dit in die laaste boek oor Don en Rosie sterk onder die loep. Hier pak hy steeds met deernis die tema aan.  

In The Rosie Result (Penguin, R290) is die egpaar se seun Hudson nou 11 jaar oud en sukkel hy om in te pas op skool. Nadat hy in ’n paar insidente betrokke is, beveel die skool aan dat hy ’n toets moet ondergaan om as outisties gediagnoseer te word. Don en Rosie wonder of dit die regte ding is, want Hudson beskik oor baie van dieselfde eienskappe wat Don het, en hy is dan nie outisties nie! Die groot vraagstuk is of ’n diagnose Hudson se lewe makliker gaan maak, én of dit hom gaan inperk in hoe hy sy eie identiteit ervaar. Dis ’n boeiende en fassinerende verhaal en een wat mens aan die hart gryp. Don en Rosie se dilemmas by hul onderskeie werke maak hul gesinslewe nog meer kompleks. Hulle maak staat op die ondersteuning van vriende en familie om oplossings te probeer vind, alhoewel Don oudergewoonte sy logika gebruik om almal rondom hom se probleme op te los. Dit skep eintlik dikwels net nog meer probleme weens sy social awkwardness.

Die verhaal word vanuit Don se perspektief vertel en gaan in wese oor sy verhouding met sy seun, asook wie hy wat Don is, werklik is. Die sentrale tema oor outisme word baie goed ondersoek en rugsteun hierdie emosionele verhaal oor identiteit, aanvaarding en vergifnis. Ná die lees daarvan het ek baie meer empatie en insig gehad oor hoe die gemeenskap mense wat met outistisme gediagnoseer is, benader. – Phyllis Green

 

The Rival, Charlotte Duckworth (Quercus, R280)

Allie is jonk en ambisieus en wanneer Helena haar aanstel om deel van haar webspan by Kamu te word, beïndruk sy Helena met haar toegewydheid en werkywer. Hulle vorm ’n droomspan tot die dag dat Helena besef dat Allie niks of niemand in haar pad gaan laat staan om die kruin van sukses te bereik nie. Veral toe Helena heel onbepland swanger raak en haar posisie by Kamu op die spel is.Die verhaal speel afwisselend in die verlede en die hede af en word vertel vanuit Helena en Allie se oogpunte.

Temas wat aangeroer word, is ambisie en beroepsgedrewenheid teenoor moederskap en gesinslewe. ’n Onverwagse kinkel in die spanningsvolle verhaal word deur postnatale psigose veroorsaak - die toestand maak ’n impak op heelwat karakters se lewens. Verrassend tot die laaste bladsy. - Phyllis Green

 

The Book of Malachi, Tracey Farren (Kwela, R320)

Malachi Dakwaa is stom. Dit maak dat hy afgesonderd is van die samelewing. Hy kry ’n buitengewone werksaanbod wat sy lewe radikaal kan verander. In ruil daarvoor om vir 6 maande as bewaarder op ’n hoogsgeheime ‘orgaan plaas’ te werk, sal die farmaseutiese maatskappy, Frasier, vir hom ’n nuwe tong oorplant. Malachi aanvaar die aanbod, want dalk sal sy toekoms beter verloop.

Vêr uit op see bevind hy homself tussen massamoordenaars en die tipe mense wat hòm vermink het en sy familie vermoor het.

Maar is al die gevangenes so wreed soos wat daar vir hom vertel is? Verdien hulle almal diè lot? Soos Malachi se twyfel begin groei, staar ’n baie moeilike besluit hom in die gesig. Los hy die mense in hierdie mediese nagmerrie of stel hy sy eie lewe (en die kans om weer ’n tong te hê) in gevaar?

Al het Malachi het geen tong nie, hoor lesers sy stem baie duidelik en sal dit hulle by bly lank nadat die laaste bladsy toegemaak is. Die verhaal is ironies, humoristies en het impak.  - Nadia de Jongh 

The Only Story, Julian Barnes (Vintage Publishing, R297)

Die noodlot kan mense partykeer op ongewone maniere bymekaar bring. Paul en Susan se lewens word onherroeplik verander wanneer hulle saam aan ’n tennistoernooi deelneem. Elke keer as hulle tennis speel, kom Paul agter dat hy sy hart op Susan verloor het en dat hy haar waarlik lief het. Hulle spandeer meer tyd buite die tennisklub saam en Paul begin selfs om by Susan te kuier wanneer hulle dink niemand weet nie. Die geheim van hul verhouding word genoodsaak deur die feit dat Susan getroud is. Boonop is daar ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle. Susan, in haar veertigerjare, het twee dogters van Paul se ouderdom. Al pla die twee se verbintenis almal op die dorp, Paul en Susan word selfs uit die tennisklub geskop, kan hulle nie veel omgee nie. Hulle glo hulle is lief vir mekaar en dat hulle enige struikelblokke deur hul liefde kan oorkom.

Wanneer Susan uiteindelik haar man los en saam met Paul in ’n woonstel intrek, kan hy aanvanklik nie gelukkiger wees nie. Mettertyd tree die werklikheid van hul situasie tog na vore en Paul voel soos ’n gevangene. Tog weet hy dat hy vir altyd by Susan sal bly, want dis sy werk om haar te beskerm. Al is hy nie meer so seker of hy lief is vir haar nie.

Barnes doen ’n wonderlike werk om die leser ’n blik op die intieme wêreld van Paul en Susan se disfunksionele verhouding te gee. Die temas van verbodenheid en emosionele afhanklikheid word meesterlik vanuit Paul se perspektief vertel. - Antoinique van Staden

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.