Onlangse studies dui daarop dat insekpopulasies wêreldwyd aan die afneem is. Meer as die helfte van insekte reg oor die wêreld se syfers neem so vinnig af dat een derde van alle insekte uitwissing in die oë staar. Nou waarom moet ons bekommerd wees hieroor? Was dit nie vir insekte nie sou jy nie die verskeidenheid vrugte en groente op winkelrakke te koop kry nie. Insekte is verantwoordelik vir die bevrugting van plante wat lei tot die kos wat ons eet. Al is die sespotiges in sommige gevalle so klein dat jy hulle kwalik raaksien, speel hulle dié belangrikste rol in die ekosisteem. Dink twee keer voordat jy die by wat in jou koeldrankglas  val, los om te verdrink!

 

 inspirasie, woorde

Pollinators, Predators and Parasites. The Ecological Roles of Insects in Southern Africa, Clarke Scholtz, Jenny Scholtz en Hennie de Klerk (Struik Nature, R590)

Die skryf van dié omvattende boek oor die insekte van suidelike Afrika was vir die skrywers ’n lewenstaak en dit het tien jaar geneem om die pragboek te voltooi. Tussen dié blaaie betree jy die fassinerende wêreld van insekte: Hoeveel verskillende soorte daar is en hul invloed op die omgewing, mens en dier. Sowat 75% van alle organismes op aarde is insekte. In suidelike Afrika is al meer as 50 000 insekspesies beskryf.  Insekte speel ’n uiters noodsaaklike rol in meeste van die ekologiese prosesse, soos bestuiwing, predasie, parasitisme, grondverandering en die herwinning van voedingstowwe. Boonop is insekte ’n belangrike voedselbron vir ander organismes, waaronder bakterieë, swamme, ander insekte, geleedpotiges, reptiele, voëls en soogdiere. Daar word op die eiers, larwes, papies en volwasse stadiums van insekte gevoed.

Die boek is uitgelê in ’n voorwoord en inleiding, 14 hoofstukke en aanhegsels. In die voorwoord en inleiding word bondig verduidelik waarom die boek geskryf is. In hoofstuk 1 word insekte en hul rol in die ekologie volledig uitgelê. Hoofstukke 2-14 fokus op elk van die 9 biome en 4 ekosisteme. Die invloed van endemiese, maar ook meer algemene insekte se invloed op elke bioom of ekosisteem se plante, diere, grond en water word bespreek en die endemiese plante, diere en insekte is geïllustreer deur pragfoto’s. Die aanhegsels sluit ’n gids vir elk van die 25 insekordes wat in suidelike Afrika voorkom in met foto’s wat hul diagnostiese karaktereienskappe aandui. Daar is ook ’n woordelys en volledige bronverwysings vir al die materiaal wat in die boek gebruik is.

Die sowat 2 000 foto’s, verstaanbare en interessante teks maak die boek ’n ware aanwins vir almal wat meer wil leer oor insekte, hul waarde in die ekologie en waarom dit so belangrik is om insekte te bewaar. – Karien Labuschagne

 
 inspirasie, woorde

The Last Giants, Levison Wood, (Hodder & Stoughton, R360)

Olifante is een van my gunstelingdiere. Wood vertel ons meer van die majestueuse reuse van die wildernis. Hy bespreek onder meer die evolusionêre geskiedenis, die rol wat olifante in die ekologie speel en waarom ons hulle nodig het. Olifante is baie belangriker vir die planeet as om bloot ’n bron vir die voorsiening van ivoor vir klavierklawers te wees.

Vyftig jaar gelede was daar meer as 1,3 miljoen olifante in Afrika; teen 1990 het die getal gehalveer. Die diere is uiters intelligent met sterk familie- en groepsbande. Dis noodsaaklik vir jong olifante om in groepsverband op te groei sodat hulle van ouer en ervare olifante kan leer. Die sosiale bande en samewerking tussen individue maak die bewaring van olifante ’n ingewikkelde, maar nie onmoontlike taak nie.

Wood het al ses boeke oor bewaring geskryf. Vir dié boek het hy die migrasiepatrone van olifante in Botswana nagevors. Of jy nou ’n  natuurkenner of net ’n  natuurliefhebber is, lees die boek. Jy sal dit geniet en met nuwe oë na olifante kyk. Talle foto’s en sketse dra by tot die leesbaarheid van die boek. – Gert Venter

 
 inspirasie, woorde

Onverskrokke - Bewakers van die veld, Jan Roderigues, (Protea Boekhuis, R200)

Roderigues het met 14 voormalige en legendariese veldwagters van ’n verskeidenheid van die nasionale parke in Suid-Afrika gesels en hul ondervindinge oor talle jare opgeteken. Meer as 45 vertellings is in die bundel byeengebring. Daar is onder meer vertellings van dr. Tol Pienaar, Joep Le Riche, sy seun Elias en prof. Fritz Eloff.

Die verhale is boeiend en vertel van die opwindende, maar ook gevaarlike lewe van veldwagters. Party speel af in die beginjare van die parke toe perdekarre nog die enigste vervoermiddel was. Ons hoor van die poetse wat die “onverskrokke bewakers” op mekaar en hul kollegas bak en die wel en wee van hul gesinne tussen die wilde diere in die parke. Die skermutselings van die veldwagters met wilddiewe en deurlopers kom ook onder die kollig. Talle foto’s, onder meer ’n foto van ’n Mosambiekse banknoot wat in ’n beursie in een van die mensvreterleeus van Mhlangeni se maag gevind is, help om die stories lewendig te maak.

Roderigues is in 1983 as senior verslaggewer by die Nasionale Parkeraad aangestel en het later redakteur van hul interne publikasie geword. – Gert Venter.


 inspirasie, woorde

Skullduggery en Flying mammals, Chris en Mathilde Stuart (Struik Nature, R90)

Dié reeks natuurgidse is regtig nuttig, want dis kompak, klein en lig vir gerieflike saamdra wanneer jy in die veld stap. Skulduggery fokus op die skedels van soogdiere van suidelike en Oos-Afrika. Wanneer jy ’n skedel in die veld raakloop, sal die gids vir jou riglyne gee na die dinge waarna jy moet oplet. Watter tipe dier is dit, wat het hy gevreet en wat was sy gewoontes? Het jy geweet ’n skedel bestaan uit 34 bene? In die gids sien jy die verskillende vorms van die skedels, maar meer belangrik, die tande wat ’n groot aanduiding is van spesie omdat jy hieruit kan aflei wat die soogdiere eet.

En as jy nog altyd gegril het vir vlermuise sal jy in Flying mammals vinnig sien dat die soogdiertjies eintlik ongelooflik interessant is. Boonop weet wetenskaplikes steeds nie presies waar vlermuise inpas op die evolusieleer nie. Het jy geweet daar is meer as 1 400 verskillende soorte vlermuise? Om te lees hoe vlermuise hul 'radar' gebruik om te vlieg, is eenvoudig verstommend. As jy graag in grotte rondkruip, is die nuttige gids jou ideale pasmaat waarmee jy vlermuise kan identifiseer.

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.